Maryna se liefdeslied. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Maryna se liefdeslied - Schalkie van Wyk страница 6

Maryna se liefdeslied - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

het jou motorsleutels vergeet, haastige meisie,” praat Christiaan vlak langs haar, sy asem warm op haar nek en oor. Sy lippe raak vlindersag aan haar wang. “Tot siens, Maryna. Sien jou na Nuwejaarsdag.”

      Sy sluk, haar glimlag stram, neem die sleutels by hom en klim gou in haar motor. Sy skakel die enjin aan en ry weg sonder om om te kyk, bang dat hy die trane van hartseer in haar oë sal sien. Sy is veels te volwasse en intelligent om halsoorkop op ’n wildvreemde man verlief te raak, redeneer sy met haarself, maar sy en Christiaan het ’n besonderse vriendskap. Dis waarom sy nou huil: sy hou so baie van hom dat sy vir altyd by hom wil wees.

      Maryna bring haar motor in die skadu van ’n kareeboom langs haar ouerhuis tot stilstand, skakel die enjin af en kyk waarskuwend na Leonie Redelinghuys. “Onthou nou, Leonie: ons het op die plaas Doringlaagte by oom Giepie en tant Soekie Joubert oornag nadat my motor se waaier­band gebreek het. Oom Giepie is lank en maer en bles, en hy het bruin oë, en tant Soekie se hare is spierwit en sy het blou oë. Hulle plasie is nie groot nie en hulle het ’n paar melkkoeie en skape en …”

      “Ja, ja, ek weet al: en bokke en hoenders en kalkoene en …” val Leonie haar in die rede. “Genade, Maryna, dit het gereën toe die gawe oom Giepie ons in sy bakkie opgelaai het en vanoggend het ons nie tyd gehad om na sy boerdery te kyk nie. Ons is ’n bietjie laat omdat die motor­werktuigkundige moes sukkel om ’n nuwe waaierband vir jou Sonneblom te kry. Mag ek nou asseblief uitklim?”

      “Nie kalkoene nie,” verwyt Maryna met oordrewe bitterheid. “En moenie in my ma se oë kyk wanneer jy met haar praat nie: jy knip jou oë altyd vinniger as gewoonlik wanneer jy jok.”

      “Ek weet,” sê Leonie afgehaal. “Terwyl jy jou ma se nuuskierige vrae beantwoord, gaan ek my tasse na jou kamer sleep en vinnig stort en verklee. Ek voel vuil en verkreukel. Ek hoop jou suinige ouers koop vir jou ’n nuwe motor met lugreëling, want ons is darem nou professionele verpleegkundiges.”

      “Professionele vroue wat bang is vir my ma?” spot Maryna en maak haar motordeur oop.

      “Ek is net diplomaties. Jou liewe ma het beloof om vandag spesiaal tuis te bly en op jou terugkeer te wag, pleks van haar belangrike werk in die hof te gaan doen. Ek wed sy kan nie wag om haar dogter geluk te wens nie.” Leonie sluit sugtend by Maryna by die oop kattebak van die motor aan. “Ek het my oumagrootjie Saartjie se bloedrooi hare en goudgeel oë geërf, daarom gee my ma voor ek is haar stiefdogter. My broers het, let wel, elkeen ’n motor gekry toe hulle mondig geword het net omdat hulle blond en aantreklik soos sy is.”

      Maryna laat val ’n tas op Leonie se voet, ignoreer haar gemompelde verwensings en vra gekweld: “Waar is my ma? Sy kom altyd onmiddellik uit om my te groet, want Sonneblom brul mos soos ’n trekker.”

      “Ek dink jy het minstens ses beentjies in my voet gebreek,” verwyt Leonie, staan op een been en vryf haar beseerde voet.

      “Aag, hou op kerm, Leonie. Dit was jou klein tassie. Dalk is my ma siek. Ek gaan gou kyk waar sy is,” antwoord Maryna en draf om die hoek van die huis.

      “Mamma! Ek is terug, Mamma,” roep sy, loer by die sitkamer in en loop in die gang af na haar ma se studeerkamer toe.

      “In die kombuis,” roep Sandra Fourie se stem geïrriteerd aan die onderpunt van die gang.

      “Hoekom klink Mamma vies? Is dit nou my skuld dat my ou rammelkas se waaierband gebreek het?” vra Maryna toe sy by Sandra in die ontbythoekie van die kombuis aansluit.

      “Hallo, my pop,” groet Sandra gejaagd, soen Maryna op die wang en gee haar ’n drukkie. “Ons het jou en Leonie ure gelede al verwag. Gerrie het beloof om jou motortjie deeglik te versien as jy vroeg genoeg tuis is, maar nou sal dit tot later moet wag. Waar is Leonie? Jy het haar nie dalk by haar ouerhuis gaan aflaai en alleen huis toe gekom nie?”

      Sy haat dit as haar ma haar “pop” noem, en haar ma weet dit. As haar ma vies is omdat die simpel waaierband gebreek het, kan sy gerus maar befoeterd wees, dink Maryna wrokkig en antwoord gekrenk: “Goeiste, Mamma, ek het vier lange jare van swot en werk agter my rug om as ’n verpleegsuster te kwalifiseer, maar Mamma wens my nie eens geluk nie. Ek het nie ’n blaasorkes of kanonne en ballonne verwag nie, maar Mamma kan ’n bietjie blyer lyk om my weer te sien. My motor is piekfyn, want ek het dit klaar laat versien. En, ja, Leonie het saam met my gekom, maar sy het haar tasse na my slaapkamer toe gedra. Ek hoop Mamma is gawer met haar.”

      Sandra Fourie glimlag skuldig, sit haar arm om Maryna se skouers en gee haar ’n verskonende drukkie. “Ek is jammer, my kleinstetjie. Ek en jou pa is vanselfsprekend baie trots op jou – en op Leonie. Ek is net in ’n aaklige bui. Jou oupa Leander Fourie se jongste manewales maak van my en jou pa senuweeorrels.”

      “Hoekom? Ek ken my oupa Leander dan nie eens nie. Hoe weet Mamma miskien hy haal manewales uit?” vra Maryna. “En wat maak dit in elk geval saak? Oupa Leander wil ons mos nie ken nie,” vervolg sy, ineens smoor­kwaad dat haar onbekende oupa haar tuiskoms bederf het.

      “Ek sal verduidelik, Marynatjie, maar jy en Leonie is seker flou van die honger. Daar is hoenderslaai en vars broodrolletjies, en ander koue vleis in die yskas. Of wil julle eers tee drink?”

      “Nee, dankie, Mamma. Leonie se ma het vir ons ’n piekniekmandjie ingepak. Maar wat nou van oupa Lean­der? Ek weet hy is ’n skelm ou sakeman. Het hy geld verduister? Sit hy in die tronk?” vra Maryna agterdogtig, ontsteld oor Sandra se opsigtelike spanning.

      “Gelukkig nie, maar …” Sandra betrag Maryna onseker en sê ineens vinnig: “Kom, ons moet jou vuil klere so gou moontlik was en stryk, want ons moet voor vieruur Durban toe vertrek.”

      “Durban toe?” herhaal Maryna, haar stem skril van verbasing en ongeloof. “Het Mamma vergeet van my en Leonie se planne om die vakansie saam met haar ouers in hulle strandhuis op Jeffreysbaai deur te bring? Al my klere is skoon en ek moet net ’n paar ekstra bloesies en kortbroeke in ’n tas gooi. Ek en Leonie is van plan om môreoggend teen dagbreek Jeffreysbaai toe te ry.”

      Sandra sak op die naaste stoel in die ontbythoekie neer asof haar bene skielik onder haar padgegee het. “Asseblief, Marynatjie, moenie my verkwalik nie. Ek is radeloos. Jou oupa Leander is veronderstel om ’n waardige man van sewentig te wees, maar tree skielik soos ’n stuitige skoolseun op.”

      “Oupa Leander weet nie hoe om stuitig te wees nie. Selfs ouma Le Grange sê gereeld: ‘Die ou man dink hy is die koning se hond se oom’. Ek dink hy is ’n aaklige ou man, en ek wil hom nie ken nie. Hoe kan hy ná al die jare nog kwaad wees omdat Pappa nie ’n sakeman wou wees nie?”

      “Jou oupa Leander is nie werklik so ’n aaklige mens nie, my kindlief. Goed, hy ignoreer my en jou pa, maar op jou verjaarsdag bank hy gereeld ’n aansienlike bedrag geld in die bankrekening wat my pa met jou geboorte vir jou geopen het. En hy en my pa speel dikwels saam gholf. Ek vermoed jou oupa Leander sal graag met ons almal vriende wil wees, maar dis sý, die ou heks, wat agter die vervreemding tussen ons en jou oupa sit. My ma het my destyds vertel die ou draak het jou pa verbied om met my te trou, maar …” Sandra breek haar sin af toe sy besef dat Maryna haar oopmond aanstaar. “Moenie jou aan my tirade steur nie, my liewe kind. Dis die spanning …ek rafel uit.”

      “Hoekom rafel tannie uit?” vra Leonie nuuskierig, dartel met verrassende energie die ontbythoekie binne en druk ’n klapsoen op Sandra se wang. “Hallo, tannie. Ek en Maryna kan nie wag om saam vakansie te hou nie. Ons het dit só geniet om op oom Giepie en tant Soekie se plaas te kuier, want daar was honderde skape en osse en koeie en kalwers en eende en hoenders en ganse en kalkoene en …e …honde en katte en …”

Скачать книгу