Inboekeling. Hans du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Inboekeling - Hans du Plessis страница 6

Inboekeling - Hans du Plessis

Скачать книгу

tog vir die vreemdeling ’n groot kom kou water uit die kleipot uit. Die mannetjie moet behoorlik dors hê.”

      Windvogel knik en begin voordeur toe loop.

      “Het jy getel hoeveel koffies, skepsel?”

      Die ingeboekte glimlag met wit tande, tel met ’n knik van die kop die mense op die stoep. “Ag,” sê hy trots.

      “Ek tel nege.”

      “Patrys wil nie koffie hê nie.” Windvogel se donker oë versag toe hy na haar kyk. Die byna ongemerkte gebaar in haar rigting en die intimiteit tussen die twee inboekelinge ontgaan nie die skerp oog van die patriarg nie.

      Dit is stil op die groot soep, net voëls wat in doringbome op die hitte skel, en die drie kleintjies wat fluister.

      Die vreemdeling laat sy hoed sonder meer op die rooi stoep­vloer val en gryp die groot tinbeker met albei hande toe Windvogel met die water terugkom. Japie se gesig verdwyn in die beker en net aan die hol gesluk en die beweging van die adamsappel weet die mense op die stoep dat die seun in die beker nog lewe. Hy ruk eers die beker met ’n harde uitblaas van sy asem van sy gesig af weg toe dit leeg is. Toe bly hy verleë staan met die beker wat aan sy oor om sy wysvinger hingel.

      Windvogel neem die beker by hom. “Nog?”

      “Asseblief,” smeek die vreemdeling.

      “Jy moet stadig drink, Nefie,” keer die patriarg en glimlag, “jy kan siek worre as jy nou te veel en te vinnig drink. Gaan haal vir die man nog water, Windvogel.”

      Eers toe Windvogel weer die huis in is, praat die patriarg rustig met Japie: “Nou vertel jy vir my presies wie jy is en hoe jy hier gekom het.”

      “Ek en Ouboet was op pad niemandsland toe,” begin Japie oor­haastig vertel.

      “Stadig nou, Neef. Begin by die begin. Wie is Ouboet? Niemand gaan niemandsland toe vir niks nie.” Die patriarg bly ’n oomblik stil en kyk na Niklaas. “Dis net skelms wat niemandsland toe vlug.”

      Japie se twee oë val soos windswaels grond toe. “Nee, Oom, ons is nie skelms nie. Ouboet is Wessel Niemand, my oudste broer. Dan is dit Abraham, en dan ek. Maar ons het nog ’n sustertjie ook, Johanna. Ons woon op Elders.” Japie bly stil om eers weer diep asem te haal.

      “Waar is dié Elders wat jy van praat?” vra die patriarg.

      Stilte.

      “Is dit ’n plaas?” vra die droëlewer.

      Stilte.

      “Ons moet weet sodat ons jou kan help, Japie,” sê die weduwee.

      “Ek sal dit nie weer kan kry nie, Tante.” Japie vee met die ag­ter­kant van sy hand oor sy oë, snuif en kyk af op sy stukkende skoene.

      Die lang vrou van die patriarg kom by die voordeur op die stoep uit.

      “Middag, almal.” In die lang, bruin rok wat tot op haar skoon vel­skoene hang, lyk sy nog groter as wat sy regtig is. Die grys hare is netjies in ’n bolla agter op haar kop vasgevang. Sy vee die blink strepie sweet op haar bolip met ’n spierwit kantsakdoekie af. Agter haar kom ’n mooi swart vrou by die voordeur uit met ’n bak vol spierwit beskuit. Dan eers moet Windvogel versigtig met die groot skinkbord vol bekers koffie uitmaneuvreer. Dit lyk of sy kort arm­pies tot op die uiterste moet strek om by die twee handvatsels van die skinkbord by te kom.

      Die patriarg se vrou haal die grootste beker van die skinkbord af en oorhandig dit aan die patriarg. Dan gee die mooi swart vrou vir elke gas ’n beker koffie aan. Japie loer eers na die weduwee se kant toe voordat hy die beker vat wat die mooi swart vrou na hom toe uithou.

      Die patriarg se vrou lei die mooi swart vrou, Windvogel en Patrys terug by die voordeur in.

      Vir ’n rukkie is dit net die geslurp en die hitte op Hier se stoep. Japie kyk na die beskuit, maar niemand dink daaraan om vir hom ook een te hou nie.

      “Vertel,” beveel die patriarg en bly sit met die wit beker in sy hand.

      Japie soek plek om sy leë beker neer te sit, die water en die kof­fie moes hom ’n bietjie krag gegee het, want hy staan selfs uit die stoel uit op. Engela vee die klam haarlok van haar voorkop af weg, glimlag effens en neem sonder ’n woord die leë beker by Japie en sit dit langs hare op die lang stoeptafel neer. Japie kyk nie op nie.

      “Toe oorval die rondlopers my en Ouboet. Hulle het ons betrek, Oom. Voor ons nog geweet het wat aangaan, het hulle die perde gegryp en toe Ouboet wil skiet, het hulle hom eerste doodgeskiet. Ek kon nie eers my geweer oplig nie.” Japie praat al vinniger. “Toe’s hulle weg en Ouboet is dood en ek het nie ’n perd of ’n geweer oor nie. Niks nie, Oom.”

      “Hoe kom jy toe nou hier uit?” vra die patriarg.

      “Ek het maar net geloop en geloop, Oom. Meer as ’n dag en ’n nag, maar ek weet nie watter kant toe ek geloop het nie. Ouboet is die een wat geweet het watter kant toe niemandsland lê, Oom. Ek lieg nie, Oom, regtig nie. Toe hoor ek stemme en toe ek weer sien, staan ek met ’n riem om my nek”

      Sonbesies.

      “Wat wou jy in niemandsland gaan maak?” vra Niklaas.

      “Los nou maar eers, Niklaas,” sê die patriarg.

      “Ek bly sê hy is ’n skelm, Oupa.”

      “Los nou maar.”

      Japie snuif grof.

      “Watse werk kan jy doen?”

      “Hy sê hy weet iets van ’n smidswinkel af, Pa,” sê die droëlewer.

      “Is jy ’n ystersmid?”

      “Nee, Oom, nie heeltemal nie, Oom, maar ek het my pa altyd in die winkel gehelp.”

      “Op Elders?”

      “Ja, Oom.”

      Die patriarg sit ingedagte in sy koffiebeker en staar terwyl hy dit in die rondte draai. “Wat is ’n slagveer?” vra hy skielik en kyk vir Japie.

      Japie sluk en kyk voor hom op die vloer. Hy gee ’n selfbewuste kuggie, sluk weer en sê dan binnensmonds: “Die veer in die pan­geweer se slot, Oom.”

      “Kan ’n roer sonder sy slagveer skiet?”

      Japie lag in sy keel. “Nee, Oom, die sneller sal mos nie werk nie, Oom.”

      “Kom,” beveel die patriarg en almal staan op. “Kom ons loop hoor daar by Katrina-hulle. Eerwaarde sit juis met ’n gebreekte slag­veer.” Hy staan op en kyk vir die weduwee. “Dit lyk my ons het altemit ’n handige smid vir jou winkel gekry, Susanna. Kom ons loop haal die slagveer. Lat ons bietjie toets of die seun ooit ’n roer kan.”

      Die nuwe optog beweeg van die stoep af, deur die warm stof, maar nou loop die patriarg voor op pad na die sieleherder se hart­beeshuis toe.

      Die drie kleintjies bly agter toe hulle ouma hulle roep vir koffie en koekies in die kombuis.

      6

Скачать книгу