Inboekeling. Hans du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Inboekeling - Hans du Plessis страница 3

Inboekeling - Hans du Plessis

Скачать книгу

Tante, Japie Niemand van Elders.”

      “Wat maak jy hier?”

      “Ek vlug, Tante.”

      “Sien,” sê Niklaas.

      “Wag nou, Niklaas. Vlug vir wie, Japie?”

      “Hulle het Ouboet doodgeskiet.” Die snik in Japie se stem en die verwarring in sy oë oortuig Susanna Coetzee daarvan dat sy hom kans moet gee om te verduidelik.

      Sy weet wat dood is.

      Sy en haar oorlede man het minder as ’n jaar gelede eers op Hier kom bly. Eintlik het hulle toe weer teruggekom. Hulle is vroeër oor die berge; hulle het beplan om op hulle eie ’n bestaan elders te gaan soek.

      “Trek net oos oor die berge, see se kant toe, dít is eintlik die beloofde land waarvan hulle ons in die kolonie vertel het,” was die algemeenste raad.

      En dit sou seker kon gewerk het, maar só maklik was dit nie, veral nie toe die Engelse dreig om die gebied te annekseer nie. Hulle het dan juis weggetrek om onder die Engelse uit te kom. Toe kom die Coetzees weer terug Hier toe.

      Die Hierders was dankbaar, want Pieter Coetzee, het ons ge­weet, was ’n goeie ystersmid en smede was skaars. Hier het ’n smids­winkel bitter nodig gehad. Voordat hy vir Susanna en die dogters ’n huis begin bou het, het hy die smidswinkel opgesit en met die werk begin. Ons wawiele kon weer draai, stukkende implemente kon weer herstel word. Hy kon selfs gewere regmaak.

      Toe, seker so ses maande terug, het rondlopers hom een laatmiddag doodgeskiet toe hy op hulle afkom waar hulle beeste probeer roof.

      Die patriarg het ’n kommando bymekaar gekry om die bende te gaan straf en die gesteelde vee terug te kry. Hulle het die spoor gevolg, maar die rowers is anderkant die seekoeigat deur die rivier en die spoor het weggeraak.

      Die dood was erg, veral vir die Coetzee-vrouens. Susanna het alleen agtergebly met haar twee opgeskote dogters en Patrys. Sy het nie geweet watter kant toe nie. Eintlik het sy opgehou dink, want die hartseer, het sy gesê, was vir haar te erg. As dit nie vir die drie dogters was nie, weet sy nie mooi nie.

      Die sieleherder het ernstig met haar kom praat. Haar probeer troos, maar dit het ’n hele paar maande geduur voordat sy kon aan­vaar dat hulle alleen op Hier moet bly. Sy sou wel iemand kry om die winkel vir haar te bedryf. Die gebou was klaar en die gereedskap was hier. Dit was immers haar eiendom.

      “Ons moet net ’n goeie grofsmid soek,” het die patriarg getroos.

      Waar kry ’n mens ’n betroubare smid? Dit is die probleem met ’n klein gemeenskap soos ons s’n: net een skakel raak weg, en die ketting trek nie meer nie.

      “Ma?” hoor sy Maria se stem, en Susanna raak weer bewus van die werklikheid hier om haar tussen die bome.

      Toe praat die weduwee Coetzee weer met Niklaas: “Klim van jou perd af, Niklaas. Jy moor die arme man. Maak hom los, hy is nie ’n inboekeling nie. Maak hom los, laat ons hom na jou pa toe vat.”

      “Ek sal die lus net bietjie skietgee, ek kan hom nie net losmaak nie, hy sal weghol.”

      Dit is asof Japie diep na sy asem snak toe Niklaas die riem se punt laat skiet en Maria tot by hom kom om die lus oper te trek, die knoop weg van sy keel af. Dis al asof die vreemdeling self skug­ter wegdeins van die meisie af, bang lyk vir almal om hom wat so vreemd is.

      Omdat ons op Hier nie juis aan geweld gewoond is nie, is ons ook nie oormatig sku vir mekaar nie. Nou nie dat ons nooit hand­gemeen raak nie. Ons is ook maar net mense, en ons stam darem uit die harde voorpos uit. Party van ons trek al ’n stuk of tien jaar in waens en tente en onder seile agter ons voormanne se neuse aan. Miskien kom ons ook maar so goed met mekaar klaar omdat ons moet. Dit is ons manier van oorleef, ons voortbestaan waarin elkeen sy eie plekkie verstaan; elkeen pas iewers in die groter geheel van Hier in.

      “Ons is soos die miere,” sê die patriarg altyd wanneer hy ’n stru­weling moet oplos. “Julle het mos al gehoor Meester sê die Woord sê ons moet na die miere loop kyk en wys worre. Julle kan mos ’n kolonie miere, as een die pad byster raak, tou die hele spul agter hom aan en die vet koningin vrek van die honger. Almal is eentlik een, dis hoe miere oorleef.”

      “En in die liefde,” voeg die sieleherder se mooi vrou dan gewoon­lik by.

      Maar Japie Niemand is ’n inkommer, hy sal nie verstaan nie. Sy ontmoeting met Niklaas moes vreesaanjaend gewees het, want as jy Niklaas nie ken nie, gaan jy vir sy manier van doen skrik. Aan Japie se dowwe oë en sy oop mond kan ’n mens sien dat hy iets nie so maklik met sy verstand sal kan uitwerk nie. ’n Mens wonder wat is die seun se storie. Hoe daag hy op ’n dag sommer uit die bloute hier op Hier op? Hy is nog nie eers behoorlik man nie.

      “Kom, ons gaan praat met Niklaas se pa,” sê Susanna die weduwee. “As jy op soek is na werk, is hy die regte man, want een van sy volk het juis laas week gedros. Kom, Japie.” Susanna Coetzee beduie hom vriendelik agter haar aan en vat liggies aan die riem.

      Maria roep vir Engela, en Engela wink vir Patrys, en hulle volg die ander uit die oop kol uit, deur die plaat bome. Toe lê Hier se opstalle voor hulle, rivier se kant toe. Meer as een werf.

      3

      Soos wat ’n mens uit die noorde al met die wapad van die dorp af langs suid trek, doem Hier onverwags onder in die laagtetjie voor jou op. Jy is nie eintlik voorbereid op ’n blertsie beskawing nie, veral nie ná ’n paar dagskofte deur die woeste binneland nie. Onverwags, want die steiltetjie noord van Hier versper die uitsig sui­de­kant toe. Eers as jy bo-op die hoogte is, sien jy skielik die op­­stalle voor jou, die verblindende halfkring wit geboue in die son net wes van die rantereeks aan die oostekant. Asof iemand ’n groot kol tus­sen die bome met moeite skoongeskoffel het.

      Dis eers dan dat jy besef hoe diep Hier se bors in die waai van die rivier in lê; soos ’n blink arm wat die paar werwe omhels.

      As jy met jou waens afsak tot onder by die kinkel in die wapad, moet jou touleier skerp links hou om in die grootpad te bly, want reguit vorentoe loop die dunner plaaspad soos ’n slagaar op die verste opstal af. Die ander werfies lê soos ’n hoefyster met sy oop bek wapad toe, binne die halfmaan van die rivier. Op die lip van die hoef is die hoofwerf met die groot woonhuis en die lang stoep.

      Uit die reguit plaaspad lei nog smaller werfpaaie na die kleiner werwe, die skoolkamer en die smidswinkel heel voor weerskant van die plaaspad. Dan die waenhuise, melkkamer en die skure. Tussen die geboue voetpaadjies, soos are op ’n oumens se lyf.

      Agtertoe waar kallers bulk, is die ronde veekrale met klippe ge­pak.

      Eers as jy naderkom, begin jy besonderhede sien, en jy verstaan dat daar meer as een gesin op die groot werf moet woon. Vyf om presies te wees. Vyf opstalle, en as jy mooi kyk, dan nog die smids­winkel links voor en die klaskamer regs voor soos jy met die plaas­­pad van die wapad se kant af inkom. Alles witgekalk, spier­wit gepleisterde blokke in die son. Soos ’n laer, ja, want meer as ’n eeu se laertrek, bly nie in ’n man se baadjie sit nie.

      Agter in die middel, by die hoefyster se lip, lê die groot werf; die patriarg se lang huis met die stoep en die gekruiste houtreling – die enigste stoep met ’n dak oor. ’n Entjie regs daarvan die huis met die groen voordeur en die twee vensters weerskante, die muur­huis van die man wat ons die droëlewer noem,

Скачать книгу