Proteus. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Proteus - Deon Meyer

Скачать книгу

Volgens die Strafproseswet moet hulle jou waarsku voor die polisie ’n opname van ’n ondervraging mag maak.

      M: Ha!

      W: Mnr. Mohammed, is daar iets wat jy vir my wil sê?

      M: Ek soek vrywaring.

      W: O?

      M: En die waarborg van vertroulikheid.

      W: Jy wil nie hê Pagad moet weet jy het gepraat nie?

      M: Ek is nie lid van Pagad nie.

      W: Is jy lid van Moslems Against Illegitimate Leaders?

      M: Illegal Leaders.

      W: Is jy lid van MAIL?

      M: Ek soek vrywaring.

      W: Is jy ’n lid van Qibla?

      [Onhoorbaar].

      W: Ek kan probeer om namens jou te onderhandel, mnr. Mohammed, maar daar is geen waarborge nie. Soos ek die ding verstaan, is die saak teen jou redelik waterdig. As jou inligting iets werd is, kan ek nie veel meer as my bes doen nie…

      M: Ek soek ’n waarborg.

      W: Dan groet ek maar, mnr. Mohammed. Sterkte met die hofsaak.

      M: Gee my net …

      W: Ek roep liewer die speurders.

      M: Wag …

      W: Totsiens, mnr. Mohammed.

      M: Inkululeko.

      W: Ekskuus?

      M: Inkululeko.

      W: Inkululeko?

      M: Hy bestaan.

      W: Ek weet nie waarvan jy praat nie.

      M: Waarom het jy dan weer kom sit?

Oktober

      2

      In die windlose Oktobermiddag van die Kaapse vroegsomer steek ’n jong man sy kop by ’n minibustaxi uit, wys met ’n spottende vinger na Tobela Mpayipheli en lag met breë wit tande vir hom.

      Hy weet waarom. Hy het homself al genoeg in die weerkaatsing van winkelvensters gesien – ’n groot swart man, lank en breed, op die klein Honda Benly, die 200 cc wat oneffektief maar manmoedig onder sy gewig prut, sy knieë feitlik teen die handvatsels, sy lang arms hoekig gebuig, die volgesig-valhelm oordadig.

      ’n Bietjie van ’n spektakel. ’n Visuele grap.

      In die eerste weke was hy selfbewus vir hoe hy daarop lyk, vir sy onbehendigheid. Hy moes leer om die ding te ry, elke oggend en elke middag, werk toe, huis toe in die spitsverkeer van die N2, onbeholpe en onseker, tot hy mettertyd die kuns order die knie gekry het, die taxi’s en bakkies en vier-by-viers en busse leer ontduik en vermy het, geleer het om die ruimtes tussen die voertuie te vul, om die beteuterde perdekrag tot sy voordeel aan te wend, tot die spottende wysvingers nie meer saak gemaak het nie.

      En later sy eie behae gevind het: Terwyl hulle gefrustreerd in die stilstaande verkeer vasgehok is, brom hy en sy Benly tussen hulle deur, in die lang klowe wat tussen rye motors oopmaak.

      Op pad na Guguletu. En Miriam Nzululwazi.

      En Pakamile, wat op die straathoek vir hom wag, wat daardie laaste dertig meter tot by die inrit saam met die motorfiets sal hardloop, woordeloos, sewejarige konsentrasie op sy grootoog gesig, ernstig, soos sy ma. Geduldig sal hy wag dat die grootmens die valhelm en klein werkstrommel afhaal, sy groot hand oor sy kop streel en sê: “Goeiemiddag, Pakamile.” Dan sal die kind volkome en oorweldigend glimlag en albei hande om hom slaan, ’n magiese oomblik in elke dag. Hy sal instap na Miriam wat reeds besig is met kosmaak of wasgoed was of skoonmaak. Die lang, sterk vrou sal hom soen en uitvra oor sy dag.

      Die kind sal geduldig wag dat hy klaar gesels en verklee, tot hy die towerwoorde spreek: “Kom ons gaan boer.”

      Hy en Pakamile sal uitstap in die agterplaas en die groei van die afgelope 24 uur gaan bestudeer en bespreek. Die suikermielies wat al koppe maak, die rankboontjies (“Lazy Housewife – is dit ’n skimp?” het Miriam gevra), die wortels, die skorsies en botterskorsies en waatlemoene wat in die bedding slinger. Hulle sal ’n eksperimentele wortel uittrek. “Nog te klein.” Pakamile sal dit later gaan afspoel en vir sy ma gaan wys en dit krakend en met smaak eet, net so rou en helderoranje. Hulle sal die insekte dophou, die blare inspekteer vir swamme en peste, hy sal die praatwerk doen en Pakamile sal ernstig knik en met sy groot oë die kennis indrink.

      “Die kind is versot op jou,” het sy al meer as een keer gesê.

      Hy weet. En hy is versot op hom. Op haar. Op húlle.

      Maar eers moet hy die hindernisloop van spitsverkeer navigeer, die kamikaze-taxi’s, die opdringerige vier-by-viers, die dieseldamp-busse, die dartelende Audi’s van die Yuppies wat tussen die bane glip sonder om in truspieëltjies te kyk, die gewonde, geroeste bakkies van die townships.

      Eers na die Pick ’n Pay in Pinelands om die swamdoder te gaan koop vir die botterskorsies.

      En dan huis toe.

      * * * * *

      Die direkteur glimlag. Janina Mentz het hom nog nooit sonder ’n glimlag gesien nie.

      “Watse soort moeilikheid?”

      “Johnny Kleintjes, meneer die direkteur, maar u moet maar self luister.” Sy plaas die skootrekenaar op die direkteur se lessenaar.

      “Sit, Janina.” Steeds die glimlag, innemend, hartlik, sy oë sag, soos vir ’n gunstelingkind. Hy is so klein, dink sy, klein vir ’n Zoeloe, klein vir so ’n groot verantwoordelikheid, maar onberispelik geklee, die wit hemp in skrille kontras met die donker vel, die donkergrys das ’n uitspraak in keurige smaak, op die een of ander manier net reg, en as hy só sit, is die boggeltjie, die klein misvorming van rug en nek, bykans onsigbaar. Sy manipuleer die loper op die rekenaar se skerm om die terugspeel te aktiveer.

      “Johnny Kleintjes,” sê die direkteur. “Die ou kalant.”

      Sy klik op die rekenaar se toetsbord. Die klank is blikkerig op die klein luidsprekertjies.

      “Is this Monica?” Aksentlose, donker stem.

      “Yes?”

      “Johnny Kleintjes’s daughter?”

      “Yes.”

      “Then I need you to listen very carefully. Your daddy’s in a spot of bother.”

      “What kind of ‘bother’?” Onmiddellike kommer.

      “Let’s just say he promised, but he couldn’t deliver.”

      “Who are you?”

      “That I am not going to tell you. But I do have a message for

Скачать книгу