Ridder in 'n wit jas. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom страница 3

Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom

Скачать книгу

Dan klik sy haar tong en maak die deur oop. Sy is doodmoeg en bevrore.

      Binne loer sy nuuskierig rond. Die huis is oud en skemerig, maar gesellig. Al druppend stap sy verby ’n spens en waskamer tot in ’n ruim leefarea. ’n Kombuis, eet­kamer en woonkamer alles in een. ’n Geelhouttafel glim in die lig van ’n staanlamp. Sy loer verlangend na die rusbank voor die knetterende vuurtjie. Stap dan maar roep-roep gangaf.

      Grafstil. Nog ’n gaasdeur. Dié is ook nie gesluit nie en maak oop op ’n lang stoep. Die rooi politoer kielie haar neusgate sodat sy onvroulik nies.

      “Verskoon my,” sê sy hardop. Niemand antwoord nie. Die enigste teken van lewe is ’n oopgevoude slapbandboek op ’n rottangstoel. Op die voorblad glinster ’n sinistere skalpel, kompleet met ’n straaltjie bloed.

      Jig, is dit die baas van die plaas se idee van ontspanningslektuur? En waar de hel is hy? Alet, die agent wat haar aanstelling gehanteer het, het gesê hy boer deeltyds met skape en . . . nog iets. Daai swart-en-wit melkkoeie as sy reg onthou.

      ’n Beweging by die klipskuur trek haar aandag. ’n Tengerige figuur in ’n helderblou oorpak kom by die deur uit, laag gebuk teen die gietende reën.

      “Haai!” roep Carli. “Hallooo!” Het hy haar gehoor? Jip, hy raak aan sy pet en wink haar nader. Agge nee! Wil hy sowaar hê sy moet wéér deur die reën hardloop?

      “Ek soek na dokter Greyling!” brul sy. Die werker knik oordrewe en beduie na die skuur. Carli rol haar oë en trek haar broekspype op. Sy ril toe sy op die grasperk trap. Hier lê die koue water so diep dat dit haar skoensole vassuig en opnuut oor haar tone stroom.

      “Middag, juffrou.” Die werker hou die houtdeur wyer oop. “Dokter is hierso binnekant.”

      “Dankie.” In die skuiling van die skuur steek sy vas. Sy vee haar nat voorkop met ’n nat mou af. Water drup in haar oë. Vies wring sy haar hare uit: eers haar toutjieskuif, toe haar poniestert. Ai, dat sy nou só hier moet aankom. Sy wou so graag ’n goeie eerste indruk maak.

      “Jantjie?” ’n Ryk sjokoladestem klink op uit die skemerte. ’n Onverwagte straaltjie warmte biggel langs haar bevrore ruggraat af. “Kry vir ons gas ’n handdoek, seblief. ’n Lekker grote. Sy’s omtrent nat.”

      “Sekerlik, dokter.” Jantjie skuur by haar verby en Carli loer in die rigting van die stem.

      Eers sien sy niks, dan pas haar oë geleidelik aan by die swak lig. Sy maak die vae buitelyne uit van . . . wow! Die grootste, swartste perd wat sy in haar dag des lewens aanskou het. Sy druk haar hand teen haar bors en staar na die pragdier.

      “Staan nader, juffrou. Ek praat nie graag met mense wat ek nie behoorlik kan sien nie.” Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie ongeduld in die mooi stem? Voor sy kan antwoord, bevestig hy haar vermoede: “Toe, ek kan nie nou hier los nie.”

      Carli wil-wil haar vererg, maar haar voete gehoorsaam ewe pateties die kortaf bevel en steek eers digby die reuse­perd se agterpote vas.

      “Kom maar. Sultan is ’n befoeterde dierasie, maar hy kan nie nou skop nie.”

      Carli laat gly nietemin in die verbyloop haar voorarm oor die perd se agterlyf. Tweede natuur, dié gewoonte om ’n perd bewus te maak van haar teenwoordigheid sodat hy nie van skrik skop nie. Sy het as tiener omtrent in die stalle geleef. Dan sien sy die man in die hoek, en haar hand vlieg vir die tweede maal in soveel minute na haar skielik fladderende hart. Die eienaar van die Stem staan vooroor gebuk. Een van Sultan se hoewe – so groot soos ’n tafelbord – is tussen sy knieë vasgeknyp. ’n Verbleikte denim ry laag om sy heupe, met ’n leervoorskoot bo-oor vasgebind. Sy lang, brons bolyf is kaal. Dun straaltjies vloei blink daarteen af. Sweet? Reën?

      Waarskynlik ’n kombinasie.

      Sy moet wegkyk, en vinnig ook. Ordentlike meisies staar nie só na mans nie, veral nie natgeswete, halfnaaktes nie. Haar oë bly vasgeplak, raak net nie uitgekyk nie.

      “En as jy my nou só staan en kyk?” Hy kantel sy gesig na haar op. Die kaal gloeilamp wat van die dak swaai, laat sy oë soos oniks skitter. Sy donker hare versmelt teen die perd se flank. “Nog nooit gesien hoe iemand ’n perd beslaan nie?”

      Sy hap na woorde. Tevergeefs. Genadiglik praat hy verder voor die stilte ondraaglik word.

      “Eben Greyling.” Hy flits vir haar ’n glimlag wat sy ganse gelaat verhelder. Ten spyte van al die botteltjies mineraal­water wat sy leeg gedrink het, wat nou pynlik dringend moet uit, is haar mond kurkdroog.

      “Gee my ’n minuut,” sê hy, “dis die laaste hoef.” Met geoefende hande vis hy ’n paar spykers uit die voor­skootsak en knyp hulle tussen sy lippe vas. Weer glimlag hy vir haar, dié keer ’n dunlip-gryns wat drup van macho selfvertroue. Dankie tog die spykers is nie in háár mond nie. Sy sou sweerlik ’n paar ingesluk het.

      “Ahem,” maak Jantjie langs haar keel skoon. “Die juffrou se handdoek.”

      “O, dankie.” Die handdoek is grof gewas en verbleik, maar dit ruik skoon, die ene son en suurlemoene. Sy druk aan haar hare. Steel nog ’n onderlangse kykie terwyl sy so koponderstebo staan.

      Woep-woep-woep, kap hy die spykers met seker hale in. Toe die hoefyster vas is, draai hy die perd se been om sy handewerk te beoordeel. Skynbaar tevrede klop hy die dier op die nek.

      “So ja, Sultan, hou in vadersnaam hierdie stel aan. Hoef­olie, seblief, Jantjie, dan kan hy stal toe.”

      Hy kom orent met die grasie van ’n oerwoudkat. Carli sluk moeisaam toe sy welgevormde arms dakwaarts strek. As hy om vadersnaam net sy hemp wil aantrek . . . Hy vou een hand agter sy rug en pluk aan die leervoorskoot se band. Die knoop wil nie loskom nie.

      “Ag, help gou, seblief.” Sonder meer swaai hy om en bied sy rugkant vir Carli.

      Haar hart word belaglik lig, ’n heliumballon wat wil wegdryf. Moet sý die voorskoot losmaak? Hoe, nogal, sonder om aan daardie sexy jeanverpakte agterwêreld te raak? Of aan sy bruingebrande vel?

      Sy knyp die knoop tussen haar naels vas. Haar vingers is so dom dat geen mens sou glo sy was heel vaardig tydens chirurgie-rotasies nie. Miskien omdat hy soveel liggaams­hitte uitstraal? Sweerlik meer as die normale sewe-en-dertig grade? Hopelik begin haar vingerpunte nie sis nie.

      Hy roer sy skouers sodat sy rugspiere rimpel. Jimmel, hy sou model kon speel vir Grey’s Anatomy. Die teksboek én die TV-reeks. Hy sal McDreamy en McSteamy doodgewoon laat lyk.

      “Vat vás die knoop, juffrou. Sultan is die een wat byt, nie ek nie.”

      Hoor jy, Carli? Get a grip. Letterlik én figuurlik. Hoeveel van jou varkies het langs die pad uitgespring om in die modderpoele te rol?

      Sy wikkel haar vingers om die bloedsirkulasie te herstel. Hy’s haar báás. Sy’s hier om te werk, nie om die jeans van sy sitvlak af te kyk nie.

      Eindelik gee die knoop mee. Sy trek die leervoorskoot af, versigtig om die geringste velkontak te vermy.

      “Thanks.” Hy hang dit teen ’n muurspyker op. “Wees ’n engel en deel jou handdoek, toe. Ek’s sopnat gespook met daai perd.”

      Haar maag slaan lui bollemakiesie. Wil hy daardie spier­paleis afdroog met die handdoek wat sy pas gebruik het? Iets omtrent die idee is so intiem dat haar

Скачать книгу