Mede-wete. Antjie Krog

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mede-wete - Antjie Krog страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Mede-wete - Antjie Krog

Скачать книгу

aanmekaar gesit deur stories

      wat hy oopgeploeg en stambome wat hy in stand

      gehou het hy was ons houvasman ons vrede-

      maker tussenganger ons dunvellige duikerhart

      die onopgemerkte gespe van ons familieband

      hy’s weg en hoe los dryf ons nie reeds wat

      ons ook al wou elke treurende woord

      elke vergifnis elke liefdesbely wat ons wou

      uithou is te laat jirre Pa stuur iets net iets

      wat sê jy vóél dit: die keiharde onstopbare

      kielhaalaard van rou

      2.

      na haar man begrawe is

      het oorgrootouma Betjie van Middenspruit

      hom laat opgrawe

      en ’n ander kispak aangetrek

      ‘skielik verstaan ek dit’ sê my ma

      ‘ek dink aan niks anders as om

      daar by die hoop grond te begin grawe

      en aan te hou totdat ek by jou pa kom

      tot by waar hy is en hom

      aan sy skouers oplig

      die onteenseglike daarheid van hom’

      3.

      3 desember 1861

      toe hy die dag

      die goue munte

      as betaling

      vir die plaas uitpak

      breek

      die tafeltjie

      van J.H. Boshof

      toe hy daarna

      die koopkontrak teken

      die pen neersit

      weet

      Paul Johannes Delport:

      nóú is hy

      ’n Baas

      4.

      [grond] – tussen hakies onvertaalbaar

      [ ] [ ] hulle sê dat oumagrootjie Helena Susanna Delport

      al die grond tussen Kroonstad en Renosterspruit besit [ ] het

      na haar man se dood bly sy agter met twee dogters

      een van hulle my ouma Anna Elisabeth

      hulle sê sy het oujongkêrel Hennie Geldenhuys getrou

      [ ] dat die grond bewerk kon word [ ]

      hulle sê sy was ’n diabeet [ ]

      en het op ’n dag in ’n koma gegaan

      haar twee dogters het onmiddellik van hulle onderskeie

      huishoudings gekom [ ] om reg te maak vir die ergste

      [ ] hulle sê binne ’n dag of twee het die eerste ampule insulien

      in die spreekkamer van ou dokter Dykman opgedaag

      hy het dadelik uitgejaag na die plaas op die Kroonstad/

      Viljoenskroonpad om die nuwe kuur te toets

      en op die stowwerige plaaspad by die plaaslike prokureur

      op pad terug [ ] [ ] verbygery

      hulle sê onmiddellik na die eerste inspuiting

      het ouma Lena tekens getoon van herstel

      toe sy bewerig water drink vra sy waar die ink

      aan haar regtermiddelvinger vandaan kom

      ‘vra jou man’ sê hulle

      het haar dogter, my ouma, gesê

      die volgende oggend is sy dorp toe om die testament

      wat al die grond aan stiefoupa Hennie bemaak te kanselleer

      [ ] [ ] sestien jaar hierna is sy oorlede [ ]

      oupa Hennie het vruggebruik gehad tot sy dood

      na ’n jaar met sy nuwe vrou [ ] trek hy dorp toe [ ]

      ouma Lenie kook snags seep op die werf sê hulle het hy gesê

      5.

      ’n verhaal

      ons het ewe grootgeword op die plaas, soos mekaar

      in die oggend was dit nog donkernag dan sien ek:

      dan wag hy by sulke garingbome dan wag hy

      dan speel ons daar ons skiet voëltjies ons ry perd

      so skuif ons af skuif ons af spruit toe tot die oumies

      met die kappie uitkom en roep soos Matjama was

      so was ek ons eet pap uit een skottel eenuur

      dan eet Matjama sy bordjie dan eet ek my bordjie

      dan eet hy nie mooi nie dan bring die oumies hom uit

      dan sit hy by my dan eet ons saam ek ken Matjama

      goed goed soos ek my ken as daar ’n witmenskind

      kom en hy wil speel dan hoor ons nie wat hy praat nie

      Matjama ook nie Matjama verstaan ook nie

      witkindertaal nie totlat hy skool toe gaan

      toe is ons uitmekaar tot dan toe was ons

      gelyk-gelyk toe gaan hy my goed verby

      toe sê ’n ander baas: baas Willem soek jou

      daar op Senekal by die kafee toe wag ek vir hom

      maar ek was bang ek onthou hom nie mooi nie

      wat ek goed onthou het was die strepie

      Matjama

Скачать книгу