Maryna se liefdeslied. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Maryna se liefdeslied - Schalkie van Wyk страница 7
“O …” sê Leonie afgehaal, skuifel sydelings totdat sy langs Maryna staan, en fluister sissend: “Drink jou ma skelm? Drank kan ’n mens geheueverlies gee.”
“Moenie simpel wees nie, Leonie,” antwoord Maryna boos. “Het jy my ma al ooit dronk gesien wanneer jy naweke en vakansies by ons kuier?”
“Moenie ’n pasiënt in haar gesig bespreek nie,” fluister Leonie teregwysend.
“Ek gaan huil, want ek het nie die energie om te lag nie,” sê Sandra en betrag die twee meisies verslae. “Leonie, jy sal ook nooit leer om te fluister nie. Jy praat met ’n hees gansstemmetjie, wat weerklink, en verbeel jou dan jy fluister. En jy, Maryna, kan nou ophou dokter-dokter speel en eerder na my luister. Asseblief, julle twee.”
“Goed, tannie Sandra. Ek is jammer ek het gedink tannie is ’n skelm drinker,” antwoord Leonie bedees.
“Ek sal net luister omdat ek goeie maniere het, maar eintlik wil ek niks van my oupa Leander Fourie weet nie,” sê Maryna bot.
“Jy is lief vir jou pa, Maryna, en jy kan jou indink hoe Pappa oor oupa Leander voel. Jou pa was twaalf of dertien jaar oud toe jou ouma Fourie dood is, en gevolglik was daar ’n hegte band tussen jou pa en jou oupa. My ouers vertel ons gereeld hoe dit met oupa Leander gaan en waarmee hy hom sedert sy aftrede besig hou. My ma het gisteraand gebel en ons vertel van oupa Leander se kuiertjie in ’n Durbanse hotel,” vertel Sandra.
“Gaaf. Hy kuier in Durban en ek en Leonie gaan Jeffreysbaai toe,” sê Maryna dikmond.
“Dis nie so eenvoudig nie, kindjie. Sý kuier saam met hom daar. Sy het haar man nouliks ses maande gelede begrawe, maar lê aldag en heeldag saam met jou oupa Leander op die strand rond,” kom dit verontwaardig van Sandra.
Leonie giggel senuweeagtig. “My ouma lyk nes ’n gekreukelde laken in haar baaiklere, maar sy swem darem net in ons swembad wanneer my pa en my broers nie tuis is nie.”
“Sjuut, Leonie. Jou ouma is drie-en-tagtig. Hoe oud is die ou heks, Mamma?” vra Maryna belangstellend.
“My ma sê sy was onlangs sestig, maar sy het nog ’n mooi figuur en haar vel en hare is goed versorg. Goeie genade …oor sestien jaar is ek sestig. Ek dink nog altyd aan die ou draak as ’n stokou vrou, maar as ’n mens in jou twintigs is, is almal vir jou stokoud. In elk geval, jou pa is bekommerd oor jou oupa Leander.”
“Hoekom? As ’n stokou oom van sewentig saam met ’n stokou tannie van sestig wil vakansie hou, mag hulle seker maar?” kom dit belangeloos van Maryna.
Sandra sug ergerlik. “Nie in hierdie geval nie. Dié vrou maak jag op jou oupa Leander vandat sy ’n twaalfjarige dogter was, en sy was so byna die oorsaak dat jou oupa sy verlowing aan jou oorlede ouma Fourie verbreek het. Jou oupa het nooit in haar belang gestel nie, maar nou hou hy saam met haar vakansie. Dis wat jou pa so bitterlik ontstel. Ly jou oupa moontlik aan seniele dementia? Alzheimer se siekte word ook deesdae so dikwels bespreek …Dalk toon jou oupa vroeë simptome van die siekte en het hy spesiale sorg nodig.”
Leonie knik haar kop alwetend en sê in ’n gesaghebbende stemtoon: “Die simptome van Alzheimer se siekte is die agteruitgang van die brein wat gekenmerk word deur aantasting van die spraak en geheueverlies. Ek en Maryna weet alles van alzheimers af, tannie Sandra.”
“Sjoe …Ek kan dit nie glo nie. My ouers – my bloedeie ouers – wil my Durban toe stuur om my seniele oupa op te pas nadat ek vier jaar lank bloed gesweet het om ’n verpleegsuster te word. Ek weier volstrek, Mamma, en ek is tot in my …e …diepste wese teleurgesteld in my selfsugtige ouers. As my oupa versorging nodig het, laat die ou heks dit doen,” vaar Maryna uit.
“Maryna, asseblief …! Jy hoef nie weke in Durban deur te bring nie. Ek het vir jou ’n suite bespreek in die hotel waar jou oupa tuisgaan. Ek twyfel of hy jou sal herken, want my ma sê sy het lanklaas vir hom ’n foto van jou gewys. Jy hoef nie direk met hom te praat nie, maar hou hom en die ou heks dop en probeer om hulle gesprekke af te luister. Dalk kan jy met hom ’n geselsie aanknoop wanneer die ou heks nie by hom is nie, net om agter te kom of hy normaal klink.”
“Mamma bedoel ek moet op my eie oupa spioeneer?” vra Maryna oorbluf.
“Jy is gelukkig,” kom dit afgunstig van Leonie. “Verblyf in ’n duur hotel en hope sakgeld, amper soos ’n Russiese spioen. Ek wens ek was jy.”
“Leonie, vergeet nou van die Russe,” versoek Sandra met ’n suggie en wend haar pleitend tot Maryna. “Marynatjie, doen dit ter wille van jou pa se gemoedsrus. As jou oupa normaal optree, sal ons almal gewoonweg kan voortgaan met die lewe. Ek wil net verhoed dat ’n hulpelose, seniele man in die kloue van ’n gewetenlose heks beland.”
“As dit werklik so belangrik is vir Pappa …” Maryna sug oordrewe om haar ma bewus te maak van haar opoffering. “Ek sal dit ter wille van Pappa doen, maar wat van Leonie? Gaan sy saam met my?”
Sandra merk die hoopvolle uitdrukking op Leonie se gesig en sê verskonend: “As jy nie te gretig is om Jeffreysbaai toe te gaan nie, Leonie …Jy kan saam met my en Maryna Durban toe ry en …”
“Mamma! Ek is oud genoeg om alleen helder oordag Durban toe te ry,” maak Maryna onthuts kapsie.
“Dis jou pa se opdrag, kindjie. Ek kon jou met my motor Durban toe geneem en daar vir jou ’n motor gehuur het, andersins ry ek en Leonie saam met jou en vlieg ons van Durban af terug Johannesburg toe.” Sandra lyk verleë: “Om die waarheid te sê het ek klaar vir my en Leonie kaartjies vir die laatnagvlug Johannesburg toe bespreek, want ek het sommer geweet jy sal met jou eie motor wil ry. Kom jy saam met ons, Leonie?” vra Sandra hoopvol.
“Ek kan nie wag nie, tannie Sandra. My broers sal groen wees van jaloesie, want ek is die eerste Redelinghuys wat in ’n vliegtuig gaan vlieg,” jubel Leonie en voer ’n paar spontane danspassies uit.
“Jy praat altyd asof julle Redelinghuyse brandarm is, maar jou pa het ’n yslike winkel en ’n slaghuis. Ek wed hy rol in die geld,” sê Maryna knorrig, vies omdat Leonie so gretig is om Sandra se aanbod te aanvaar.
“En hy het drie kinders op universiteit – wel, nou net twee. My pa karwei my in sy motor rond. Daar is nie geld vir vliegkaartjies nie,” antwoord Leonie en glimlag weer stralend toe sy na Sandra kyk. “Baie dankie, tannie. Wanneer ry ons?”
Sandra blik vraend na Maryna wat na die muurhorlosie kyk. “Oor ’n halfuur. Ek gaan vinnig stort en vir my ekstra klere vir die strand inpak. Ek hoop net ek kan my gemene oupa Leander Fourie herken.”
“Jy sal. Hy is ’n ouer weergawe van jou pa. En jy kan altyd by die ontvangstoonbank navraag doen,” sê Sandra gerusstellend, staan op en gee Maryna ’n waarderende drukkie. “Dankie, my kindlief. Jy behoort binne ’n paar dae te weet wat jou oupa se toestand is en dan kan jy en Leonie tot na Nuwejaar vakansie hou. Ek en jou pa sal vir julle ekstra sakgeld sorg.”
“Dankie, Mamma, maar wat nou van die heks? Wie is sy? Hoe lyk sy?”
“Dis wat ek ook die hele tyd wonder,” sê Leonie en staan nader aan Sandra.
“Ek is jammer, Maryna,