Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 19

Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

skrik en sy loer lui deur haar wimpers, vas onder die indruk dat dit Kurt is. Sy voel egter die skraal armpie om haar middel en dan sien sy die groot gestalte stadig by die deur uitsluip. Haar hart klop wild en onstuimig maar die moegheid gee haar nie lank kans om daaroor na te dink nie.

      8

      “Peter, kom sny jy liewer die brood, Udo is besig om dit in vier te deel …” lag Christa en Udo gee sonder enige kwade gevoelens die broodmes vir Peter.

      “Hoeveel van hierdie wors moet ek nog insit?” Jurgen von Brandis is besig om ’n enorme pan vol wors te rol.

      “Dit is genoeg!” keer Christa. “Julle is net elf seuns, ons gaan nie die hele Duitse ryk kos gee nie!”

      “Ek sal eiers bak,” bied Carel aan en Niko staan ook nader.

      “Nee, nie julle twee nie,” sê Christa beslis. “Julle bly weg van alles wat breekbaar is.” Hulle trek hulle skouers gelate op soos mense wat hulle eie beperkinge ken.

      “Kurt …” Christa vou die kombers stywer om sy blaaie vas. “Kry jy nie koud nie?” Hy skud sy kop ontkennend. Hy sit op ’n stoel teenaan die tafel sodat hy niks van hierdie pret misloop nie.

      “Nee, Fräulein, dit is lekker hier in die kombuis … ons … ons almal so bymekaar.” Kurt klink so tevrede met die lewe.

      “Ja, dit is lekker,” sê Niko en kom staan nader aan Christa. “Veral nadat die ou baron weg is.”

      “Ja, en die ou Kommandant!” voeg Carel by, die verligting in sy stem duidelik hoorbaar. Christa vee oor sy hare en druk ’n soen op sy kroontjie. As hy opkyk na haar, is daar soveel liefde en verering in sy blou oë dat dit aan goddelikheid grens.

      Peter Strauss, wat altyd so stil en eenkant is dat ’n mens skoon van hom vergeet, het die afgelope week sedert Frau Maria weg is, ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Hy praat nog steeds nie veel nie, maar vang stil-stil die onmoontlikste goed aan.

      Adolf het toe self vir Frau Maria tot op Swakopmund geneem. Hy het vir Bernard gesê dat hy werk het om te doen daar en so twee weke uithuisig sal wees.

      Hannie, Simon se vrou, het kom uithelp met die kosmaak en Bernard en Christa het Frau Maria se ander pligte onder hulle verdeel. Bernard doen inspeksie in die seuns se slaapkamer en sy … sy het sommer alles geword: nutsman, onderwyseres, verpleegster en ma.

      Hannie kook heerlike boerekos en die seuns dink sy het direk uit die hemel geval. Maar om haar ’n blaaskansie te gee, het sy vanmiddag vir Hannie afgegee en sy en die seuns maak vanaand self kos.

      “Gustav, jy en Johann en Heinz moet vir ons tafel dek.” Christa gee bevele terwyl sy die plaasbotter lekker dik op die vars bruinbrood smeer.

      Gustav haal die eetgerei uit die laai en moet Christa effe opsy stoot om dit by te kom. “Staan soontoe,” sê hy laggend. “Ou Mutti!” voeg hy skalks by.

      Christa glimlag met hom en daar is ’n blinkerigheid in haar oë as sy skielik haar arms om hom sit om hom ’n drukkie te gee.

      “Dankie, Gustav … dit is die mooiste kompliment wat ek nog gekry het,” antwoord sy opreg.

      Gustav lag en sit sy hande op haar skouers. Hy hou haar ’n entjie van hom af weg. “Maar Fräulein is ons Mutti! Jy is al ma wat ons nog het.”

      Daar is iets vreemds, iets ernstigs in die kombuis as die ander kinders alles los waarmee hulle besig is en stil na Gustav en Christa kyk.

      “Mutti …!” Klaus rol die woordjie op sy tong. “Dit is lekker om dit weer te sê.” Daar is soveel verlange in sy ou stemmetjie dat Christa vinnig nader staan en hom ook styf teen haar vasdruk.

      Almal lag en praat nou gelyk en as Christa na Kurt loer wat stil eenkant sit, is daar ’n blink traan op sy wang. “En nou, ou Kurtie …?” vra sy teer en vee die traan van sy wang af.

      “As … as Fräulein almal se Mutti is … dan gaan jy nie meer vir my lief wees nie,” snik hy en snuif liggies.

      “Nee man, sy sal!” Klaus vee broederlik oor Kurt se hare. “Ons is een groot familie en jy is die baba … en die baba word deur almal bederf.” Kurt glimlag tevrede en kyk na die ander, nou met ’n heeltemal nuwe lig in sy oë.

      “Ons moet eintlik ’n pa ook gehad het. ’n Pa is lekker … my pa was!” sê Niko en draai vinnig om sodat die ander nie die nattigheid in sy oë moet sien nie.

      “Wat van Bernard?” vra Udo en sy lippe pers opmekaar sodat sy wange uitbol. Hy kyk hulle uit die hoogte aan oor so ’n slim voorstel.

      “Nee, man!” Carel skiet dié voorstel af. “Hy is te oud. Hy kan eerder die oupa wees, oupas is ook lekker!” gee hy toe.

      Jurgen gaan staan kiertsregop met ’n kwaai frons op sy voorkop. “Wat van die baron?” vra hy koud en afsydig.

      “Jy moet vir jou snaaks hou! ’n Mens maak nie sulke grappe nie!” Peter klap hom agter sy kop dat hy ’n paar treë vorentoe skuifel. Die ander ondersteun Peter luidkeels met allerhande aanmerkings wat glad nie vleiend teenoor die baron is nie.

      Daar is ’n vreemde jammerte in Christa vir die arme eensame, verbitterde Adolf von Leipsig.

      “Stefan, gaan kyk of die wors al gaar is, ons wil nie houtskool eet nie. Udo, dra asseblief die brood tafel toe. Carel, gaan haal vir ons tamaties, en Peter, kry die eiers dat ons dit gou kan bak.” Christa deel vinnig bevele uit om hierdie vreemde verlatenheid in haar binneste hok te slaan.

      “Goed, Mutti!” antwoord hulle stuitig in ’n koor en so onbeplan word sy herdoop en met naam en al diep in elke seunshart gevestig.

      Die week snel verby en dit is nog steeds met hierdie vreemde jammerte in haar hart vir die baron, dat sy eintlik seerkry as sy sien hoe die seuns die dae probeer verleng.

      Hannie vind geleidelik haar voete en die seuns het haar behoorlik in die sak. Hulle hardloop tydig en ontydig by die kombuis in op soek na iets om te eet. Die gesprekke tussen die seuns en Hannie, wat geen Duits kan praat nie, is maar baie gebrekkig. Hulle beduie met handgebare, sodat Hannie hulle soms laggend met die vadoek by die deur uitboender, tot groot vermaak van die ander.

      “Mutti, wat is ’n Apfeltorte in Afrikaans,” vra Udo terwyl hulle met wiskunde besig is.

      “Ai, Udo, dink jy altyd aan kos?” lag Christa en vee oor sy hare.

      Udo grinnik verleë. “Ek wil net vir Frau Hannie vra om vir ons een te maak, maar sy sal my nie verstaan nie.”

      “Julle het vir Frau Hannie heeltemal in die sak,” sê sy, maar hulle kan sommer hoor dat sy niks verkeerds daarin sien nie. “Julle moet net onthou die baron is seker Maandag terug en dan sal hy wil sien dat hier nog steeds dieselfde dissipline gehandhaaf word as toe hy weg is.”

      Gustav staan op en kom staan voor die klas. “Luister, ouens, ons het die baron belowe. Julle weet wat hy gesê het, dat hy Mutti sal terugstuur as hier nie dissipline is nie. As Mutti weggaan, kry ons weer iemand soos die Kommandant. As julle enige streke uithaal, sal ek self met julle afreken. Julle weet die baron gaan nooit terug op sy woord nie.”

      Christa glimlag met Gustav maar daar is ’n beklemming

Скачать книгу