Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 18

Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

vandag hierdie kind voor die ander moet beledig, sal sy nie verantwoordelikheid vir haar dade aanvaar nie. Sy weet, sonder dat Gustav dit hoef te erken, dat dit oor die pille gaan wat hy vir haar moes gebring het.

      Adolf kyk verbaas na haar as hy die veglus in haar oë sien en hoe sy die groot seun wat ’n hele kop langer is as sy, met haar skraal liggaam wil verdedig. Skaamte stoot in hom op. Sy is so anders as Frau Maria. Hoeveel keer het hy nie al die kinders onnodig gestraf nie? Hy het hulle nog nooit ’n kans gegee om te verduidelik nie. Vanoggend het hy die eerste keer gesien met hoeveel duiwelse genot sy ’n klein oortredinkie kan verander in iets leliks en boos.

      Daar het vanoggend ’n gordyn voor hom oopgeskuif. Ou Bernard wat altyd so formeel en korrek is … van hom was daar nog nooit enige klagte gewees nie. Hy het maar op sy manier probeer om die kinders se tyd hier makliker te maak.

      Hy wonder waaruit spruit Maria se wrok teen ryk mense. Sy het briesend aangekondig dat sy teruggaan en nie ’n dag langer gaan bly as hy haar woord in twyfel trek nie. Hy het haar nie eers probeer keer nie, net vir Bernard gevra om reëlings te tref sodat sy kan teruggaan. Eers tot op Swakopmund waar sy sal wag vir ’n boot terug Duitsland toe.

      Adolf lek oor sy lippe en steek sy hand na Christa uit. Christa wat die ergste verwag, glo sommer dat hy Gustav aan die bors wil gryp en keer met haar lyf dat hy Gustav nie kan bykom nie. “Nie voor die kinders nie,” sis sy en woede blink in die groen oë.

      Sy draai kalm na die kinders wat hulle met pieringoë aankyk. “Julle kan maar eers onder die bome gaan speel,” sê sy so kalm moontlik. Die kinders bondel soos ’n trop skape by die deur uit, bang dat hulle ook in die moeilikheid gaan beland.

      Adolf laat sy hand verslae sak, en kyk nou verleë na haar as sy haar ken lig en dreigend voor hom staan.

      “Baron, ek het hom gestuur om vir my ’n pynpil te gaan haal. As daar klappe uitgedeel word, dan is dit vir my wat jy moet klap! Ek het nooit gedink dat jy werklik so laag sal daal nie.”

      “Maar ek –” Adolf kyk haar onthuts aan.

      “Fräulein …” Gustav gee ’n tree vorentoe en kom staan langs haar. “Dit was nie die baron wat my geslaan het nie, dit was Frau Maria. Die baron moet my nog straf.”

      “O!” Die wind is heeltemal uit Christa se seile. Sy kyk na Gustav wat nou voor hom na die grond staar en sy ontwyk Adolf se ondersoekende blik. “Ek … e … ek is jammer!” stotter sy ongemaklik.

      Adolf steek weer sy hand uit en maak dit oop sodat die twee wit pilletjies koggelend in die palm van sy hand lê. “Bernard sê jy voel nie lekker nie.” Hy kyk na die bleek gesiggie en die donker kringe onder haar oë en ’n oorweldigende skuldgevoel roer in hom. Kurt is al die hele week lank siek. Gedurende die dag kyk die kinders na hom; hulle los mekaar elke uur af terwyl sy aangaan met die klasse. Maar in die nagte waak sy langs sy bed.

      Verleë en heeltemal uitgeput, vat sy die pille by hom. “Ag! … Dit was nie al die drama werd nie …” sê sy skugter.

      Hy kyk na die groen oë wat verward na hom staar en iets krimp ineen in sy binneste. Sy glo waaragtig dat hy die kind deur die gesig sou slaan en dit omdat hy ’n pil kom soek het. Wat die seerste maak, is die wete dat sy alle reg het om so op te tree want hy het hom nog nooit anders as buffelagtig teenoor die kinders gedra nie.

      Adolf haal ’n sleutel uit sy sak en hou dit na haar uit. “Die medisynekas se sleutel. Jy kan dit enige tyd gebruik, dit is waarvoor dit daar is,” sê hy stil.

      Daar is ’n totale ongeloof op Gustav se gesig en Adolf ontwyk skaam die kind se blik.

      “Wat … wat sê Frau Maria van … van so ’n reëling?” vra Christa ongelowig as sy haar hand uithou vir die sleutel.

      “Frau Maria gaan terug Duitsland toe … Ek het gereël dat iemand haar terugneem Swakopmund toe.”

      Christa en Gustav staar hom aan asof hulle ’n spook gesien het. Die blydskap wat skielik in die kind se oë flits, kan jy ook nie miskyk nie. Hy wonder wat hulle reaksie sal wees as hý moet weggaan.

      “Ek dink jy moet ’n bietjie gaan rus. Gebruik een van die ander kamers sodat Kurt jou nie hinder nie. Gustav, die kinders hoef nie vandag terug te kom vir lesse nie. Sorg net dat hulle nie vir Fräulein hinder nie,” sê Adolf vreemd in die nuwe rol.

      Die trane blink onverwags in Christa se oë en Adolf wens hy kan dit met sy hand van haar wang af vee.

      Ongeloof straal vanuit Gustav se blik. “Gaan … gaan baron my nie straf nie?” vra hy hees.

      Adolf wil iets kortaf sê sodat hy nog steeds die leisels in die hand kan hê, maar hier in hom is ’n gevoel van teerheid en ook ’n drang na erkenning. Sy gee die kinders net liefde, en hulle gee so mildelik terug. Hulle gehoorsaam haar omdat hulle vir haar lief is en nie uit vrees nie.

      Hy trek sy skouers op. “Dit was mos nie ’n oortreding nie. Bernard het verduidelik.” Hy skaam hom vir die uitdrukking in die kind se oë. Gustav het nooit ’n kans gekry om te verduidelik nie. As dit nie vir Bernard was nie, sou hy dalk weer so opgetree het.

      Christa stuur Gustav na buite en hy hardloop behoorlik by die deur uit.

      Christa draai skaam na Adolf. “Ek … ek is jammer dat ek u beskuldig het. Ek het nie gedink Frau Maria sal die kinders te lyf gaan nie, daarvoor was sy te subtiel.”

      “Jy looi hulle dan?”

      Christa kyk vinnig na hom en die tergliggies in sy oë maak haar knieë skielik lam en bewerig.

      “Hulle was ook so onmoontlik …” maak sy lamlendig verskoning.

      Adolf se hart klop swaar en moeisaam in sy binneste. Sy is mooi! Mooi op ’n ander manier as wat Karla was. Sy is eerlik en opreg. Daardie groen oë weerspieël elke emosie in haar hart.

      Adolf maak geen aanstaltes om te loop nie, kyk haar net met daardie vreemde teer en effens verwilderde uitdrukking aan. Christa lek oor haar lippe en is onmagtig om hierdie eienaardige spel te verbreek.

      “Ek … ek sal maar by Kurt gaan lê, dan … dan kan Stefan ook gaan speel,” sê sy om haar gedagtes op ’n veiliger pad te kry. “En … en baie dankie, ek kan doen met ’n bietjie slaap.”

      Hy val stil langs haar in pas as sy na haar kamer gaan en draai vir haar die deur oop sodat sy kan ingaan. Stefan glip vinnig by hulle verby, dankbaar dat hy nie in die baron se geselskap hoef te wees nie.

      “Is jy seker jy wil hier kom rus? Ek kan ook maar ’n rukkie hier by hom sit,” stel Adolf ongemaklik voor.

      “Ja, ek is seker. Hy slaap nou, hy sal my nie hinder nie.” Adolf knik en trek die deur net halfpad toe sodat hy later kan kom inloer.

      Christa drink die twee pilletjies en gaan lê met klere en al op die bed. Die saligheid van die sagte bed vou soos moederarms om haar. Haar asemhaling raak rustig en egalig.

      Kurt sit verras regop as hy ’n slag wakker skrik en haar op die groot bed sien lê. Hy gooi sy kombers af en gaan klim suutjies agter haar rug in. Hy skuif vas teen haar skraal liggaam met sy een arm styf om haar middel terwyl ’n salige glimlaggie om sy lippe plooi.

      Wanneer Adolf ’n halfuur later kom inloer, slaap hulle vas en rustig. Saggies sluip hy nader en gaan haal Kurt se kombers en kom maak hulle

Скачать книгу