Mede-wete. Antjie Krog
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Mede-wete - Antjie Krog страница 6
hou jou oor teen die skeur van my land
Cynthia Ngewu:
dié ding wat
hulle versoening
noem . . . as ek dit
reg verstaan . . .
as dit meen dat die
oortreder die man
wat Christopher
Piet vermoor het as
dit meen dat hy weer
menslik word hierdie
man sodat ek, sodat
almal van ons ons
menslikheid kan
terugkry . . . dan
stem ek saam dan
ondersteun ek
dit
eksposisie: mnr Barnard het sy menslikheid verloor hy
kon moor omdat hy nie langer menslik was nie
om hom te vergewe open die moontlikheid vir hom
om volkome te verander en sy menslikheid te herbekom
om haar seun te ontbeer het vanselfsprekend
ook haar eie menslikheid geaffekteer
indien die moordenaar ontbrand deur vergifnis begin
om te verander en sy mede-menslikheid te herwin
open dit vir ons almal die moontlikheid
om te begin uitreik na ons eie volle menslikheid
maw ek vergewe jou sodat jy kan
verander hier heel word hier
sodat ek my eie interverweefdheid-tot-samehang kan
herstel om my volle mensheid reeds op aarde te vier
teen-eksposisie: mnr Barnard verstaan nie vergifnis so nie
hy glo aan die individu en dat net Jesus hom kan vergewe
met ’n vergifnis wat hom ’n nuwe mens in die hiernamaals maak
amnestie is bloot ’n wetlike proses want moor was ’n opdragsaak
met dieselfde verbystering wat hy ongevraagd vergifnis ontvang
het ontvang hy nou die woede en wrok van mense wat sien
dat hy nie verander nie dat hy nooit sal verander nie
omdat hy nie verbonde aan hulle voel nie en hulle besef
hulle het vergeefs interverbondenheid probeer inweef in
die concrete bunker wat in mnr Barnard se witheid leef
mirakel
ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak
ek het geen ander land
as dié land nie
mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde
ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land
was ’n wonder – onkant en lighoofdig bly
dit my by die weergaloosheid bly my by
ek weet die land wat nou in proteste brand is
eenmalig gefabriseer uit hoop – dit bly my by
selfs terwyl alles skrompel te kort skiet in
duie stort sneuwel ’n bespotting word – soos
sand sif die oomblik wat as pendant vir wraak
ons eenmaal gegun is tussen ons vingers weg
ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak
ek het geen ander land
as dié land nie
prikkelbaar beledigd vermors ons mekaar
en vergiet strafloos mekaar se lewens
ons wou ’n toeverlaat skep vir die armes die gewones
die helde die lieflikes die talentvolles die verminktes
maar ons begraafplase slik van infeksie-geïgnoreerdes
vermoordes verkragtes hartgebrokenes
ek weet my land is eenmalig
gefabriseer uit hoop – dit bly my by
terwyl ons luister na die waaiergeluide
van ons leiers gortdor van niksheid
mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde
ons is besig om die prooi van onsself te word
vasgevang in hebsug en ’n onvermoë tot visie
ons het geen benul meer van hoe om anders te wees as
gewelddadig en angstig, as brutaal teenoor mekaar nie
ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak
ek het geen ander land
as dié land nie
mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde
ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land
was ’n wonder – onkant en lighoofdig bly
dit my by die weergaloosheid daarvan
bly my by
(na