Ridder in 'n wit jas. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom страница 5

Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom

Скачать книгу

Nie eens veel vir die oog nie, skaars twee hande vol. En van wanneer af is die natge­reënde eendjie langs die dam ’n turn-on? Buitendien kan sy nie bly nie. Hoe vinniger sy in haar kar klim en . . .

      Hy klap ’n oop hand teen sy voorkop. “Hoe de hel het jy hier gekom?”

      Sy skrik so dat sy koffie mors. “Ek het mos gesê. Met my kar?” Haar stemtoon klim sodat dit meer soos ’n vraag as ’n antwoord klink.

      Hy weet hy klink soos ’n boelie. Maar magtag . . . dat hier nou ’n vroumens moet opdaag. Nie sommer enige vroumens nie, enetjie wat lyk of die suidooster haar sal wegwaai. Wat met sy kop smokkel asof hy ’n testosteroon-bedonnerde tiener is. Hy vee hard oor sy oë om die fantasie te verjaag wat pla vandat hulle binnegekom het. Hulle twee op die rusbank, sy hande tydsaam besig om die nat klere van haar lyf te skil. Om na haar te kyk – orals te kyk – in die lig van die vlamme . . .

      Sy kyk na hom asof sy vir iets wag. Hel, ja, haar kar. Verdomde onverantwoordelike meisiemens. Hy gee haar sy beste dik-de-bliksem-in-staar, maar pleks van jammer lyk, wip sy haar stert.

      Haar hande vlieg na haar skraal heupies. “Hoe anders sou ek miskien van Pretoria tot hier gekom het? Die Gautrein loop nie hierlangs nie.”

      Die vonke wat uit haar oë spat, laat hom wonder. Sou sy so vurig wees wanneer . . .? Hy kners op sy tande tot sy kake­been pyn. Not. Going. There. “En waar’s jou kar nou?” Hy haak sy duime in sy jeans en staan dreigend nader.

      Sy antwoord nie, ruk net haar kop agterdeur se kant toe. Asof sy nie haar asem gaan mors op so ’n idiotiese vraag nie. Fine, dan kyk hy self. Dalk het sy ’n four-by-four en is sy nogal ’n goeie bestuurder. Maar nee, dis ’n babablou Fiat 500. Windskeef op die grasperk geparkeer, dun bande vaal van die modder. Of course! Hierdie girl sál ’n hot hatch bestuur. Pappie het dit seker gekoop toe sy graad vang. Is daar ’n kar op die pad wat harder “spoilt brat” skreeu?

      “Het jy met dié Barbie-kar op die modderige grondpad gery?” Hy swaai om, bots teen haar vas. Moet haar elmboë weer gryp om haar regop te hou. “Hoekom bekruip jy mens so? Jy was laas in die kombuis.”

      Voor hy kan keer, vou sy vingers stywer om haar boarms, sy hande op ’n heel ander missie as sy humeur. Sy ruk los sodat hy met die handdoek bly staan.

      “Gee terug.”

      Hy stop dit in haar hande. Hou sy eie palms verskonend op. Sjeesh, hy’t net gekeer dat sy nie op die vloer beland nie. Wat dink sy? Dat hy desperate trieks uithaal om weer haar bates te sien? Oukei, miskien hét hy geloer. Net vinnig. Haar top het verbasend gou droog geword, maar daardie parmantige puntjies . . .

      Daar gaan hy al weer. Fokus, Greyling! Dié is jou ergste nagmerrie. ’n Vroumens op jou plaas, een sonder ’n druppel common sense.

      “Asse-flippen-blief, sê my jy’t die verstand gehad om iemand te laat weet toe jy van die N1 af draai? Sodat ek jou kon gaan soek as jy vasgeval het? Of jou Italiaanse vuurhou­tjieboks op wiele omgegooi het?”

      “My verstand makeer niks.”

      “Ek vra: Het jy iemand laat weet?”

      Sy stoot haar onderlip soos ’n stout kind uit. “Nee, ek het nie. Hoe moes ek weet daar’s nie selfoonopvangs op die simpel grondpad nie?”

      “Jy sou geweet het as jy môre eers gery het. Ek sou vanaand vir jou ’n e-pos met instruksies gestuur het.”

      “Ek’s so jammer ek het nie gewag vir jou instruksies nie, dokter.” Parmantige pes, sy klink allesbehalwe jammer.

      “Ek weet wragtag nie wat my die meeste verstom nie, jou dêm roekeloosheid of die feit dat jy niks oorgekom het nie. Die Karoo is g’n plek vir impulsiewe, onverantwoordelike vroumense nie. Dis hoekom ek gesê het ek soek ’n man.”

      “Verskoon my.” Haar oë lyk nes die Arktiese Oseaan. Blou­groen, koud, en met gevaarlike ysberge onder die oppervlak. “Diskrimineer jy miskien teen my? Op grond van my geslag? Jy besef dis ongrondwetlik, nè?”

      “Ongrondwetlik se gat! Ek gaan nie verantwoordelikheid vir jou vat nie, dis te onveilig. Hoor julle nie in die stad van plaasaanvalle nie?”

      Sy loop tot reg voor hom en druk ’n vinger in sy ribbes. “Hoor júlle op die platteland nie van hijackings en huisrowe nie? Die stad is ook gevaarlik. Buitendien het niemand jou gevra om my op te pas nie.”

      Haar oë rek toe sy vingers om hare toeklap.

      “In die stad is jy nie my probleem nie, Blondie. Maar solank jy op my plaas is . . .” Sy keelspiere trek saam. “Is ék die een wat jou familie moet bel as jy iets oorkom.”

      “Niemand noem my Blondie nie! En ek het nie familie nie.” Haar stem is dapper, maar sy byt haar onderlip. Hy moet net keer of hy kry haar jammer.

      Gelukkig sien hy betyds hoe die ratte in haar kop draai en haar vroulike intuïsie intree.

      “Ek wil bitter graag hierdie werk hê,” praat sy mooi. “Jou reisende kliniek klink soos ’n uitdaging. En ek wil op ’n Karooplaas bly.” Sy kyk ver by die venster uit. Die reën het opgehou, sien hy. “Dis lieflik hier. Die rustigheid, die stilte.”

      Hy’s sommer weer kwaad. “Huh! Nog ’n naïewe stadsjapie wat die Karoo romantiseer. Dis eensame wêreld, ’n sosiale vlinder soos jy sal nooit hier aard nie. Net ’n maand of twee, dan soek jy die stadsliggies en sit ek sonder hulp.”

      “Ek sweer ek sal bly, die volle jaar lank. Al moet ek ook verander van ’n sosiale vlinder in ’n . . . ’n renoster soos jy.”

      “Renosters voel vere vir beledigings. Ons velle is dik.”

      Haar mond vertrek en hy wonder of sy gaan glimlag. Maar nee, haar oë is so ysig soos vroeër.

      Meteens het hy ’n brainwave. “Jy weet die kothuis het nie elektrisiteit nie, nè?”

      “Jy speel seker.”

      Kolskoot! Hoekom het hy nie lankal daaraan gedink nie?

      Maar sy’t ’n antwoord vir als, hierdie Cloete. “Dan stel ek voor jy lê krag aan. Sommer dadelik.”

      “Hoekom sou ek dit doen?”

      “O, omdat dit soveel goedkoper sal wees as die regskoste. Vir onregverdige afdanking op grond van geslag. Het ek jou gesê my beste pêl is ’n prokureur? ’n Gáy prokureur met ’n passie vir seksuele diskriminasie?”

      Eerste rondte, Cloete. Miskien is sy minder naïef as wat sy lyk.

      “Ek was in elk geval van plan om binnekort krag aan te lê.”

      Nou glimlag sy ongetwyfeld. Nogal ’n cute glimlag, ook.

      “Vir Carolus,” terg hy, “nie vir jou nie.”

      Haar hande klem om die rugkant van ’n houtstoel. Ook maar goed haar armspiere is so effens, anders het sy hom dalk oor die kop gemoker.

      “Maar dit gaan tyd neem,” praat hy gou verder. “Hoe sal jy intussen regkom? Waar gaan jy jou hare droogblaas en . . . als doen waarvoor ’n prinses soos jy elektrisiteit nodig het?”

      “Ek’s

Скачать книгу