Ver bo korale. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ver bo korale - Susanna M Lingua страница 2

Ver bo korale - Susanna M Lingua

Скачать книгу

      Maar dan sê haar ma: “Wel, eintlik wou ek maar net sê dat Niel ses maande lank oorsee was en pas tuis gekom het.”

      “Gelukkige vent. Dit moet bepaald aangenaam wees om ses maande lank in die vreemde rond te kuier,” sê Elaine sonder veel belangstelling in Niel Durandt se doen en late. Sy pa, oubaas Jacques, is algemeen bekend as ’n trotse ou rykaard wat neerbuigend neersien op sy minder gegoede medemens, en om daardie rede koester Elaine geen liefde vir oubaas Durandt nie.

      Die ontslape mevrou Durandt was nogal ’n aangename mens en op ’n manier nederig en vriendelik, maar van Niel weet sy nie veel nie. Trouens, sy sal hom nie eens meer herken as sy hom in die straat raakloop nie. Omdat hy tien jaar ouer is as sy, was hulle nooit saam in die skool nie en het hulle ook nooit met dieselfde vriende omgegaan nie. Dus het hulle mekaar baie selde gesien, en die afgelope sewe jaar glad nie.

      “Niel het nie in die buiteland gaan kuier nie, ounooi,” sê haar pa. “Hy het gaan kyk hoe die mense in daardie geweste boer. Sy reis was glo baie leersaam . . . Wat frons jy so, kleintjie?”

      “Verskoon my, ek was nie daarvan bewus dat ek frons nie, Pappa,” sê sy ietwat verleë. “Ek het maar net gewonder . . . Ek verbeel my ek het eendag iemand hoor sê dat Niel oor ’n landbougraad beskik.”

      Daan sit sy leë koffiekoppie op die koffiewaentjie neer en knik bevestigend.

      “Jy het reg gehoor. Niel het ’n landbougraad en glo nog iets. Hy is ’n vooraanstaande man, kleintjie. Hy is voorsitter van ons landbouvereniging, dien in die skool- en hospitaalraad.”

      “Verskoon my, Pappa, ek wil nie onbeleef wees nie, maar ek het nou heeltemal genoeg van die voortreflike Niel gehoor,” val sy haar pa onverwags in die rede. “Vertel my liewer hoe dit met tant Truia en oom Dirk Human gaan.Woon hulle nog op Avondrus?”

      Daan glimlag onderlangs.

      “Ja, hulle woon nog op Avondrus,” antwoord hy goedig. “Ek het vanmôre by hulle aangery op pad stasie toe. Tant Truia kla maar nog dat die rumatiek haar opkeil en oom Dirk . . . Nou ja, hy skiet nie meer spek nie, hy gooi nou sommer met die hele vark!”

      Elaine bars uit van die lag.

      “Dit is so tipies van oom Dirk,” sê sy met ’n laggie in haar stem. “As ek nie môreoggend my bromponie by die stasie moes gaan haal het nie, sou ek graag ’n draai by die twee oumense wou maak.”

      “Gaan kuier gerus vir hulle, ounooi. Ek sal jou rydingetjie by die stasie gaan haal,” bied Daan aan. Hy wil nog meer sê, maar Gerda spring hom rats voor.

      “Die . . . e . . . bromponie,” sê sy afkeurend. “Moenie vir my sê jy gaan die ding gebruik om jou pasiënte mee te besoek nie, Elaine!”

      Elaine lag saggies.

      “Hoe het Mamma geraai?” vra sy guitig.

      “Jy is nie ernstig nie, is jy?” Gerda kyk haar dogter bekommerd aan. Dit is vir haar nou baie duidelik dat vandag se jong mense die mees onverantwoordelike dinge aanvang. Verbeel jou, ’n bromponie!

      Maar dan hoor sy Elaine met ’n vrolike stem sê: “Ek is doodernstig, Mams. Ek kan tog nie ’n motor bekostig nie, en ’n bromponie is buitendien baie ekonomies . . .”

      “Ekonomies, ja, maar baie beslis nie gerieflik nie. Ek wonder wat jy gaan doen as ’n reën- of ’n haelstorm jou op ’n plaaspad oorval?” wil Gerda weet.

      Elaine glimlag breed en sorgloos toe sy sê: “Dis baie eenvoudig, Mams. Ek trek maar net my reënjas aan, en as dit ’n haelstorm is, gaan soek ek skuiling onder ’n boom. Dis al!”

      “Laat staan die kind, Gerda,” sê Daan. “As sy nie ’n motor kan bekostig nie . . . Nou ja, dan kan sy net nie! Op reënerige dae kan sy mý motor leen. So, noudat al die probleme uitgestryk is, sal ek seker kan gaan kyk wat die werksmense in my afwesigheid aangevang het . . .”

      “Nee, wag ’n bietjie, Pappa!” keer Elaine haastig. “Paps kan nie nou al gaan nie! Daar is mos nog iets wat Pappa my wil vertel, of het my ou paps al vergeet?”

      Daan sug asof hy meteens baie moeg is.

      “Nee, ek het nie vergeet nie, kleintjie,” sê hy en leun swaar terug in die stoel. “Dit is net nie vir my aangenaam om jou dit te vertel nie. Ek weet mos hoe lief jy ou Boskloof het . . .”

      “Dan . . . dan het dit iets met die plaas te doen?” Sy praat sag, maar haar blik dwing haar pa om aan te gaan en haar te sê wat hier op Boskloof aan die gang is.

      “Dit het alles met die plaas te doen, ounooi,” hoor sy hom weer sê. “Ek en jou ma moes jou natuurlik lankal vertel het, maar ons wou jou nie met ons probleme belas terwyl jy nog gestudeer het nie. Die afgelope jaar het ons weer gevoel dat ons jou eers ’n kans moet gee om jou voete te vind . . . In elk geval, dinge het die afgelope paar jaar so versleg dat ek genoodsaak is om Boskloof te verkoop . . .”

      “Boskloof . . . verkoop? Onmoontlik! Ek glo dit nie!” roep Elaine geskok uit. “Pappa kan mos nie so iets doen nie! Boskloof is dan die Enslins se familieplaas . . .”

      ’n Klop aan die voordeur laat Elaine meteens swyg. Sy wonder vererg waarom daar juis op hierdie oomblik besoekers moet opdaag. Kon die mense nie vervlaks op ’n ander dag kom kuier het nie? Sy moet haar pa sonder versuim oortuig dat dit ’n fout sal wees om Boskloof te verkoop.

      “Ek sal gaan kyk wie dit is,” sê Gerda. Sy staan sonder meer op en verlaat die sitkamer.

      “Pappa, ek kan nie glo dat dinge so . . . so erg kan wees nie,” sê Elaine verslae.

      “Dit is ongelukkig waar, kleintjie.” Daan se stem klink duidelik moeg en afgemat. “Glo my, dit was nie vir ons maklik om hierdie besluit te neem nie. Jy moet ook maar daarby berus. Dit help tog nie om teen die prikkels te skop nie . . .”

      Gerda se binnekoms, vergesel van Niel en oubaas Jacques Durandt, laat Daan meteens swyg.

      “Elaine het vanoggend met die tienuurtrein gekom,” sê Gerda vir die besoekers. Dan wend sy haar na Elaine. “Jy ken mos nog vir Niel en sy pa, Elaine?”

      Elaine knik bevestigend.

      “Ek onthou oom Jacques nog baie goed, Mamma,” sê sy. Sy kyk die besoekers met haar kenmerkende reguit blik aan en groet hulle onpersoonlik.

      “Môre, oom Jacques . . . meneer Durandt.”

      Die twee mans groet die jong meisie met die hand.

      “Ja, dag, niggie . . . e . . . doktertjie!” sê oubaas Jacques met die basstem wat Elaine nog so goed onthou. Die oubaas se oë gaan vlugtig, waarnemend oor haar fyn gelaat en dan vervolg hy: “Hm, so op die oog af lyk jy nie veel meer as ’n kind nie, al is jy nou ’n grootmens. Maar ek moet sê, noudat jy groot is, kan ’n mens sommer sien jy is oorle’ Herman se kleinkind. Met daardie bruin hare en groen oë lyk jy publiek nes hy . . . Ja, uitgeknip ou Herman!”

      “Dankie, ek voel geëerd om soos my oupa te lyk,” sê Elaine met ’n uitdagende intonasie in haar stem. Daan en Gerda kyk haar bestraffend aan, maar sy steur haar nie aan hulle verontwaardigde blikke nie. Hulle weet hoe sy oor die Durandts voel. Van kindsbeen af het sy ’n grief teen hierdie twee mans, en niks wat haar ouers

Скачать книгу