’n Vrou vir Herman. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу ’n Vrou vir Herman - Sarah du Pisanie страница 4

’n Vrou vir Herman - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

daar op Jakkalswater en as iemand vir hom moes gevra het of hulle ryk of arm is, sou hy gesê het arm. Hierdie mense kan mos nie op so ’n salarissie leef nie?

      Hy was altyd die een op Jakkalswater met die kop vir die finansies. As hy net uitreken watter bedrag Daan nou vir hom gegee het om vir hom diere mee aan te skaf, sou hy vir twintig jaar daarvoor moes gewerk het teen hierdie salaris.

      Dawid stuur hom na ’n huisie aan die kant van die stalle, en glad nie na die groot huis wat hulle gesien het toe hulle ingekom het nie.

      Herman maak asof hy dit geweet het, maar besef met duidelike klaarheid dat hy sal moet luister en leer as hy nie hier ’n kolossale gek van homself wil maak nie.

      “Kom maak jou maar eers daar by ons tuis vannag. Ons sal môre by mevrou Vermeer hoor wat die reëlings is,” nooi Dawid.

      Estie is al in die kombuis doenig om kos te maak, en praat oor haar skouer as sy hulle sien inkom. “Oupa, vat hom spaarkamer toe. Die bed is oorgetrek.”

      Herman gaan swem sommer in die groot klipdam wat Dawid vir hom uitgewys het. Sy donker hare is los en sag om sy kop en die spiere bult onder die skoon kakiehemp toe hy ’n ruk later weer terugkom by die huis.

      “Het jy reggekom?” Dawid kyk na Herman se nog effe klam hare.

      “Ja, dankie, dit was baie lekker, die dam is mooi skoon.” Herman sak in die een gemakstoel neer en sug behaaglik. Dit voel rustig en huislik hier by hulle.

      Dit is heerlik om weer die vars aandlug in te asem en die son agter die berg te sien wegsak.

      Estie kom met lang glase lemoenstroop uit en hou die skinkbord vir Herman, wat een met ’n dankie aanvaar en weer gemaklik terugleun in sy stoel.

      Estie kom sit op die muurtjie naby haar oupa. Sy is seker so oud soos die tweeling, som Herman haar op, en skielik is die verlange weer terug in sy binneste.

      “Ek het tweelingbroertjies wat seker so oud soos jy moet wees,” deel hy rustig die gedagte wat in sy kop kom.

      “Woon jy daar saam met jou ouers of is jy al getroud?” vra Dawid wat nie vanoggend by was toe hy dit vir Estie vertel het nie.

      “Nee, my ouers is baie jare gelede dood. My ma eerste. Die tweeling was nog nie eers ’n jaar oud nie.”

      “Wie het hulle grootgemaak? Is jou pa weer getroud?” vra Dawid gemaklik, omdat hy weet dat Herman hieroor wil praat, hy het die verlange in sy oë gesien.

      “My pa is twee jaar na my ma ook dood. Oom Bennie het toe na ons klomp kom omsien. Daan was darem al groot genoeg dat hy ook kon help.”

      “Is Daan jou broer?” vra Estie ontspanne en is gemaklik en tuis by hierdie groot aantreklike man wat soos familie voel.

      “Daan is die oudste van ons. Dan ek en dan Piet en omtrent ag jaar na Piet het die tweeling gekom. Oom Bennie …” Herman besluit om die hele familiegeskiedenis te vertel en klaar te kry. “Oom Bennie is nie regtig familie van ons nie. Hy het my ouers ontmoet toe hulle op pad was Duitswes toe. Oom Bennie was vroeër verloof en het vir hom en sy aanstaande bruid ’n toekoms probeer skep in Duitswes. Hy het siek geword en teen die tyd dat hy teruggekom het by sy verloofde, wat gedink het dat hy dood is, was sy al getroud. Oom Bennie was op pad terug Duitswes toe en was so verpletter dat my pa gevoel het hy moet maar eers daar op Jakkalswater by hulle bly, tot die seer nie meer so erg was nie. Ook maar gelukkig, want toe my ouers albei dood is, was oom Bennie al wat ons gehad het.”

      Herman kyk glimlaggend na die onskuldige gesig van die meisiekind wat die hele storie ademloos sit en aanluister.

      “Het hy toe ook nooit weer getrou nie?” vra sy sag.

      “Nee … vrouens is skaarser as fyngoud in daardie omgewing. Jy weet, die Duitse soldate bestel vir hulle vrouens in Duitsland en dan kom hulle uit en kom trou met hulle.”

      “Ag, jy jok, man!” Estie glo nie ’n woord wat hy vir haar vertel nie.

      Herman lag skaterend. “Dit is waar! Magriet het gesê ek …” hy bly skielik stil as hy besef dat hy darem nie hierdie stukkie van die geskiedenis moet vertel nie.

      “Wie is Magriet dan? Nie vrouens nie …” lag sy ongelowig.

      “Magriet is Daan se vrou. Hulle is so ’n jaar gelede getroud.” Herman besef dat hy nou van een duiwel tien gemaak het as Estie hard en oorwinnend lag.

      “Aha! Uitgevang! Waar het hy haar gekry?” Sy lyk soos ’n oorwinnaar en Herman lag skaterend en al die styfheid en gespannenheid is skielik uit hom uit en hy korswel met haar soos met die seuns.

      “Jy gaan my tog nie glo nie, daarom gaan ek jou nie vertel nie,” sê hy kastig geheimsinnig.

      “Ooo!” Dawid hou sy kop vas. “Dit is die grootste fout wat jy kan maak. Sy sal dit uit jou uitkry, al moet sy jou ook blinddoek en voor ’n geweerloop sit.”

      Estie kom sit reg voor hom. “Vertel!” beveel sy. “Hier sal jy sit sonder kos en sonder slaap tot ek gehoor het,” dreig sy.

      Herman lag weer skaterend en dit is heerlik om weer sommer net vry en gemaklik te voel. Hierdie kind is so spontaan dat geen mens vir haar sal kan kwaad word nie.

      “Nee, jy glo mos nie grootmense nie.”

      Voordat Herman mooi besef wat aangaan, buk sy oor hom en kielie hom soos wat hulle altyd gemaak het toe hulle kinders was.

      Herman kraai dit uit van die lag en vat haar hande weg. “Goed … maar dan moet jy daar ver gaan sit.”

      Estie gaan sit soet en plegtig weer op die muurtjie maar krom haar vingertjies dreigend as hy nie gou genoeg begin nie.

      “Oom Bennie se verloofde … was getroud met ’n sendeling. Hulle het net een dogter gehad, Magriet …”

      “Jy maak nie die storie op nie …” dreig sy en Herman keer laggend as sy wil nader kom.

      Nee, dit is waar. Haar pa is dood toe sy ’n jong meisie was en intussen het haar ma ook baie siek geword. Die ma het vir oom Bennie geskryf. Sy het hom gevra om na haar kind te kyk aangesien sy net omtrent nog ’n jaar gehad het om te leef. Oom Bennie, wat haar steeds liefgehad het, het gesê dit is goed. Wel, om ’n lang storie kort te maak: Magriet het na haar ma se dood alles verkoop en Walvisbaai toe gekom en vir oom Bennie laat weet dat sy daar is. Oom Bennie, wat besef het dat die mans mekaar sal doodmaak oor ’n enkellopende vrou in die vallei, het vir Daan opgekommandeer om met Magriet te trou voordat hulle haar Jakkalswater toe bring. Niemand sal dit waag om aan iets wat Daan s’n is te vat nie.” Herman konstateer dit soos ’n feit, en die ander twee aanvaar dit so.

      Estie se oë blink oor die romantiese storie. Sy loer onseker na Herman as hy stilbly.

      “En toe?”

      Herman se stem versomber en dít meer as iets anders, vertel vir Estie dat hierdie storie waar is en dat dinge vir Herman nie heeltemal reg uitgewerk het nie.

      “Magriet was vir ons almal soos ’n engel uit die hemel. Sy het die huis skoongemaak, ons laat bad en skeer en ons almal in die holte van haar handjie gehad.”

      “Sy en Daan … is hulle gelukkig? Ek meen, hulle

Скачать книгу