Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver страница 4

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver

Скачать книгу

kinders in sy skool.) En hier sit Yann by die huis met Die Baba op sy skoot en begin in tale spreek. Jakka, janna, babba! So meegevoer dat hy my nie eens by die agterdeur hoor inkom nie.

      Ek skrik my natuurlik boeglam toe ek die vreemde hoë manstem in die sitkamer hoor, dog dadelik dis inbrekers, maar net voor ek die alarmknoppie druk, sien ek Pampoen en Patat lê rustig op die kombuisvloer. Wat hulle beslis nie sou doen as daar ’n vreemdeling in die huis was nie. (Pampoen en Patat is ons honde wat seker al dood sal wees teen die tyd dat jy dertien word. Hoe hartseer maak dit my nou skielik.) En toe herken ek Yann se stem.

      Ek belowe jou ek maak dit nie op nie.

      Ek het dadelik besef hy sou omkap van verleentheid as hy moes weet ek het hom gehoor. En al was die versoeking gróót om hom te sien omkap, het ek dit weerstaan.

      Ek het saggies by die agterdeur uitgeglip en weer ingekom. Dié keer het ek die deur toegeklap en onnodig hard met die honde gepraat om seker te maak hy hoor my. En toe ek by die sitkamer instap, sit hy daar met die gewone nors uitdrukking op sy gesig asof dit soooo boring is om sy babasussie op te pas.

      Maar hulle sê mos kennis is mag.

      As hy my ooit weer spot oor die gaping tussen my twee voortande of my plat tieties of enigiets anders waaroor ek nie gespot wil wees nie, gaan ek hom onmiddellik tjoepstil kry deur hierdie babataal van hom na te boots.

      En jy hoef hom glad nie jammer te kry nie, hoor. In hierdie gesin – soos in enige gesin – is daar altyd ’n soort oorlog aan die gang. En jy ken tog die gesegde. All is fair in love and war?

      Meer oor Die Baba

      Jou twee ander broers sal natuurlik ook nie vir hulle maats wys hoe mal hulle oor hulle babasussie is nie, maar hulle gee nie om as die res van ons in die huis weet nie.

      Amos soebat glad vir Mana om hom toe te laat om Die Baba op te pas.

      Ja, dis wat ons jou meeste van die tyd noem, Die Baba, omdat ons nog sukkel om gewoond te raak aan jou naam, so dis wat ek jou sal noem as ek hier oor jou babadae skryf. Teen jou dertiende verjaardag sal ons hopelik almal al geleer het om jou Ariel te noem.

      Intussen, sodat jy nie deurmekaar raak oor wanneer ek met jou as tiener praat en wanneer ek van jou as kwylende baba praat nie, onthou asseblief: Ariel is wie jy eendag gaan wees wanneer jy hierdie woorde lees. Die Baba is wat jy was voor jy kon lees. Of kon praat. Of eintlik enigiets interessants kon doen.

      Mana sê Amos is heeltemal te jonk en onverantwoordelik om ’n baba op te pas, en wat dit erger maak, is dat hy hom verbeel hy’s ’n towenaar. Nie soos in Harry Potter nie, meer soos in Houdini of een van daardie ouens wat konserte hou en hase uit hoede pluk en mense middeldeur saag of spoorloos laat verdwyn.

      Ons is almal al bietjie moeg van Amos se konserte, want hy’s nog nie baie goed nie. As hy ’n muntstuk wil laat verdwyn, val dit gewoonlik uit sy mou en dan bars ons uit van die lag en dan storm hy woedend by die kamer uit. Maar ’n baba is mos die ideale toeskouer, lewer nooit kommentaar nie en lag hom nooit uit nie, so Mana vermoed hy wil sy babasussie eintlik net gebruik om sy toorkunsies te toets terwyl hy haar kamtig oppas.

      En ék vermoed Mana is so ’n klein bietjie benoud dat een van Amos se toorkunsies dalk per ongeluk sal werk en sê nou maar net hy laat Die Baba verdwyn en hy weet nie hoe om haar weer terug te kry nie?

      Tibo speel gereeld met Die Baba asof sy ’n lewende pop is, want hy’s een van daai snaakse seuns wat van popspeel hou. Nie oor hy ’n “sissie” is nie, maar oor hy ’n snaakse ma het wat hom van kleins af aangemoedig het om met meisiegoed ook te speel. Sy’t vir hom karretjies en balle gegee, natuurlik, maar sy’t ook vir hom poppe en strykplankies gegee.

      “Darem iemand in die huis wat eendag sal kan stryk!” het Mana gesê elke keer as iemand hom skeef aankyk.

      Want ék het nooit vir strykplankies gevra nie, ook nie vir kookstelletjies en sulke “dogtertjiedinge” nie, en ek was nooit rêrig mal oor popspeel nie. Ek wou van kleins af net boeke hê.

      En as iemand waag om te vra of sy nie bang is sy maak ’n gay seun groot nie?

      O, jy moet vir Mana oor dié onderwerp hoor! (Wel, teen dertien sou jy haar seker al hieroor ook hoor aangaan het.)

      Oor seks (volgens jou ma)

      “In die eerste plek is ek nie bang om ’n gay kind te hê nie,” sê Mana. “Al wat ek wil hê, is dat my kind gelukkig moet wees. En watter ma sou nou nie ’n gelukkige gay kind bo ’n ongelukkige straight kind verkies nie?”

      Baie ma’s, het ek al vir haar probeer sê, en nog meer pa’s.

      “Siestog,” sê Mana. “Dis hulle probleem, nie myne nie.”

      In die tweede plek is nie een van haar gay mansvriende – en sy het baie, soos jy weet, sy het selfs met een van hulle getrou om my te maak – as kinders toegelaat om met meisiespeelgoed te speel nie. En dit het hulle nie gekeer om gay grootmense te word nie. Sê Mana.

      “Mens besluit nie net op ’n dag jy gaan gay wees soos jy besluit om jou hare te laat sny of ’n stud in jou lip te dra nie! Jy’s óf gay óf jy’s nie!”

      Sê Mana.

      Die rede waarom ek so aanmekaar ons ma se woorde aanhaal, is omdat ek self nog nie eintlik vir jou kan raad gee oor enigiets wat met seks of seksualiteit te doen het nie.

      Ek bedoel, ek het al baie daaroor gelees en ek praat soms met Sharon en Karin en ander maats daaroor. En ek het selfs al films gesien wat meeste meisies van my ouderdom nog nie gesien het nie omdat hulle ma’s bang is dit maak hulle sleg. (Ons ma gee nie om vir “gesonde” seks en kaal mense in films nie, dis eerder bloed en geweld wat haar uitfreak.) Maar boeke en praatjies en films oor seks is seker soos om ’n fantastiese sonsondergang te beskryf vir iemand wat nog altyd blind was.

      Hoe kan jy jou die kleure van ’n sonsondergang voorstel as jy nog nooit enige kleure gesien het nie? As jy nog nie eens die son gesien het nie?

      As dit by seks kom, moet ek dus maar my verbeelding gebruik.

      Ek het nog nooit vas uitgegaan met ’n ou nie. Ek het al ’n paar ouens toegelaat om my te soen, sodat ek darem ook kan weet waaroor die bohaai gaan, maar dit het my nie juis wyser gemaak nie. Die probleem is dat die soort ouens wat my wil soen, nie die soort ouens is deur wie ek gesoen wil word nie.

      Ek vermoed ek mik heeltemal te hoog. Die enigste ouens op wie ek nog ooit “verlief” was, was heeltemal buite my bereik. Filmsterre soos Leonardo DiCaprio in Titanic (hy sal darem seker nog leef as jy dertien is) of matriekseuns wat nie eens van my bestaan bewus is nie en dus eintlik net so onbereikbaar soos ’n beroemde filmster is.

      Dis seker vir enige meisie van my ouderdom ’n verleentheid om te erken hoe onervare sy op hierdie baie belangrike gebied is, maar ek belowe jou dis selfs erger vir my. Oor my van, sien. Jy weet tog seker wat beteken Minnaar?

      Praat van on-van-pas!

      Jy hoef nie hieroor te worry nie, want jy’t Beyers se van gekry. Gelukkige jy.

      Sien, ek’s nie net jaloers op jou naam nie, ek’s selfs jaloers op jou van! Pateties, nè.

      Maar oukei, ás ek dit regkry om meer praktiese ervaring op te tel voor ek klaar is met hierdie “gids” – wonderwerke gebeur seker

Скачать книгу