Lobola vir die lewe. André P. Brink

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lobola vir die lewe - André P. Brink страница 4

Lobola vir die lewe - André P. Brink

Скачать книгу

      “Vaarwel. Amen.”

      —die stasies van my kruisweg een vir een—

      eerste stasie

      Ek sweef astraal sweef ek en sien alles myself inkluis en sien en sweef ek astraal

      Distansieer en abstraheer: dus derdepersoon enkelvoud

      Interieur van kroeg.

      (Maar ook: Lasarus tussen die dode en Faust by die hekse en Dante se hellevaart van Heilige Vrydag tot dagbreek Paassondag en Boccaccio se priester wat hom in die lustige jong hel van sy klein minnares begewe want daar is niks nuuts onder die son nie en alles wat is was en wat was sal wees en nietig nietig is alle dinge sê die prediker; en buitendien is die dae van die grotes verby in dié dae was daar reuse op die aarde en hel en hemel gapende alkant maar nou moet elk sy eie klein private hel maar met hom saamdra waar hy gaan—vraagstuk vir die skolastiek—vergeefs sê opnuut die Prediker.)

      “—met die boom van die glas,” sê die skraal jong man by die toonbank, tam kuif oor die oë. “Een nat ring en nog een, twee; en nog een, drie: mooi patroon. Drie ringe, drie nulle. Maar jy maak ’n fout as jy meen dat nul gelyk is aan niks want dis terselfdertyd oneindig, sy dit groot of klein wat maak dit saak. Want nul is ’n simbool as jy dit so wil beskou maar nul transendeer ook die wese van blote simbool—die ewig wordende nul, eier van die Nag waaruit Prometheus gebore word. Maar kyk na my patroon. Kyk, maat. Sien jy?”

      Die gelate ouer man kyk huiwerig van sy glas af weg en buig bysiende oor. “Ek sien niks,” brom hy eindelik, half paaiend. “Dis nie dat ek jou nie glo nie, nè, maar ek vra jou in alle ordentlikheid: wáár is jou danige patroon? Opgedroog—?”

      “Jy’s reg, vriend. Jy’s vreeslik reg. Hy’s weg. Opgedroog. Vanmôre hier en môre daar—en waar vanaand? Hy’s weg soos alle klammigheid. Hy’s weg—my mooi klam patroon. Maar ek sal hom weer vir jou maak. (Die mens is tot skepping geroep.) Wil jy sien?”

      “Nee.”

      “Jy sal hom sien.”

      “Ek wil nie.”

      “Jy sal. Kyk net goed. Een. En nog een. Twee. En nog een—"KYK!”

      “Ek het gekyk.”

      “Jy het nie. Ek het jou dopgehou. My liewe vriend, ek het jou fyn dopgehou en jy het nié gekyk nie. My mooi patroon. Sal jy nou kyk, dié slag?”

      “Nee. Luister eers. Jy ken dié grap? Jy moet hom ken. Die vrou wat jou geld vir jou teruggee as jy dit regkry om ses keer reg na mekaar jou doppie te klink—”

      “Kyk nou goed. Hier is een, só—”

      “—en die ou is toe op, en dit gaan goed, en elke slag maak hy met sy spoeg ’n merkie teen die muur—”

      “—en nou nog een. Dit maak twee—”

      “—en toe wil hy nou naand kyk hoeveel nóg, nè? En hy tel toe, maar die eerstes het toe al opgedroog—”

      “—en nou moet jy fyn dophou, dis ’n kuns; jy vat hom só—”

      “—en hy gee haar toe nog so ’n paar keer en hy tel toe weer, en dis maar weer so—”

      “—en dan sit jy hom so neer, so half skuins oor die ander—”

      “—‘Ag nee, bliksem,’ sê hy toe. ‘Ons begin maar weer voor.’”

      “—en jy lig hom op. Hoe lyk hy?”

      “Wat dink jy van die grap?”

      “Watter grap?”

      “Magtig, man, jy’s tog nie doof nie. Ek het jou nou net hier staan en vertel—”

      “En ek het jou nou net vir die hoeveelste keer gewys—! Kan jy nie jou blerrie oë oopmaak nie?”

      “Jy moenie met my kom neuk nie, maatjie. Ek kon jou pa gewees het; jou ore lê nog plat teen jou kop.”

      Hy beur uitdagend vorentoe, kuif oor sy oë, arms gestut op die bruin gevlekte toonbankhout, jonk, skraal, maar hulle hou hom teë, hou hom aan die arms dat hy magteloos skud en noorsig terugdu na sy glas. “Ek sal jou nie wéér wys nie,” sê hy nukkerig. “Jy kan wag dat jy blou word, ek sal nie wéér nie.”

      Glas. Glas met blink nat boom. Lig breek deur die bruin helder vlak en skitter teen sy hande, swaaiende lig soos onweersmaannagte met populiere, maar bruin.

      “Hoe sê jy, maatjie? Hoe’t jy gesê?” vra die ouer man nou weer dreigend.

      Maar die jong man glimlag deur sy glas, tik met sy tande teen die glas, glimlag deur sy kuif deur die glas, drink aan die glas, glimlag oor die glas, sit die glas neer. “Dis wat ek sê, ja.” Hy sien sy hand op die toonbank ontliggaam aankruip soos ’n groot wit wurm, vingerig na die ouer man se arm, vertroulik en vol kameraadskap. “Dis wat ek sê, my goeie vriend. Ons drink,” sê hy. “Ons drink,” sê hy. “Laat ons weer vólmaak.”

      Goeie, goeie vriende. Goeie liewe dierbare vriende. Vólmaak, mooi goed volmaak, goeie vriende, almal volmaak. Gesondheid dan. Vanaand drink ons die nagmaalsbekers leeg. Avondmaal, liewe goeie vriende, saam met my, almal saam, want môre kom die brullende leeu en die aarde vergaan in vuur en swael. Lank lewe Rusland. Langer die Weste. En God behoede die koningin. So het Sokrates sy gifbeker gedrink, en die minnaars van Lucrezia. Drink—! en moenie vrees om môre te sterwe nie, want ons is al lankal dood, die dood is saam met ons gebore en ons het gesterf kort voor die Adamsappel. Daar gaan my laaste pennings, versamel tot hul vadere, maar dit kan my so min skeel, so verskriklik min.

      Ag lig, ag liewe lig, jy wat jou so verskerwe in my glas

      —hoe skitterblink die lig op hierdie silwer ding

      en kaats die dag in duisend stukke uit.

      “Unquote.”

      “Nee, vriend, nee. Nee, dis my eie versie daardie een. Die groot skeppende gees wat deur sy disintegrasie homself genees. Siedaar.”

      ’n Ander stoot hom met ’n elmboog aan en hy tuimel effens vooroor maar red sy glas.

      “Oppas,” maan hy. “Oppas, mense. Laat ons in liefde en vrede saamlewe.”

      “Hou dan jou snater.”

      “Hoe later hoe kwater,” kwink hy en koes dan met ’n ruime glimlag wat algaande verdwyn. “Jy kon my vreeslik seergemaak het nou. Dit was ’n bitter gevaarlike ding om so aan my te stamp. Bitter, bitter gevaarlik. Jy kon my lewe gekos het, vriend, en dan’t hulle jou nou-nou uitgedra lykhuis toe en my gaan ophang aan ’n paal. Of my. Of jou. Of iets. Iets word altyd eindelik opgehang.”

      Ag, groot skoppelmaai van die aarde, laat my saamry deur die ruim, skoppelmaai van die kamer,

      groot skoppelmaai, skoppelmaai

      laat jou hare gou-gou waai—

      ’n Halfduim oor. En dan? En dan—? Maar dan

Скачать книгу