Verliesfontein. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verliesfontein - Karel Schoeman страница 6

Verliesfontein - Karel  Schoeman

Скачать книгу

ore sou kan wees. Is dit dalk ’n droom, wonder hy; ’n skim, ’n hallusinasie? Hoe sou dit moontlik wees om hier deur te ry of verby te ry sonder om die bome, die dakke en toring raak te sien? Hy het geval en sy bewussyn verloor, aan die slaap geraak, iets het gebeur wat hy nou nie meer kan verklaar of selfs onthou nie. Die laaste fyn dwarreling van stofkorrels waai egter weg oor die rug van sy hand, skitterend in die lig van die son. Hy sien die dorp voor hom met sy kerktoring, begraafplaas en dam, hy bereik die bloekombome en betree hul skadu; hy het aangekom.

      Stadig begin hy oplet en waarneem, stadig begin hy weer helderder dink terwyl hy voortstap langs die laning van bloekombome wat na die dorp toe voer, en op die wit grondpad voor hom merk hy die spore van perde, die spore van wiele, sleepsels in die stof. Daar het ruiters verbygegaan, dink hy, ’n groot geselskap ruiters, maar so volkome uitgestorwe lyk die dorp aan die einde van die bloekomlaning dat dit moeilik is om te glo dat hulle daarheen op pad was, en mens eerder geneig sou wees om te dink dat hulle dit ontruim het. Hierdie spore in die stof waarop die gestreepte lig en skadu van die laning val, is egter die enigste teken van lewe wat hy kan gewaar, en as sodanig verwelkom hy dit. Dit moet hulle afneem, dink hy vlugtig, hierdie spore van perdepote en wiele afgeteken in die stof, en gee die gedagte dan weer prys en vergeet dit, want die laning het tot ’n einde gekom en in die breë strook sonlig wat voor hom uitstrek, lê daar bloedkolle donker in die stof.

      Hy bly staan om daarna te kyk. Maar dit hoef tog geen bloed te wees nie, dink hy by homself; daar is geen rede om aan te neem dat dit bloed moet wees nie, die donker vlekke op die wit stof van die pad. Wat anders is daar wat ’n aanduiding gee van geweld? Die lae huise wat hy sien, is vredig weggeduik agter formele blomtuintjies en die rankplante van hul verandas; daar is vrugteboorde, kweperheinings en ’n watervoor, alles vertroud genoeg van foto’s, en slegs die feit dat die ouderwetse dorpsbeeld so goed bewaar gebly het, verras hom enigsins. Die straat mond uit op ’n leë plein met winkels rondom versprei en ’n markgebou met ’n klok, en bo die sinkdakke en bome troon die wit kerk uit, met as enigste beweging in die wydheid van die panorama wat hy voor hom sien die trae fladdering van die vlag op die hoektorinkie van wat ’n openbare gebou moet wees. Dit sou die museum kan wees, dink hy, en stap oor die plein soontoe, maar die deur is gesluit en daar is geen bordjie of kennisgewing te sien nie. Fouriesfontein, probeer hy moeisaam onthou van lank gelede: daar was ’n graf, en ’n gedenkteken voor die kerk wat hy hier nie raak sien nie, maar van ’n museum is daar geen melding gemaak nie. Dit is tog wel die plek; dit is tog Fouriesfontein? Waar hy voor die kerk bly staan het in die middel van die plein kyk hy om hom rond, maar die dorp gee niks prys nie. Waar is die mense dan? wonder hy. Dit is tog nie moontlik dat die hele dorp hom teen die hitte van die dag in die huise teruggetrek het en dat alle bedrywighede tot stilstand gekom het nie, geen hond wat blaf of haan wat kraai, geen geluid van ’n voertuig of radio, geen geroep van ’n kind in ’n tuin nie. Die stoepe van die huise en winkels en die tuine is verlate.

      Hy stap verder met die straat waarlangs hy die dorp binnegekom het, dwarsoor die plein, verby ander huise, ander tuine en boorde en klipmure, draai om ’n hoek en stap langs ’n ander straat, waar daar peperbome geplant is met fyn blare wat liggies tril in die nouliks merkbare luggie en die water geluidloos loop in die voor, so rustig dat die beweging skaars nog aan die speling van die lig op die kabbelende vlak gemerk kan word. Iémand het die sluise oopgemaak en die water laat uitloop, dink hy, iémand moet daar tog nog wees, verskole tussen die boorde en tuine van hierdie verlate dorp, en hy kyk op en sien die drywende takke van die peperbome en die fyn trilling van die bessies, die bedrieglike ligte roering, die speling op die watervlak, kyk langs die straat af en sien ’n man wat uit die verte haastig na hom aangestap kom, winkend met sy arms.

      In so ’n mate het hy in sy tentatiewe verkenning reeds aan die uitgestorwe dorpsbeeld gewoond geraak dat hierdie plotselinge verskyning amper gewelddadig aandoen en hy dit vir ’n oomblik nie kan verwerk nie, maar dan skud hy hom reg en stap die man vinnig tegemoet. Is hy verwag, word daar na hom gesoek, of het die man hom dalk oor een of ander onvermoede gebeure kom inlig of waarsku? wonder hy, verras deur die dringendheid waarmee die vreemdeling op hom afkom; dog in sy verwondering merk hy die onreëlmatigheid van die man se gang en besef dat hy kruppel is en die ongekoördineerde en haas driftige bewegings van sy arms niks meer is nie as ’n poging om sy balans te behou. Die man het hom skynbaar nie eers raak gesien nie, besef hy verder namate hulle mekaar nader, alhoewel hulle twee alleen is op die kruispunt van twee verlate strate, maar kyk strak voor hom uit, sy oë op ’n ander doel en sy gedagtes klaarblyklik elders. Dan, net voordat hulle mekaar moet teëkom, draai hy skerp weg om die hoek en sit sy vinnige, dringende gang langs ’n ander straat voort. Hy is ’n jong man in ’n donker, formele, haas ouderwetse pak, en so naby is hy waar hy wegdraai dat dit moontlik is om te sien dat die omslae van sy broek en sy swaar, blink stewels wit is van die poeieragtige stof. Hy gaan by ’n hekkie in agter ’n skraal sipresheining, hinkend langs die tuinpaadjie verby beddings vol sonneblomme, en verdwyn in die skadu onder die veranda. Die hekkie piep op sy skarniere, ’n deur slaan toe, die skielike geluide onverwag in die volslae stilte van die dorp, en dan is alles weer stil.

      Hy sou die man kan volg en aan die deur van die huis gaan klop, dink hy, maar bly buite in die straat voor die hekkie staan. Hy is nie gemagtig om aan deure te klop, om deure oop te stoot of vrae te stel nie, besef hy, alhoewel hy nie die rede vir die sekerheid sou kan aangee nie; hy kan hom in hierdie swygende, geslote gemeenskap waar hy so pas aangekom het nog nie alle vryhede veroorloof nie. Die plek waar hy hom bevind, het sy eie reëls en konvensies wat hy vermoedelik proefondervindelik sal leer ken, en intussen betaam dit hom om te wag en geduldig te wees, soos hy hier in die straat by die hekkie staan en wag, die tuinpaadjie tussen die stywe beddings en kwynende blomme ’n onoorbrugbare afgrond, die lae, eenvoudige huisie agter sy veranda ’n onbereikbare vesting, in stilte en geheimsinnigheid gehul.

      Die onverklaarbare insig is op een of ander manier gerusstellend, en bevredig deur hierdie skrale versekering draai hy uiteindelik weg van die hekkie en die huis waarin die hinkende jong man verdwyn het. Hy moet verder soek, dink hy terwyl hy voortstap, hy moet elders soek; of dalk moet hy nie eers doelbewus soek nie, dring dit algaande tot hom deur, dog genoeë daarmee neem om eenvoudig te kyk en te wag, om ’n ontvanklikheid te beoefen waarop niks in die lewe hom tot dusver voorberei het nie, maar wat skynbaar tot die konvensies van hierdie gemeenskap behoort.

      Hy bevind hom in die onderste straat van die dorp, sien hy, aan die rand van die veld, waar daar tussen boorde en heinings enkele groter woonhuise staan, ver terug van die straat op hul uitgestrekte erwe. By ’n heining oorrank met klimrose bly hy staan en kyk na die welige blombeddings en priële en die koelte van die huis agter sy breë stoep oordek met rankplante, en namate sy oë aan daardie digter skadu gewoond raak, kan hy ’n ligte skynsel in die skemeragtigheid uitmaak en ontdek hy geleidelik die gestalte van ’n man in helder klere wat op die stoep in ’n rottangstoel sit en lees. ’n Tyd lank bly hy hier staan in die hoop dat die man sal opkyk en hom sien oor die afstand wat hulle skei, anderkant die skerm van versluierende rankplante, die breedte van die tuin en die heining in die helder sonskyn van die straat, dog uiteindelik moet hy toegee dat die moontlikheid gering is. En as hy tog moes probeer om die hekkie oop te stoot, wonder hy; as hy hom tog moes verstout om by die tuinpaadjie op te stap, en aan die voet van die glimmende treetjies bly staan, vlak onderkant die man wat sit en lees? Hy kan ten minste probeer, dink hy, want niks kan met hom gebeur nie; dog wanneer hy sy hand na die hekkie uitstrek, sien hy dat die stoel leeg is en dat daar niemand meer in die skadu van die veranda sit nie: vinnig en geluidloos, vinniger selfs as wat hy moontlik sou geag het, het die man deur die glasdeure van die stoep verdwyn. Die enigste waarneembare beweging is die ligte roering van ’n wit gordyn waar ’n venster opgeskuif is. Dus ook nie hiér nie.

      Langs die geleidelike helling stap hy stadig terug na die markplein en die kerk, die wit toringspits steeds as oriëntasiepunt sigbaar bo die dakke, bome en tuine, en ontdek verkennend tussen die winkels met hul leë stoepe en blinde fasades die hotel waarna hy in eerste instansie miskien moes gesoek het, ’n onaansienlike enkelverdiepinggebou weggeduik agter sipresboompies: by die museum, die hotel of die munisipale kantoor is daar gewoonlik uitkoms van een of ander aard, hoe beperk dan ook, onthou hy nog van lank gelede, terwyl die polisiekantoor

Скачать книгу