Ver bo korale. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ver bo korale - Susanna M Lingua страница 6

Ver bo korale - Susanna M Lingua

Скачать книгу

sê vir jou, net my jare en my grys hare het my vandag teen haar gramskap beskerm.”

      “Wel, ek gaan nogtans met haar praat oor haar onsinnige besluit om op die dorp te wil woon,” hou Niel koppig vol. “Maar ek sal nie vandag met haar praat nie, ek sal haar eers kans gee om ’n bietjie af te koel. Dink oom Daan nie ook so nie?”

      Daan knik bevestigend. “Ja, ek dink jy het reg besluit, Niel, maar ek weet nie of jou praat sal help nie. In elk geval, ek en haar ma sal ook met haar praat.”

      “Wanneer dink oom sal dit geleë wees om met haar te praat? Ek wil nou nie die verkeerde oomblik kies en haar straks nog meer die herrie in maak nie.”

      “Wel . . . ek weet nie . . . laat ek eers dink . . .” begin Daan onseker.

      “Elaine gaan oom Dirk en tant Truia mos môre groet, Daan,” herinner Gerda haar wederhelf.

      “Ja, wil jy glo!” sê Daan skielik soos ’n samesweerder in ’n duistere komplot. “Ek dink jy moet haar môre iewers op Avondrus gaan voorstaan, Niel. Maar hoeveel sukses jy gaan behaal, kan ek nie eens raai nie. Ons hoop maar vir die beste.”

      2

      Elaine is nog bitter ontstoke toe sy by Prins se stal aankom. Dat haar pa Boskloof moet verkoop, is al erg genoeg, maar dat hy die ou familieplaas aan ’n Durandt wil verkoop . . .!

      “Ek wonder of jy saam met Boskloof verkoop gaan word, Prins?” gesels sy met die vurige, bruin hings terwyl sy liefdevol met haar hand oor sy satyngladde nek streel. “Ek sal jou baie mis wanneer ek op die dorp woon . . .”

      Die geklop van perdepote laat haar vlugtig in die rigting van die huis kyk, net betyds om te sien hoe Niel en sy pa in die rigting van Bordeaux verdwyn.

      Hierna saal sy Prins op en ry op ’n stywe galop na die plantasie toe wat soos ’n groen woud lyk. Die gekwetter van voëls is vir Elaine soos strelende musiek. Dis haar wêreld, hierdie wêreld met sy wye, oop vlaktes, sy groen heuwels, blou berge en kronkelende riviere. Dit was nog altyd haar wêreld en dit sal altyd haar wêreld bly . . . al sal daar ook nie meer vir haar ’n Boskloof wees nie . . .

      Elaine kom pas voor middagete tuis. Haar ma is reeds besig om op te skep, dus het sy net tyd om haar hande te was, en dan sit hulle aan vir ete.

      Aan tafel word daar nie weer ’n woord oor die verkoop van Boskloof gerep nie. Daan en Gerda gesels oor die bure en vra Elaine uit na haar werksaamhede die afgelope jaar in Johannesburg se hospitaal.

      Die volgende oggend is Elaine vroeg uit die vere. Sy besef dat haar verblyf op Boskloof vinnig ten einde loop, daarom wil sy soveel van die plaaslewe geniet as wat sy moontlik kan.Wanneer sy haar op die dorp, op Leeudrif gevestig het, sal sy altyd kan terugdink aan hierdie laaste paar dae op haar geboorteplaas.

      Sy stap na die beeskraal toe waar Jafta besig is om ’n paar brandmaer koeie te melk en sy kyk die maer diere met ’n weemoedige blik aan. Dis ’n sonde om sulke diere te melk, dink sy, maar sy besef ook dat haar pa weet wat hy doen . . . Hy moes net nie die plaas aan Niel Durandt verkoop het nie.

      Haar pa se vriendelike stem maak meteens ’n einde aan haar getob.

      “Jy is vroeg uit die vere, ounooi,” sê hy. “Gaan jy nog vanmôre vir oom Dirk en tant Truia dagsê?”

      “Dis die plan, Pappa. Maar kyk, daar staan Mamma in die agterdeur en dit lyk asof sy ons nader wink.”

      “O, kragtie, sy het my gestuur om jou te kom roep vir koffie, en byna vergeet ek,” sê Daan half verleë. “Kom, laat ons liewer gaan voordat jou ma ons albei netnou uittrap.”

      “Is Mamma dan vanmôre in ’n slegte bui?” vra sy.

      “Wel . . . ek sou nie juis sê dat sy in ’n slegte bui is nie,” antwoord Daan versigtig. “Ek sou eerder sê sy is bekommerd oor jou.”

      “Oor my! Waarom sou sy oor my bekommerd voel, Pappa? Ek het geen skuld nie en ek verkeer in blakende gesondheid . . .”

      Daan bars saggies uit van die lag. Elaine kyk hom geamuseerd aan.

      “Jou ma voel onrustig omdat jy op die dorp wil gaan bly, kleintjie. Sy sê enige onheil kan jou tref, en dan is ons nie eens daar om jou by te staan nie.”

      Elaine kyk haar vader skepties aan, want sy weet waartoe hierdie gesprek gaan lei.

      “Mamma het niks te vrees nie, Pappa,” antwoord sy goedig. “Ek het sewe jaar lank in Johannesburg vir myself gesorg, en soos Pappa self kan sien, het geen onheil my getref nie.”

      “Ag, nou toe dan maar,” gee Daan die saak gewonne. “Ek het vir jou ma gesê dit sal niks help om met jou te redeneer nie. Jy is soos jou oorlede oupa.”

      Elaine begin saggies lag en kyk haar pa ondeund aan. Sy is baie lief vir haar ouers en sy sou graag op Boskloof wou bly, maar dan moet Boskloof nie aan ’n Durandt behoort nie.

      “Kom drink julle koffie, die ontbyt is amper gereed,” sê

       Gerda.

      “Hm, ja, ontbyt sal baie welkom wees. Ek voel al juis uitgeteer van die honger,” sê Elaine gemoedelik en maak asof sy nie die vraag in haar ma se oë sien nie.

      Na ontbyt gaan verklee Elaine in ’n langbroek en bloes en sit ’n breërandhoed op. Dan gaan sy kombuis toe om vir haar ouers tot siens te sê.

      “Waar gaan jy nou heen, Elaine?” wil haar ma weet. “Na oom Dirk en tant Truia toe, Mamma.”

      “O ja, jy het mos gister gesê jy wil vandag vir hulle gaan dagsê. In elk geval, jy kan gerus vir hulle ’n paar stukkies beskuit saamneem,” doen Gerda aan die hand, want sy weet dat tant Truia se kwale haar nie toelaat om so dikwels beskuit te bak soos voorheen nie.

      “Waarin gaan Mamma die beskuit sit?” wil Elaine dadelik weet, want sy het nie so iets soos ’n saalsak nie.

      “Ek het ’n skoon meelsakkie,” sê haar ma. “Ek sal dit daarin sit. Waarom kyk jy my só aan, kind?”

      Elaine se glimlag verbreed.

      “Ek wonder maar net hoe daardie pragtige bruin hings van my gaan lyk met ’n wit meelsakkie vol beskuit aan sy stert vasgebind, Mamma!”

      “Aan sy stert?”

      Gerda kyk haar dogter aan asof sy ’n skroef êrens los het, maar Elaine se groen oë vonkel net meer ondeund.

      “Ja, ek vrees dit sal aan sy stert moet wees, Mamma,” sê sy, “want sien, ek sal albei my hande nodig hê om die lewenslustige Prins in toom te hou.”

      “Laat staan dan maar die beskuit, kind. Dra maar net my groete aan die twee oumense oor,” sê Gerda en ’n glimlaggie pluk aan die een hoek van haar mond. Daan bars hartlik uit van die lag.

      “Dan sê ek maar tot siens, Mamma . . . Pappa! Sien julle met middagete!”

      Ook Daan en Gerda sê tot siens, dan kyk hulle Elaine se fyn gestaltetjie agterna totdat sy om die hoek van die stal verdwyn. Na ’n rukkie hoor hulle hoe Prins oor die werf galop.

      O,

Скачать книгу