Ver bo korale. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ver bo korale - Susanna M Lingua страница 5

Ver bo korale - Susanna M Lingua

Скачать книгу

nou toe dan maar,” gee oubaas Jacques die stryd gewonne. “Ek sal haar anderdag op haar plek sit.”

      “Dit sal twee van jou soort neem om mý op my plek te sit, oubaas,” kap Elaine onthuts terug. “Jy het gans te ’n vry sê oor ander . . .”

      “Maar sal julle twee nou ophou met stry?” kom dit half radeloos van Niel. Hy kyk sy pa en Elaine beurtelings met ’n frons aan.

      “Vermaan jou pa, nie vir my nie,” voeg Elaine hom uit die hoogte toe.

      “Wil jy nou vir mý die skuld gee?” laat oubaas Jacques weer dadelik van hom hoor. “Dis jý wat vir Niel gesê het hy moenie jou naam saam met myne noem nie, meisiekind.”

      “Wel?” Sy kyk die oubaas met opgetrekte wenkbroue aan.

      “Wel wat?”

      “Natuurlik wil ek nie my naam saam met joune hoor nie, oubaas! Jy weet tog seker al teen dié tyd dat ek allergies is vir julle Durandts van Bordeaux!”

      “Dokter Enslin,” begin Niel voordat sy pa weer ’n woord kan sê, “jy het flussies gesê dat die lewe vir jou ouers nie meer dieselfde sal wees as die plaas verkoop is nie, maar nou wil ek graag weet hoe die verkoop van die plaas jóú lewe gaan beïnvloed. Jou ouerhuis sal nog steeds hier op Boskloof wees . . .”

      “Hier waar jy die septer sal swaai en die diktator sal wees, meneer Durandt,” antwoord Elaine. “Maar laat ek jou sommer nóú reghelp: ek koester geen planne hoegenaamd om bevele van jou of jou pa te neem nie. Ek is net ’n slaaf van my beroep en van niemand anders nie. Ek sal dit ook nie kan verduur om te sien hoe my ouers hulle vir julle Durandts afsloof nie, daarom sal ek maar liewer op die dorp gaan woon.”

      “O nee, dit sal ek en jou ma nie toelaat nie, ounooi,” sê haar pa. “Die plan was nog altyd dat jy hier by ons sal inwoon.”

      “Heeltemal reg, Pappa, maar dinge het intussen verander. In elk geval, ons gaan nie nou daaroor gesels nie. Ek verkies om hierdie saak later met Pappa en Mamma te bespreek. Ek is daarvan oortuig dat ons tot ’n aanneemlike vergelyk sal kan kom . . .” Elaine wil nog meer sê, maar dan hoor sy hoe oubaas Jacques keel skoonmaak en sy weet intuïtief dat hy op die punt staan om iets te sê.

      “Daan,” sê hy, “jy en Gerda sal daardie dogter van julle moet kortvat. Dit lyk vir my sy draai julle skoon om haar pinkie.”

      “Nee wat, Jacques,” sê Daan goedig, “dis darem nie so erg as wat dit lyk nie. Dis maar net die skok omdat ek Boskloof moet verkoop . . . Sit, ounooi, waarheen wil jy nou gaan?”

      “Ek wil vir Prins gaan dagsê, Pappa,” antwoord Elaine.“Is hy in die kamp of in sy stal?”

      “Ek het hom gister stal toe gebring.”

      “Elaine,” val Gerda haar wederhelf in die rede, “jy kan nie nou vir Prins gaan dagsê nie, kindjie! Ons het dan gaste!”

      “Meneer Durandt het Pappa in verband met die verkoop van Boskloof kom spreek, Mamma, en ek glo nie oubaas Jacques het sinnigheid in my geselskap nie,” sê Elaine onomwonde. “Nee, ek stap maar.”

      Daar is ’n ligte blos op Gerda se wange toe sy vir Elaine se onbeleefde gedrag verskoning maak.

      “Jacques, jy en Niel moet Elaine tog asseblief verskoon,” sê sy nadat Elaine die vertrek verlaat het sonder om eens vir die gaste tot siens te sê. “Ek weet sy is soms pynlik uitgesproke en in die reël baie reguit, maar ons wat haar ken, weet ook hoe lieftallig en minsaam sy kan wees. Ek vrees sy is nie vandag haarself nie. Sy is baie lief vir die plaas, dus kan ’n mens haar nie juis kwalik neem dat sy so ongelukkig en teleurgesteld voel nie.”

      “Toemaar, Gerda,” sê oubaas Jacques begrypend, “dis nie nodig dat jy vir haar verskoning moet maak nie. Die kind is maar net vol lewe en vuur. Ja, sy het nie ’n dooierige haar op haar kop nie, sê ek jou. Weet jy, as ek ’n dogter gehad het, sou ek verkies het dat sy soos jou dogter moes wees. Die lewe sal daardie dogter van jou en Daan nooit onder kry nie, Gerda. Haar soort veg vir hulle ’n pad oop as dit nie anders kan nie.” “Dankie, Jacques,” sê Gerda verlig. “Ek is jammer dat sy haar so opstandig teenoor jou gedra het . . .”

      “Vergeet dit,” maak die oubaas haar goedig stil. “Ek sê mos die meisiekind het vuur in haar! As jy jou telkens gaan ontstel wanneer ons twee mekaar in die hare vlieg, sal jy oud wees voor jou tyd, Gerda.”

      “Dis waar wat Pa sê,” laat Niel nou ook van hom hoor. “Elaine is die ene vuur en deursettingsvermoë. Ek hou net nie daarvan dat sy haar alleen op die dorp wil gaan vestig nie.”

      “Is jy miskien bang dat ’n boosdoener haar sal aanval, ou seun?” vra die oubaas met ’n tergende blinkheid in sy oë.

      Niel knik bevestigend. “Ja, dit ook, Pa.”

      “Wel, moenie jou dáároor bekommer nie. ’n Boosdoener sal sy dreuning met haar teëkom. Haar soort laat nie met hulle speel nie.”

      “Maar dis nie al nie, Pa,” hou Niel ernstig vol. “Elaine was baie jare lank van haar ouerhuis af weg. Oom Daan en tant Gerda het daarna uitgesien om haar nou vir goed tuis te hê.”

      “O, hulle sal maar net daaraan gewoond moet raak om sonder haar klaar te kom,” lug die oubaas sy mening. “Een van die dae sal hulle haar tog moet weggee.”

      Niel kyk sy pa met ’n ligte frons aan. “Ek begryp nou nie mooi nie. Wat bedoel Pa met weggee?”

      “Maar vir ’n man, natuurlik!” sê die oubaas gemoedelik. “Hoe is jy dan vandag so dom, ou seun?”

      Dis vir almal baie duidelik dat Niel niks hou van wat sy pa gesê het nie, want nou is daar sommer ’n ergerlike frons tussen sy swart wenkbroue.

      “Ek weet nie hoe Pa so iets kan insinueer nie,” sê hy. “Elaine begin eers oor vier weke praktiseer.”

      “Nou, wat het dit met die prys van eiers te doen?” wil die oubaas ietwat verbaas weet. “Dink jy vir een oomblik Elaine sal haar werk in haar pad laat staan as sy vir haar ’n man wil vat? Ou seun, dit lyk vir my jy ken nog nie vroumense nie!”

      “Elaine is anders as ander meisies, Pa,” sê Niel geduldig. “Haar beroep is hoofsaak vir haar. Ek is seker dat daar etlike jare lank geen plek in haar lewe vir ’n man sal wees nie.”

      “Hm, miskien is jy reg,” gee die oubaas toe. “Maar wat ek wou sê . . . Ek dink jy moet haar voorneme om op die dorp te gaan bly liewer aan Daan en Gerda oorlaat. Jy het gehoor sy is allergies vir die Durandts van Bordeaux. Sy sal jou nie bedank as jy met haar sake inmeng nie.”

      Niel kyk ’n paar oomblikke lank peinsend deur die oop venster na die wit wolkies wat stil in die ooste hang. Toe sê hy ingedagte: “Ek weet, Pa, maar ek gaan nogtans met haar praat. Haar onsinnige besluit om op die dorp te gaan woon, laat my voel asof dit ek is wat haar van Boskloof af weggejaag het.”

      “O, nou goed, dons dan maar op, ou seun,” sê oubaas Jacques geamuseerd. “Sorg net dat sy al die letsels dokter nadat sy met jou klaar is.”

      Almal bars uit van die lag.

      “Elaine is welopgevoed en beskaaf,” begin Niel, maar ou­baas Jacques gee hom nie kans om meer te sê nie.

      “Baie

Скачать книгу