Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver страница 3

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver

Скачать книгу

hard hulle probeer om nie met mekaar te praat nie), dan weet ek of daai ouerhuis heel gaan bly of nie.

      Ek’s natuurlik nie altyd reg nie.

      Soms lyk ’n maat se ma en pa vir my nogal gelukkig tot die nuus van ’n egskeiding almal soos ’n donderslag tref. Soos in die geval van Karin se ouers wat laas jaar heeltemal onverwags en besonder morsig uitmekaar gespat het. Ander kere lyk die ma en pa al twee sielsongelukkig, soos Peter se pa wat nooit ’n woord sê nie en sy ma wat nooit ophou kla nie, maar hulle kom ook nie tot skei nie. Hulle sal liewer vir die res van hulle lewe aanhou om mekaar ongelukkig te maak.

      Moenie my vra hoekom nie.

      Ek wil vreeslik graag jou slim ousus wees, maar selfs iemand met ’n bynaam soos Hanna Hoekom weet nie altyd hoekom nie.

      Maar goed, dinge het verander van Beyers jonk was. Baie kinders het deesdae geskeide ouers en enkelouers en ouers wat weer met ander mense trou en dan kom daar nuwe boeties en sussies by soos nuwe takke aan ’n ou boom.

      Sharon bieg sowaar nou die dag by my sy begin bietjie “uit” voel omdat sy in so ’n boring “kerngesin” leef. ’n Ma en pa wat nog nooit met iemand anders getroud was nie en twee kinders met dieselfde ma en pa.

      Ek het haar amper geklap, dis so ’n simpel ding om te sê. Almal van ons wie se gesinne soos gekraakte borde lyk, sou tog eerder ongekraakte borde wou hê!

      Want die ideaal is steeds om ’n ma en pa te hê wat mal is oor mekaar (en nog nooit mal was oor enigiemand anders nie) en vir altyd en altyd bymekaar sal bly, en vir jou ’n bloedboetie en ’n bloedsussie sal gee sodat julle ’n fantastiese gelukkige kerngesinnetjie kan vorm.

      Maar kom ons wees nou maar eerlik. Dis ’n ideaal wat deesdae al hoe meer na ’n wonderwerk begin klink.

      Mana vertel my in Japan is daar groot waardering vir die “volmaaktheid van onvolmaaktheid”. Ja, toemaar, dis ’n moeilike begrip vir ons Westerse breine, so ek laat Mana verduidelik.

      “As ’n kosbare antieke teekoppie breek, sal die Japanese dit nie soos in die Weste probeer herstel sodat jy nie die kraak kan sien nie. Hulle doen net mooi die teenoorgestelde. Hulle beklemtoon die kraak met ’n soort goue gom sodat die ‘onvolmaaktheid’ van die antieke koppie dit net nog mooier en kosbaarder maak.”

      So sê ons ma. Ek weet nie van jou nie, maar dis ’n gedagte wat my nogal help om al die krake in ons gesin te waardeer.

      It’s complicated

      En tog, my liewe sus, al het die helfte van jou maats ook eendag gekraakte en gelapte gesinne, sal dit steeds nie vir jou maklik wees om jóú gesin se krake en lappe vir jou maats te verduidelik nie. Ek weet waarvan ek praat, want ek sukkel gereeld om dit te doen.

      Gewoonlik klink die opsomming min of meer so:

      Oukei, Yann is my ouer stiefbroer (hy’s pas sewentien) en Amos is my jonger stiefboetie (hy word binnekort tien), want ek het nie dieselfde ma of pa as hulle nie. Beyers is hulle pa, dis waarom hulle vir Beyers Pa noem en ek vir Beyers Beyers noem.

      Hulle ma se naam is Margot en sy’s ’n aktrise soos Beyers, behalwe dat Beyers natuurlik nie ’n aktrise is nie, maar ’n akteur, en sy woon in Amerika waar sy hoop om eendag so beroemd te wees soos Charlize Theron. Maar haar tyd raak min, siestog, want sy’s heelwat ouer as Charlize en tot dusver is haar loopbaan in Hollywood meeste van die tyd beperk tot crowd scenes waar sy moet weghardloop en gil vir monsters en natuurrampe en terroriste-aanvalle en sulke soort Hollywood-dinge.

      Yann en Amos kan nie by hulle ma in Hollywood woon nie, want sy wil nie hê die mense moet weet sy’s al oud genoeg om sulke groot seuns te hê nie. Of so sê Yann, wat nogal naar met sy ma kan wees. En sy werk heeltemal te hard aan haar loopbaan om genoeg aandag aan hulle te gee.

      (Watse loopbaan? wil Yann weet, want sy werk meeste van die tyd in ’n gym, aan haar lyf. Maar miskien hoop sy ’n wonderlike lyf sal na ’n wonderlike loopbaan lei. Wat glo gereeld in Hollywood gebeur.)

      Anyway, dis waarom Yann en Amos, anders as die meeste kinders uit “gebroke ouerhuise”, by hulle pa eerder as hulle ma woon. Oukei? Hou jy nog by?

      En dan’s daar Tibo, my jonger halfboetie, please note, nie my stiefboetie nie, want ons het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Maar omdat ons ons ma op haar naam noem, dink mense gewoonlik sy’s ons stiefma. Ek het mos gesê dis complicated. Maar wag, dit word erger. Omdat Tibo en Amos ewe oud is, dink meeste mense boonop húlle is bloedboeties, soos in ’n onidentiese tweeling.

      En nou’s daar boonop Ariel, my laatlam-halfsussie, wat dieselfde ma as ek en Tibo het, en dieselfde pa as Yann en Amos. Sy’s die enigste van die sewe lede van ons gesin wat bloedfamilie van elke ander lid is.

      Jy kan maar sê Ariel is die gom wat al die skerwe van hierdie gekraakte bord aanmekaar hou.

      Weet jy hoe spesiaal maak dit jou?

      Ek praat nou weer met jou, Ariel. Ek’s nou eers klaar met my verduideliking aan verwarde maats oor ons gelapte gesin.

      In dié stadium het die meeste van hulle in elk geval lankal ophou luister omdat hulle swoon oor hoe aantreklik Yann is of hoe snaaks Amos en Tibo is of hoe gelukkig ek is om ’n stiefpa te hê wat ’n bekende akteur is. Was, sê Beyers. Hy’t jare gelede die hoofrol in ’n gewilde TV-reeks gespeel, waarvan hy jou dalk nooit sal vertel nie, want hy sê alles daarin was pateties: die storie, die toneelspel, die kamerawerk, noem maar op. En tog was mense mal daaroor.

      “Wys jou net watse soort smaak mense het,” snork Beyers.

      Oor Mana lewer my pelle nooit juis kommentaar nie, behalwe om my te verseker hulle hou van haar. Hulle probeer altyd net ’n bietjie té hard om my te verseker. Ek vermoed hulle is heimlik verlig hulle eie vervelige kerngesin-ma’s is nie kunstenaars wat soos karnavalkarakters aantrek nie.

      Weet jy hoe lief is ons vir jou?

      Terug na jou, want jy’s ons almal se hart se punt.

      Dis belangrik dat jy dit weet, want as jy ’n tiener is, gaan daar dae wees wanneer dit voel asof niemand, nie eens jou bloedfamilie, lief genoeg is vir jou nie. Ek weet nie hoekom dit so is nie, ek weet net dis een van die nare dinge van “adolessensie”, dat jy soms voel asof jy die blink ster op die hoogste tak van die Kersboom is en soms meer soos ’n nuttelose ornament wat niemand aan enige tak van enige boom sal hang nie. Seker maar met hormone te doen, soos meeste dinge wat in jou tienerjare met jou gaan gebeur.

      Op daardie dae wanneer jy ongewens en ongelief voel, moet jy onthou wat ek hier vir jou skryf. Ons is almal verskriklik lief vir jou.

      Yann probeer baie hard om dit nie te wys nie, want dit pas nie by ’n sewentienjarige dude se image om oor ’n babasussie te koer nie.

      Maar laat ek jou gou ’n geheim vertel.

      Toe jy so vier maande oud was, het Mana hom gevra om jou vir ’n uur op te pas, want sy moes dringend iewers heen gaan en daar was niemand anders by die huis nie. Ag, waarom sal ek dit nou vir jou wegsteek, sy moes die skoolhoof van die laerskool gaan sien omdat hy weer diep ontevrede was oor Amos en Tibo se streke. Kyk, Amos en Tibo is elkeen op sy eie allesbehalwe engelagtig, maar sáám is hulle ’n duiwelse kombinasie. Glad nie ’n goeie voorbeeld vir ’n jonger sussie nie.

      Anyway, daar sit Mana toe in die skoolhoof se kantoor en probeer hom oortuig

Скачать книгу