Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 6

Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

rond en vind eindelik een wat geskik sal wees om vanaand te dra. Dis ’n lang swart aandrok waarvan die romp uit vyf lae sluiersy bestaan, besaai met swart blinkers wat met die geringste beweging soos liggies skitter. Die lyfie is nousluitend met ’n paar blinkertjies om die hals.

      Voordat Rina eetsaal toe gaan, neem sy maar eers weer ’n hoofpynpil, aangesien haar hoofpyn nou toeneem. Aan tafel het sy nie juis ’n eetlus nie, maar wurg nogtans so ’n bietjie van alles af, aangesien sy nie middagete genuttig het nie. Vanaand is al vyf haastig. Hulle moet hulle nog gaan verklee vir die dansparty, gevolglik word daar nie onnodig aan tafel getalm nie.

      Dis byna nege-uur toe Rina en die Summers-gesin voor die stadsaal uit die twee taxi’s klim. Net die punte van Rina se fyn goudkleurige skoene is sigbaar toe hulle die ruim saal binne­tree. Haar hoofpyn het nou gewyk en sy voel weer in haar element.

      Daar is egter so ’n gedrang in die saal dat Rina nie eens die marquês, Carla en Marco raaksien wat daar eenkant in die geselskap van twee ouerige vroue by ’n tafeltjie sit nie. Maar Conzalo, sy neef en niggie was op die uitkyk vir haar, dus het hulle dadelik gesien toe sy in die geselskap van die Summers-gesin die saal binnetree. Die edelman is werklik verras om Rina vanaand so stemmig geklee te sien. Hy het verwag dat sy ’n uiters gewaagde tabberd sou aanhê.

      Daar is ’n ondeunde lig in die ou marquesa en haar suster se oë, daar waar hulle half in die middel van die kolossale vertrek op ’n kelner wag om hulle na hul tafel te neem. Carla het haar ma en tante die middag omslagtig van hul ontmoeting met die beeldskone Rina vertel en hoe sy Conzalo ’n paar keer, sonder om te skroom, vermaan en weerspreek het. Daarna kon dit nie hoër of laer nie, hulle wou hierdie buitengewone dametjie self ontmoet. Nog nooit het iemand dit gewaag om Conzalo te weerspreek nie . . . Ja-nee, dié Rina Verhoef moet beslis ’n buitengewone mensie wees om Conzalo op sy plek te wil sit, het die twee vroue geredeneer.

      Noudat hulle Rina met hul eie oë aanskou, kan hulle byna nie glo dat so ’n fyn en klein mensie oor soveel durf beskik nie. Maar albei is dit eens met Carla: Rina is inderdaad die mooiste meisie wat hulle nog ooit gesien het. Haar fyn, hartvormige gesiggie, fynbesnede neus, sagte mond en fyn geboogde ligbruin wenkbroue herinner hulle sterk aan ’n pragtige Dresdenpoppie. Sy is fyn en klein, tog in alle opsigte volmaak. Selfs haar blonde hare blink soos ou goud.

      “Wel, ek moet sê jy het glad nie oordryf toe jy die jong Rina Verhoef aan ons beskryf het nie, Carla,” glimlag die ou marquesa, Conzalo se ma. “Ek sal eerder sê dat jy die helfte van haar skoonheid nie aan ons beskryf het nie. Wat sê jy, Ada?”

      “Ek stem volkome met jou saam, Astrid,” beaam die marquesa se suster, die señora Ada de Mora. “Ook ek het nog nooit so ’n beeld van ’n meisie gesien nie.”

      Onderwyl die adellike De Valcadas en De Moras die Suid-Afrikaanse skoonheid sit en bespreek, het ’n kelner eindelik sy verskyning gemaak en Rina-hulle geneem na die tafel wat vir hulle bespreek is. Meneer Summers bestel ook sommer dadelik vir elkeen ’n drankie, maar Rina verkies ’n vrugtedrankie. Sy is nie lief vir sterk drank nie.

      “Jy is vanaand die mooiste meisie in die hele saal, Rina,” sê Basil, “dus bespreek ek die eerste dans met jou. Ek weet al by voorbaat dat die kêrels ná die eerste dans soos ’n motreën op jou gaan toesak.”

      Rina laat Basil toe om haar na die dansbaan te lei, onbewus van die talle oë wat haar van alkante met bewondering beskou.

      Dis ’n stadige wals wat die orkes speel. In ’n ommesientjie wemel die baan van dansers. Ook Carla en Marco is tussen die dansende pare.

      Die jong marquês dans egter nie. Maar daar waar hy by sy ma en tante sit, ’n indrukwekkende figuur in sy foutlose aandpak, volg sy donker, deurdringende blik elke grasieuse beweging van Rina. Vanaand lyk sy vir hom net soos ’n glinsterende ster in daardie swart aandrok wat vol liggies skyn te wees. Hy merk die hoë hakke van haar netjiese skoene en dan is dit meteens asof die harde lyne om sy mond ietwat versag. Ja, dit lyk byna soos ’n glimlaggie wat aan die hoeke van sy mooi, karaktervolle mond raak. Sy blik dwaal na haar glansende hare, na die stylvolle kapsel. Dis vir hom duidelik dat sy een van die mees modieuse vroue in die saal is. ’n Mens sal nooit sê dis dieselfde klein rabbedoe wat hy vanoggend uit die rivier gehelp het nie. So op die oog af lyk sy die verfyndheid self.

      Die musiek loop meteens ten einde. Op dieselfde oomblik kom Conzalo orent en loop Rina en Basil halfpad na hul tafel tegemoet.

      Hy groet hulle bedaard, draai na Rina en sê met ’n onpersoonlike stem: “Veroorloof my om jou aan my ma en my tante voor te stel, señorita.”

      Rina kyk die man met ’n onpeilbare blik aan. Die volgende oomblik dans haar oë weer van loutere ondeundheid. “Met plesier, señor marquês,” antwoord sy beleef.

      Hy neem haar arm en lei haar versigtig na sy tafel.

      “Is Carla en Marco ook hier?” vra Rina belangstellend. “Hulle is albei hier, señorita, en sal stellig baie bly wees om jou weer te sien. Carla het my ma en my tante van ons onverwagte kennismaking met jou vertel, gevolglik is die twee baie gretig om ook met jou kennis te maak.”

      Hier waar Rina en Conzalo oor die breedte van die saal beweeg, besef hulle nie eens hoe ’n seldsaam aantreklike paartjie hulle uitmaak nie. Hulle merk nie die talle blikke op wat hulle met openlike goedkeuring volg nie.

      Ook in die ou marquesa se donker oë is daar nou ’n nuwe lig, ’n vreemd geheimsinnige lig, terwyl haar blik op Rina en haar lieflingseun rus. Daar is drome in haar oë, silwer drome oor haar seun se toekoms, drome waarvan slegs sy weet.

      Eers toe Rina en Conzalo hul tafel bereik, merk die ou marquesa hoe pragtig Rina se oë werklik is. Maar dan onderbreek Conzalo se stem haar gedagtes.

      “Laat my toe om die jong señorita Rina Verhoef aan julle voor te stel . . . My ma, die marquesa De Valcada, en my tante, señora De Mora.”

      Rina groet Carla en Marco wat nou ook van die dansbaan af teruggekeer het.

      “Doen ons asseblief die eer aan en sit ’n rukkie hier by ons, señorita . . . of sal ek jou ook maar ‘Rina’ noem, soos Carla en Marco?” versoek die ou marquesa met ’n vriendelike stem.

      “U kan dit met plesier doen, señora marquesa,” antwoord Rina met ’n vriendelike glimlaggie.

      “Señorita, veroorloof my om hierdie dans met jou te dans,” val die jong marquês weg voordat sy verder kan praat.

      Rina kom grasieus orent en kyk die jong man met openlike spot aan. “O, ek verstaan nou mooi,” sê sy, “noudat ek ’n rok aanhet, gee jy nie om om saam met my gesien te word nie, señor. Maar ek sal hierdie dans met jou dans. Dis dalk net mooi die laaste keer dat jy my in ’n rok sal sien.” Die vier om die tafel begin hartlik lag, maar die trotse marquês vind geen humor in die situasie nie. Hy weet dat sy hom nou doelbewus uittart oor vanoggend se dinge. Hy neem daar en dan ’n besluit om haar nog mak te maak.

      Conzalo kan homself glad nie verstaan nie. Rina is die soort meisie na wie hy nie twee keer sou gekyk het nie. Haar uitgesprokenheid, eiesinnigheid en uittarting, tesame met haar gewaagde kleredrag, is alles dinge wat hom dwars in die krop steek. Tog kan hy sy oë nie van haar afhou nie, nie eens wanneer sy in ’n kortbroek of ’n bikini geklee is nie. Dis kompleet asof sy ’n towerspel op hom geplaas het.

      In stilte lei hy haar na die dansbaan. Die orkes speel ’n dromerige tango toe hy haar in sy arms neem. Grasieus beweeg hulle oor die baan op die meesleurende maat van die musiek. Die sagte aroma van haar hare styg behaaglik in sy neus op. Onbewus daarvan, hou hy haar effens stywer teen

Скачать книгу