Verliesfontein. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verliesfontein - Karel Schoeman страница 2

Verliesfontein - Karel  Schoeman

Скачать книгу

nie. ’n Paar prente uit een of ander geïllustreerde tydskrif aan die muur vasgespeld, die ou Engelse Koningin, ’n glimlaggende dame uit ’n advertensie, kleuters onder die vleuels van hul skutsengel? Wie weet? Jy knyp jou oë toe, spring en raak geen grond nie, swewend deur die donker. ’n Sweepslag, die klank van ’n sweep – wie weet nog hoe ’n sweepslag klink? Die walmende paraffienlamp wat vinnig laer gedraai moet word en die verrookte skoorsteen wat soggens skoongemaak word wanneer die lampe gevul word. Die kers wat doodgeblaas word deur ’n skielike windvlaag langs die gang. Die geur van koffie wat gebrand word of brood in die bakoond, van kwepers wat gestowe word, die geur van rose in die nag en die deurweekte aarde na die reën, die reuk van ongewaste liggame, die reuk van sweet, die stank van krale en stalle en gemakshuisies in die hitte, die sloot anderkant die bloekombome by die lokasie waar die bruinmense gegaan het om hul gevoeg te doen. Toe-oog spring jy, swewend in vrye vlug deur die donker van die verlede sonder om te weet wat jy sal ontdek.

      Stukkies van die legkaart ontbreek na soveel jare onvermydelik en sal nie teruggevind word nie, dog dit is volledig genoeg om die geheelbeeld of -patroon uitkenbaar te maak. Daar lê die dorpie dus rondom die nuwe kerkgebou met sy baksteenmure en afgewitte mure, sy sinkdakke en gestreepte veranda-dakke, sy stofstrate en leë markplein, sy vrugteboorde en bloekombome, die lokasie eenkant, die begraafplaas hoër op, en die dorpsdam met sy wilgebome nét nog sigbaar aan die rand van die panorama om die ligging van die oorspronklike fontein aan te dui, die wye veld rondom uitgestrek, wagtend.

      Hiér is tog seker die aangewese plek om stelling in te neem vir ’n verhaal wat oor die oorlog handel, op een van die punte waar ’n besoekende fotograaf rondom die eeuwisseling sy statief opgestel het (’n handlanger het die verdere toerusting agter hom aan gedra). Dog ’n honderd jaar later is geen aanname van hierdie aard meer eenvoudig en vanselfsprekend nie, want te duidelik het mens intussen van ander moontlikhede bewus begin raak. Daar bestaan ook ander punte waar jy stelling sou kan inneem ten einde die oorsig te verkry wat vir hierdie verhaal nodig is: die perspektief wissel, die middelpunt van die beeld word verskuif en die landmerke verander hul onderskeie posisies, sodat ook hul onderlinge verhoudings ’n subtiele wysiging ondergaan. Die wit ringmuur van die begraafplaas lê nog as ankerpunt op ’n afstand teen die hang van die rant, maar die dorp self is niks meer nie as ’n lae ry bome in die verte, die kerktoring onsigbaar; was dit nie vir die ringmuur sou mens waarskynlik nie eers besef dat dit Fouriesfontein is nie. Dit is die dorp soos dit uit die lokasie gesien is, tussen vuurlig en waaiende rook, die stemme van vroue en van kinders, die geblaf van honde. ’n Doodkis wat in die werkswinkel van ’n skrynwerker op bokke staan en wag om voltooi te word. ’n Wasbalie aan die spyker teen die muur langs die voordeur. ’n Wasplank. Timmermansgereedskap.

      Die rook waai yl voor jou uit en in die dalende skemer is net nog die verspreide vuurtjies van doring- en harpuistakke sigbaar, sodat jy met hande tastend voor jou uitgestrek jou pad moet soek sonder om te weet waarheen dit jou lei of hoe ver jy dit moet volg. Terug na daardie pylpunte en krale, die beendere van springbok, steenbok en eland, die beelde teen die rotswand in oker, roeskleur en wit? Mistroostig word die rook opgewaai en dwarrel stof, takkies, dooie blare en as deur die lug, sodat die uitsig vertroebel. Stof, takkies en as, ’n handvol gruis, ’n handvol bene of krale is al wat behoue gebly het om as basis vir die herwinning van hierdie verdere verlede te dien, sodat die verbeelding hom hier nog meer as elders moet inspan. Hoe ver kan mens gaan; hoe ver is dit toelaatbaar om te gaan? Die geroep van die jagters tussen die klipperige rante, die geluid van musiek en gesang by vuurlig of maanlig, die geklap van skote wat in die klowe weerklink en ’n vrou wat ’n huilende kind onder ’n bebloede karos verberg, vroue en kinders wat te voet voor die waens uitgejaag word (aan den burger Kowis Fourie, 2 vrouwen en 3 klijne Bossimans). Was dit by benadering hoe dit was; is dit meer as die waarheid, of skiet dit daarenteen te kort as poging om die onverwoorde en onverwoordbare ervaring te beskryf? Die rook waai op, waai uit om die uitsig te verteken, en in die halflig kan nouliks meer as buitelyne nog uitgemaak word. In verslete karosse en ou komberse hurk mense om ’n vuurtjie van doringbostakke, koes agter ’n skerm van opgehoopte takke teen die skraalheid van die wind, hul gelaatstrekke oor die afstand onherkenbaar. ’n Kind wat skape oppas. ’n Man wat besig is om osse te leer, ’n man wat besig is by die breipaal; ’n seun wat leer om ’n perd te beslaan of planke te saag. ’n Man in ’n verflenterde, afgedankte baadjie, tuisgemaakte velskoene aan sy voete. Vroue met kopdoeke laag oor hul oë vasgebind; ’n jong vrou in ’n kappie met valletjies en plooitjies. Die kers, die vuur vlam op en verlig vir ’n oomblik hul gesigte, die rumoer van beskonke stemme wat verward in die nag skreeu en die eentonige gepluk aan ’n ramkie, die getreur van ’n trekklavier, die eentonige gesaag op ’n viool. Kortstondig spring die rokerige kersvlam op en verlig die gesigte van die mense wat vir ’n diens vergader het, en die rukkerige ritme van ’n Nederlandse gesang klink uit die nag, vermeng met die geblaf en getjank van rondloperhonde. Is dit reg? Hier is daar nog minder kans op oorblyfsels, rekords of getuienis as elders, tastend deur die donker waar die waaiende rook jou oë verblind en jy by onsekere kerslig die gelaatstrekke moet probeer uitken. Wie weet nog wat dit beteken om by kerslig te moet lewe?

      Tuur in die vuurlig, die kerslig, die halflig, in die dowwe skynsel van die sterlig, want dit is al wat jou ter beskikking staan. Die onvoltooide doodkis op bokke in ’n skrynwerkerswinkel; die timmermansgereedskap. Die strikkie of rosetjie van ’n afskaffersgenootskap of die uitgerafelde en verkleurde serp van ’n ampsdraer. Die kontribusielys van een of ander hulpvereniging, die ledelys van ’n Bybelstudiegroep, die presensielys van ’n Sondagskool, of ’n klasregister, Teacher Miss M.M. Colefax. Hoe lank moet jy soek, hoe diep moet jy grawe, in die los grond, tussen die gruis en die klippies? Hier is daar geen sprake of selfs skynsel van ’n legkaart meer nie: hier is dit hoogstens fragmentjies wat jy nog kan hoop om aan te tref, skilfertjies erdewerk of porselein of brokkies gekleurde glas. Hoe diep moet die voor gegrawe of die skag gesink word om iets te vind, hoe lank moet die sand gesif word voordat jy tussen klippuin, gesteente gruis en molm afkom op ’n splintertjie hout of ’n stukkie sening wat nie vergaan het nie, ’n stukkie geslypte been wat nog uitkenbaar is, die verspreide restante waaruit (wie dink nog aan legkaarte?) die begrafnis herkonstrueer moet word wat eens hier plaasgevind het, die lyk, die lykkleed en die beklede kis, die sang om die graf, die woorde van die prediker en die gesnik van die vroue en kinders, die hele menselewe waarvan daar slegs ’n naam en ’n verkleurde lintjie oorgebly het, ’n beenfragment en ’n splintertjie hout?

      Waar moet jy stelling inneem om die oorsig te verkry wat nodig is ten einde te kan begin? By die begraafplaas miskien, teen die hang van die rant bokant die dorp; op die afgewitte ringmuur miskien. Die urne, suile en engele lê binne die ommuring agter jou, en by jou voete strek die grondhope en kliphope van die kleurlinggrafte uit na die sanderigheid van die omringende veld met sy lae bossies wat wag om hulle te oordek. Voor jou op ’n afstand van jou uitkykpos lê die hutte van die lokasie laag weggeduik op die vaalheid van die veld, die takke, riete, goiing en klei waarvan hulle opgerig is nouliks daarvan onderskeidbaar, die bloekomlaning, die tronk met sy hoë, blinde muur, en die bome en blink silwer dakke van die dorp rondom die kerktoring. Is dit beter? As jy moes probeer om verder terug te staan, sou die vaal huisies van die lokasie uit die geheelbeeld verdwyn, nog verder en die wit ringmuur van die begraafplaas sou nie meer sigbaar wees nie en selfs die helder kerktoring sou wegval, Fouriesfontein ’n blote donker lyn bome oor die dynserigheid van die horison dwarsoor die pad tussen Kromburg en Donkerpoort.

      Hoe ver is dit nodig om te gaan; hoe naby is dit moontlik om te kom? Op vrae soos hierdie is daar egter geen pasklaar antwoord nie, en slegs proefondervindelik kan mens iets uitwerk wat by gebrek aan alternatief as antwoord sal kan dien. Met jou oor teen die grond gedruk probeer jy die gedreun van verre perdepote opvang, oor teen die deurpaneel gedruk, moet jy die gesprek in die kamer daarbinne probeer volg. Hoe naby kan jy kom? Buk oor die spore van perde in die stof of die vars skaafsels onder die werkbank, vou die verkleurde papier oop en lees die woorde wat in verbleikte ink geskryf is. ’n Afgrond skei jou van daardie verre werklikheid, dog afgronde is oorbrugbaar wanneer die pad eenmaal gevind is; ’n glaswand skei jou onverbiddelik van die wêreld wat voor jou oë uitgestrek lê, dog onder jou tastende handdruk kan dit skielik kraak en splinter soos ys. Verbaas en nie sonder ontsetting nie merk jy hoe die spinnerakpatroon van

Скачать книгу