Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 6
“Hulle het hom uitgestoot, toe die projek klaar was. Gesê hy moet sy pensioen vat. Ek dink nie dit is wat hy wou gehad het nie. Ek dink nie hy was reg daarvoor nie.”
Hy skud sy kop. Daar moet meer wees.
“Meneer Mpayipheli, ek weet nie waarom hy dit gedoen het nie. Na my ma se dood … Ek het by hom gebly, maar ek het my eie lewe, en ek dink hy het vereensaam. Wie weet wat in ’n ou man se kop aangaan wanneer hy elke dag by die huis sit en die wittes se koerante lees. Hy, wat so ’n groot rol in die Struggle gehad het en nou gemarginaliseer is. Hy, wat ’n speler was. Hy was gereken in Europa. Hy was iemand en nou is hy niks – miskien wou hy nog net één keer ’n speler wees. Ek was daarvan bewus dat hy bitter is. En moeg. Maar ek het nie gedink … Miskien is dit aandag soek? Ek weet nie. Ek weet net nie.”
“Die inligting. Hy het nooit gesê wat hom ontstel het nie?”
Sy skuif vir ’n oomblik in haar stoel, haar oë wat syne ontwyk. “Nee. Net gesê daar’s onheilige goed …”
“Hoe onheilig?”
“Baie.”
“En nou?” vra hy.
“Hulle het gebel. Ek dink uit Lusaka uit. Hulle het van die skywe, maar dit is nie wat hulle soek nie. Ek moes ’n ander skyf uit my pa se kluis haal.”
Hy kyk stip vir haar. Hier kom dit nou.
“Ek moet binne 72 uur ’n ander hardeskyf in Lusaka hê. Dit is al tyd wat hulle my wou gee.”
“Dit is nie baie tyd nie.”
“Nee.”
“Waarom dit hier sit en mors?”
“Ek wil jou vra om te help. Om die data te vat. Om my pa te red, want hulle gaan hom in elk geval doodmaak. En ek …” Sy trek die soom van haar lang, wye romp op. “… is ’n bietjie stadig,” sê sy. Hy sien die kunsbene, die metaal en hout. “En ondoeltreffend.”
* * * * *
Mazibuko staan onder die vlerk van die Falcon in sy kamoefleeruniform en die swart beret, sy oë op die twaalf wat wapenkiste inlaai. Sy voete is wyd geplant, sy hande agter die rug.
Agt-en-dertig maande wag hy vir dié oomblik. Meer as drie jaar vandat Mentz, dossier in die hand, hom as eenpip-luitenantjie by die Recces kom haal het.
“Jy’s ’n harde man, Mazibuko. Maar is jy hard genoeg?”
Fok, hy’t gesukkel om haar ernstig op te neem. ’n Vrou. ’n Wit vrou wat by die Recces instap en hiet en gebied met ’n sagte stem en ’n oormaat selfvertroue. En die vermoë om met sy kop te smokkel. “Is dit nie tyd om uit jou pa se skaduwee te beweeg nie?”
Mazibuko was al reg vir die ding na haar eerste vraag. Met die tweede wou Mentz wys sy kan tussen die dossier se amptelike woorde lees.
“Hoekom ek?” het hy in elk geval gevra op die vliegtuig Kaap toe.
Mentz het met daardie indringende oë na hom gekyk en gesê: “Jy weet, Mazibuko.”
Hy het stilgebly, maar het bly wonder. Was dit oor sy … talente? Of oor sy pa? Die antwoord het hy stelselmatig gevind in die stapel lêers (vier-en-veertig, om presies te wees) waaruit hy die vier-en-twintig lede van die Reaction Unit moes kies. Toe het hy begin raak sien wat Mentz skynbaar van meet af aan geweet het. Toe hy die verslae gelees het en die onderhoude gevoer het, in die kandidate se oë gekyk het en die meedoënloosheid gesien het. En die honger.
Die bande wat hulle bind.
Die selfhaat wat maar altyd daar was, het ’n vorm, ’n gestalte gekry.
“Ons is reg, kaptein,” sê Da Costa.
Mazibuko beweeg onder die vliegtuig se vlerk uit. “Klim op. Ons moet gaan werk.”
Hulle is reg, ja. So reg soos wat die byna drie jaar se slyp hulle kon kry, die vier maande om die span saam te stel, om hulle een vir een met die hand te gaan uitsoek. Keer op keer is die koring van die kaf geskei tot hy 24 oorgehad het, twee spanne van twaalf elk, sy perfekte syfer vir “my RU”, soos die direkteur besitlik na hulle verwys. Aar-Joe, die boggelrug se Engelse afkorting vir Reaction Unit. Toe het die skaafwerk in alle erns begin.
En nou trek hy die Condor se deur agter die helfte van die Dirty Double Dozen toe. Die Twenty-four Blackbirds, die Ama-kill-kill. En nog ander name wat hulle vir hulself uitgedink het in die 26 maande sedert die beste instrukteurs wat geld en diplomatieke welwillendheid kon koop hulle onder hande geneem en omvorm het, gedryf het tot uiterstes wat hulle liggaamlik en psigies nie veronderstel was om te kon deurstaan nie. Die helfte, want daar is twee spanne van twaalf elk, een altyd op bystand vir twee ononderbroke weke as span Alpha, die ander – span Bravo – besig om hul vaardighede te slyp. Dan word Alpha weer Bravo. Die lede wissel en skommel, maar hulle is ’n eenheid. ’n Eenheid. Die bande wat hulle bind. Die sweet en die bloed, die intensiteit van fisieke swaarkry. En daardie bykomende dimensie – daardie psigiese juk, daardie gemeenskaplike sielsiekte, daardie gedeelde vloek.
Hulle sit al, die gesigte wat met opgewonde verwagting na hom opkyk, met totale vertroue, met volkome bewondering.
“Tyd om te gaan gat skop,” sê hy.
Hulle brul.
4
Deur die kombuisvenster sien hulle die kind wat in die groentetuin staan. “Ek het nooit vir hom gesê mans gaan weg nie. Nou sal hy dit self leer,” sê sy.
“Ek kom terug.”
Sy skud net haar kop.
“Ek sweer, Miriam …”
“Moenie,” sê sy.
“Ek … dit is … ek skuld Johnny Kleintjes, Miriam, ek …”
Haar stem is sag, soos altyd wanneer sy driftig raak. “Onthou jy wat jy gesê het?”
“Ek onthou.”
“Wat het jy gesê, Tobela?”
“Ek het gesê ek is nie ’n wegloper nie.”
“En nou?”
“Dis net ’n dag of twee. Dan’s ek terug.”
Weer die skud van die kop, vol voorkennis.
“Ek kan nie anders nie.”
“Jy kan nie anders nie? Natuurlik kan jy anders. Jy kan ‘nee’ sê. Jy kan dat hulle hul eie moeilikheid regmaak. Jy skuld hulle niks.”
“Ek skuld vir Johnny Kleintjes.”
“Jy het vir my gesê jy kan nie meer daardie lewe lei nie. Jy het gesê jy’s klaar daarmee.”
Hy sug diep. Hy draai terug na haar toe, sy hande en sy stem pleitend. “Dit is waar. Ek het dit gesê. En ek het dit bedóél.