Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 4

Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

ek sal nooit met ’n chirurg of ’n geneesheer trou nie. My man sal eendag vasgestelde werkure moet hê, of anders trou ek glad nie.”

      “Wie is die gelukkige man wat jou as vrou gaan kry, Rina?” wil Carla met ’n glimlaggie weet.

      “Wel, ek weet nie so mooi of hy juis gelukkig gaan wees nie,” antwoord Rina. “In elk geval, ek het ’n vriend tuis. Maar of ek met hom sal trou, is ’n ope vraag. Hy is ’n professor aan die universiteit, maar so ’n ou droë stoppel het jy nog nooit in jou lewe gesien nie. Soms hou ek nogal van hom, maar meestal verveel hy my hartlik.”

      “As hy jou verveel, moet jy liewer nie met hom trou nie,” raai Marco haar aan.

      “Ek dink jy het reg,” stem Rina saam. “ ’n Mens trou nie met iemand wat jou soms verveel nie. Ek hou van pret, plesier en ’n opwindende lewe. Wanneer ek dood is, kan ek begrawe word, maar baie beslis nie voor my dood nie. Maar wag, ek dink dis tyd dat ek my klere begin aantrek. Daardie drie Amerikaners sal stellig oor ’n uur of wat met die boot hier verbykom, dan wil ek gereed wees.”

      “Dit spyt my, maar ek gaan jou nie toelaat om jou klere oor daardie nat baaikostuum aan te trek nie, señorita Rina,” val Conzalo haar streng in die rede. “Kom, jy gaan eers in ’n warm bad ontspan. Daarna kan jy jou klere aantrek.”

      “En jou huiswerkers wat my nie in ’n kortbroek mag sien nie, señor marquês?” vra Rina met ondeunde pret.

      “Ons sal van ’n sydeur gebruik maak,” verklaar die edelman. “Sodra jy gebad en aangetrek het, sal ek persoonlik toesien dat jy buite sig van die huiswerkers bly.”

      Daar is ’n tergende glans en ’n vonkeling in Rina se oë wat die edelman se oog nie ’n oomblik ontgaan nie. Die man is inderdaad skerpsinnig en noulettend.

      “Maar, señor marquês,” kap sy met ’n vroom gesiggie terug,

       “wat sal jou vrou en kinders daarvan sê as hulle moet weet dat jy ’n jong meisie êrens in jou castelo versteek? Ek vrees dit gaan ietwat verdag lyk. En wat nog as die skindertonge en die media dit te hore kom? Stel jou die opskrif voor: ‘Bekende en gerespekteerde marquês versteek jong meisie in castelo.’ Glad nie vleiend vir jou adellike naam nie.”

      Carla en Marco vou byna dubbel soos hulle lag. Om Rina se aanloklike lippe is slegs ’n sweem van ’n glimlaggie, maar haar oë lag die marquês openlik uit.

      Die edelman kyk haar opsommend aan, maar Rina se blik huiwer nie ’n oomblik voor syne nie. Toe vernou sy oë met­eens, asof hy wil sê: Jy het ’n skerp verstand en ’n gladde tong, maar jy sal my nie om jou vinger draai nie; nie jý nie, niemand nie! Maar hardop sê hy bloot: “Ek is jammer om jou teleur te stel, señorita, maar ook ek is nog ongetroud.”

      “Dis nog erger,” val sy die man met ’n ondeunde blik en ’n ernstige gesig in die rede. “In daardie geval sal die opskrif lui: ‘Ongetroude marquês versteek skraps geklede jong dame in castelo.’ Nee, ek vrees dit sal jou reputasie ernstig skaad, señor. En wat van die huiswerkers wat jou met middagete moet bedien? Jy sal my nie heeltemal kan versteek nie, weet jy?”

      Rina moet hard veg teen die lagbui wat in haar opstu. Maar sy slaag wonderbaarlik daarin om nie eens te glimlag nie. Sy weet sy het hierdie trotse, konserwatiewe man nou netjies in ’n hoek gedryf.Vandag, die heel eerste keer, voel sy bly dat sy so klein van gestalte is. Hy sal nie maklik ’n rok vind wat haar sal pas nie.

      Ja, die marquês sit nou werklik in die knyp. Hy het Rina vir middagete genooi, maar in ’n kortbroekie durf sy ook nie voor sy huiswerkers verskyn nie, nog minder aan tafel in sy fabel­agtige castelo. Hy is ’n bekende figuur in Portugal, invloedryk en deur almal geëer en gerespekteer. Almal ken hom as ’n man met vaste beginsels, ’n man wat streng opgevoed is in die ou Portugese tradisie van edelliede en pynlik gesteld op etiket.

      Maar van al hierdie dinge weet Rina niks nie; trouens, sy weet niks van die edellui van Portugal se gebruike en konvensies nie. Sy ken slegs die gebruike en konvensies van haar eie mense in Suid-Afrika, daarom vervies sy haar so vir hierdie konserwatiewe man se pynlike preutsheid. Sy waardeer sy besorgdheid in verband met haar gesondheid, maar sy nougesetheid staan haar glad nie aan nie; juis daarom verskaf dit haar groot plesier om hom te skok, uit te tart en in ’n hoek te dryf.

      Ja-nee, sy gaan nog baie pret hê met hierdie man. Sy hoop van harte dat sy nog baie met hom te doen gaan kry voordat sy uit Portugal vertrek.

      “Ek is glad nie van plan om jou te versteek nie, señorita,” sê Conzalo. “Ek wil jou slegs buite sig hou van my huiswerkers, wat nog nooit ’n gas in my castelo so skamel geklee gesien het nie. Ek sal beslis nie daarvan hou dat hulle jou onbetaamlike kleredrag agteraf bespreek nie.”

      “Ek dink jou probleem is opgelos, señor,” voeg Rina die edelman bedaard toe, neem haar handsak by Marco en haar klere wat oor Carla se arm hang.“Ons het nou so lank hier op die rivierwal in die son vertoef dat my baaiklere reeds droog is.” Sy verwyder die marquês se baadjie wat om haar skraal skouers hang en hou dit beleef na hom uit. “Dankie dat jy my jou baadjie geleen het. Ek sal nou regkom.”

      Die volgende oomblik glip sy vinnig in haar helderrooi bloesie en wit kortbroekie. Sy trek haar strandsandale aan en kyk die edelman ongeërg aan.

      “Nou hoef ek nie meer na jou castelo te gaan nie. As ek verkoue moet kry, is dit reeds te laat om dit te keer. Ek sal hier op die rivierwal sit en wag totdat my vriende terugkeer,” sê sy.

      “Ek vrees die windjie is besonder koel vandag, señorita,” laat Conzalo onverstoord hoor. “Jy gaan ’n dodelike koue opdoen met daardie skrapse bloesie aan.” Hy wil net weer sy baadjie om Rina se tenger skouers hang, maar sy keer hom dadelik.

      “In daardie geval sal my strandjassie warmer wees as jou baadjie,” sê sy.

      Met vlugge hande maak sy haar strandsak oop en haal ’n deftige, geblomde strandjassie, van kreukeltrae stof en wat met ligblou satyn uitgevoer is, uit die sak. Sy trek die jassie aan en rits dit versigtig voor toe. Nou lyk dit kompleet asof sy ’n minirokkie aanhet. Sy plaas die kamera in die strand­sak, haak haar arm deur die handvatsels van die sak en spreek Conzalo bedaard aan: “Ek hoop jy gee nie om dat ek hier op jou eiendom vertoef terwyl ek op die motorboot moet wag nie, señor marquês.”

      “Ek hou niks daarvan om jou hier alleen te laat nie, señorita,” kom dit met ’n tikkie besorgdheid van Conzalo. “Met jou strandjassie aan, lyk jy nie te hopeloos onbehoorlik geklee nie.”

      “Ek verkies om hier te wag, señor,” val Rina hom met finaliteit in haar stem in die rede.“Jy moet liewer nou gaan, anders sal jy laat wees vir ete.”

      “Wanneer sien ons jou weer, Rina?” wil Carla teleurgesteld weet. Sy hou van hierdie Suid-Afrikaanse meisie wat so openlik opstandig is teen Conzalo se gesag. Dit sal inderdaad prettig wees om haar vir ’n vriendin te hê.

      “Sodra jy my by die hotel besoek,” sê Rina. “Maar ek sal stellig môre uitstedig wees. Dit is die Summers-gesin se laaste dag hier in Lissabon, en gevolglik het hulle my gevra om hulle môre na die koetsmuseum in Belém en die ou koninklike paleis in Queluz te vergesel.”

      “Hoe lank gaan jy hier in Lissabon vertoef, Rina?” wil Marco belangstellend weet.

      “Niks langer as drie weke nie,” antwoord Rina. “Daarna vertrek ek na die noorde. Ek sal stellig by Santarém en Coimbra aandoen, onderweg na Oporto. In Oporto sal ek ook drie weke vertoef voordat ek na Spanje vertrek.”

Скачать книгу