Ridder in 'n wit jas. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom страница 6

Ridder in 'n wit jas - Amelia Strydom

Скачать книгу

Dalk worry sy meer oor haar ego as haar veiligheid. As bangmaakstories nie werk nie, doen seksisme dalk die ding.

      “Ek het oë in my kop. Ek ken ’n bedorwe brokkie wanneer ek een sien.” Hy tik op haar koue vingers. “Kyk net. Spierwitte handjies wat jy nie sal wil vuil­maak nie. Plastiek­naels wat ’n plaas se prys kos. Dit is die verkeerde pos vir jou, dokter Barbie. Popsies verlep in die Karooson.”

      “O, ek kan jou . . .” Sy suig ’n asem in en bal haar vuiste.

      “Wat?” vra hy, kastig onskuldig. “Te lyf gaan? Kan net pret wees.” Hy wikkel sy wenkbroue suggestief. “I like it rough, Blondie.”

      “Aargh!” Haar gesig word tamatierooi. Hy kan hoor hoe sy op haar tande kners. Sy plant haar hande op haar heupe en haar plastieknaels vang die lig. Eintlik lyk dit mooi. Net gevaarlik lank. Kantig en seker skerp, ook. Hy staan ’n tree agteruit. Hy hou van sy oë waar hulle is.

      Sy draai om en grawe in haar handsak. Pluk iets swarts uit wat sy dreigend ophou.

      “Hei!” Wat het sy daar? Pepper spray? ’n Stun gun?

      “Bang vir ’n BlackBerry?” tart sy. “Jy behoort te wees. Ek gaan die res van die gesprek opneem. My prokureur gaan dit uiters interessant vind.”

      Hy gooi sy kop agteroor en gluur na die plafon. Verdomp, hy het haar onderskat. Plan B dan, of is dit al C? Hy frons, dink kastig vreeslik hard. “Ek veronderstel jy kan by my in die huis intrek. Maar dan sal ons moet trou. Dit is ’n konserwatiewe boeregemeenskap dié, ’n saamblyery sal nie deug nie.”

      Sy frommel haar neus asof iets stink. “Selfs al was jy die laaste man op aarde – ”

      “Ja, toe maar, spaar ons die melodrama. The feeling’s mutual.” Liegbek, spot sy gewete. Wat nou? Logika dalk? Kan nie kwaad doen nie. “Kyk, jy kan regtig nie bly nie. Oor ons afgeleë is, maar ook oor die werk. Die mobiele kliniek is nie vir vroumense nie. Dis ’n harde lewe. Ure in die Land Rover in die warm son. ’n Fyn girltjie soos jy is nie gemaak daarvoor nie.”

      “Ek’s nie ’n waspop nie, boytjie. Jy sal stupid wees om my te laat gaan. Jy gaan nie ’n beter dokter kry nie, veral nie hier in die middel van nêrens nie. Ek het eerste in my klas gestaan, onthou?”

      Nie vreeslik beskeie nie, is sy? Ook nie op haar bek geval nie. Hy hou nogal van ’n lekker fight. Veral as daar na die tyd ’n opmakery betrokke is.

      “Ek weet Carolus het eerste in sy klas gestaan.”

      “Ek kan enigiets doen wat Carolus kan doen.” Dan voeg sy gou by: “Behalwe staan en piepie, natuurlik.” Die twee oulike kolle op haar wangbene is terug.

      “Dan stel ek voor jy leer. Dis ’n noodsaaklike vaardigheid vir die pos. Soos ek gesê het, heeldag uit in die Land Rover –”

      “Gaaf. Ek begin dadelik oefen.”

      Sy’s verdomp giftig. Hy verstaan wragtag nie hoekom hy haar so amusant vind nie. Of so begeerlik nie. Vandat sy haar nat voete in sy kombuis gesit het, moet hy net keer of hy soen daardie sexy, skerp mond stil.

      Nee, hel, hier moet hy wegkom. Sommer nou.

      “Sit jy voor die vuur. Ek kry solank die aansoekvorms. Ek wil uitvind hoe dié boggerôp gebeur het.”

      “Mag ek solank jou badkamer gebruik?”

      “Is dít waarom jy so trippel? Af in die gang, eerste deur regs. En Cloete?” Hy wil die plaende woorde insluk, maar die versoeking is te groot. “Sit maar, hoor. Jy hoef nie die stanery te oefen nie. Ek gaan jou buitendien nie die jop gee nie.”

      Sy klik haar tong só boos dat hy vinnig in die gang afglip. Sy het haar BlackBerry nog in die hand en sy lyk moerig genoeg om dit teen sy agterkop flenters te gooi.

      3

      Eben sien die fout dadelik. Daar is ’n yslike swart blerts op die mail van MedJobs. Reg langs Naam van Applikant. Hy kan die eerste vyf letters uitmaak: Carol–. Niks verder nie. Omdat hy verwag het Hennie stuur ’n man, het sy brein die res van die naam voltooi. Carolus, wat toe eintlik Carolien is. Dêmmit. Een of ander idioot het seker die dokumente – of fotostate daarvan – ingescan met ’n stuk gemors. Hoe kon Hennie so aanjaag? Hy het tog verstaan waarom dit ’n man moes wees, al kon hulle nie só adverteer nie.

      Wel, dis sý fout, die bliksem kan dit regmaak. Hy gryp die huisfoon en tik die nommer in. ’n Vrouestem antwoord. “U het die stempos van Hennie Fourie bereik. Hennie is met siekteverlof tot verdere kennisgewing. Skakel asseblief vir Alet by . . . ”

      Hy luister nie verder nie. Mystery solved. Net jammer sy probleem gaan haar nie so maklik laat oplos nie. Wat Carli Cloete se storie is, weet hy nie, maar hy ken ’n desperate girl as hy een sien.

      In die woonkamer kry hy haar byna binne-in die kaggel. Sy het haar nat skoene uitgetrek en rooster haar tone oor die vuur. Salig onbewus dat hy haar staan en dophou. Dis eers toe sy haar kop teen die leuning rus dat hy besef hoe gedaan sy lyk. Gedaan, halfverkluim, en seker vaal van die honger. Pretoria is hel-uit ver, en sy kon nie ’n maklike trip gehad het nie . . . Hy kon sagter gewerk het, dis nie haar skuld dat sy hier is nie.

      Hy moes hardop gesug het, want sy vlieg orent. “My voete was ysblokke,” verdedig sy. Slaggereed vir nog baklei. Dan kan sy darem nie té moeg wees nie. “Dis vrek koud vir April. Baie kouer as in Pretoria.” Beskuldigend, asof hy die weer spesiaal so bestel het.

      “Dit ís kouer hier. Dit begin nou al ryp en hou eers Oktober se kant op. Ons winters is ysig. Om uit jou warm bed gebel te word wanneer dit buite onder vriespunt is . . .” Hy laat die dreigement in die lug hang, maar sy hou haar doof.

      “Kyk hier.” Hy hou die onduidelike faks na haar uit. Lê vir haar die gemors van begin tot einde uit. Sy luister aandagtig – onderbreek hom nie een keer nie.

      “Raait,” sê hy toe hy klaar verduidelik het. “Hier’s wat ons gaan doen.”

      “O, sommer net so, nè? ‘Hier’s wat ons gaan doen?’ Het ek geen sê nie?”

      “Luister eers, jy sal wel jou sê sê as jy nie hou van my voorstel nie.”

      “Nou praat, laat ek hoor.”

      Guts. Dís wat sy het. Sy’s die vreemdeling, die gas in sy huis, maar mens sou sweer dis andersom. In die skuur het hy gedink sy’s ’n verskrikte veldhaas. Wys jou net, eerste indrukke kan verkeerd wees.

      Hy gaan sit langs haar, ’n veilige ent weg. Liewer nie onthou wat sy verbeelding netnou op dié einste bank met haar gedoen het nie . . . Ook maar goed sy kan nie gedagtes lees nie.

      “Eers . . .” En as hy nou so hees klink? Hy maak keel skoon. “Eers gaan ek vir ons van Maggie se sop warm maak. As ons gelukkig is, het sy brood gebak.”

      “Wie’s Maggie?”

      “My huishulp. Sonder wie ek lankal sou vergaan het.”

      “Is jy een van daai mans wat nie eens eiers kan bak nie?”

      “Darem nie so erg nie. Maar die Naked Chef is ek beslis nie.”

      “Phew!”

Скачать книгу