Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver страница 8

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver

Скачать книгу

kampeer nie.

      Buitendien, ek haat gemeenskaplike badkamers en storte. Nie oor ek ’n bedorwe brokkie is nie, maar oor ek ’n onbedorwe kind is wat elke dag ’n badkamer moet deel met die ses ander lede van my gesin wat ek almal taamlik goed ken. Niemand kan tog van my verwag om in my vakansie ’n badkamer met ’n klomp vreemdelinge te deel nie!

      Dan lê ek liewer die hele vakansie net hier in my kamer en sweet en lees en skryf.

      Kies jy geld of kies jy geluk?

      Ja, goed, ek weet. Ons is gelukkig omdat ons ouers mal is oor mekaar en omdat Tibo en Amos meeste van die tyd goed klaarkom (al moes die buurvrou op ’n keer die polisie bel omdat dit geklink het of hulle mekaar vermoor) en omdat die res van ons, in spite of everything, dit tog regkry om mekaar te verdra.

      Maar toe Yann nou die dag weer begin kla oor hy nooit ’n beroemde rock-ster sal word nie oor hy nie die regte kitaar het nie, skop Mana weer af met die gewone preek oor geld wat nie geluk kan koop nie. En toe gee Yann haar so ’n skewe kyk en sê: “Ja, maar geluk kan ook nie geld koop nie, nè.”

      Mana het oopmond na hom gestaar, so verbouereerd dat sy skoon vergeet het om verder te preek.

      Ek dink nie Yann besef watter interessante filosofiese stelling hy gemaak het nie.

      Geluk kan ook nie geld koop nie, nè.

      Kou ’n bietjie aan hierdie korsie, Sussie. En laat weet my wat jy daarvan dink, eendag as jy dit verteer het, want ek kan nie besluit of dit baie dom of baie slim is nie.

      5. Wat ek oor ouens kan sê

      Wel, in hierdie stadium kan ek nie veel sê nie, behalwe dat hulle anders as meisies is.

      Ek het nie genoeg ervaring van ouens nie, behalwe vir Leo en Peter en Groucho. En hulle is nie soos die ander ouens in die skool nie. Of dalk dink ek net so omdat hulle bereid is om saam met my en Sharon en Karin rond te hang?

      Ek het seker meer ervaring van broers as die meeste ander meisies – en broers tel seker ook as ouens? Maar myne is mos nie my “regte” broers nie. So selfs oor broers kan ek my nie as ’n kenner uitgee nie. Toe ons almal saam in hierdie skreeulelike dubbelverdiepinghuis kom woon het – omdat al die mooier huise óf te duur óf te klein vir die hele spul van ons was – was dit vir my bitter moeilik om Yann en Amos as my broers te beskou.

      Veral aangesien ek in die begin ’n bietjie verlief was op Yann.

      Ja, ek kan dit seker nou maar aan myself en aan jou erken. Wanneer jy dertien is, sal Yann dalk al getroud wees en dan sal ons saam kan lag oor ek so simpel was om op my stiefbroer verlief te raak. Nee, ek glo nie ek sal dan al getroud wees nie. Ek wil eers ’n paar boeke skryf voor ek trou en kinders kry, want as die kinders eers daar is …

      Mana sou moontlik ’n beroemde skilder gewees het as sy langer gewag het voor sy vir my gemaak het.

      “Dit maak nie saak nie, Hanna,” sê sy altyd. “Jy beteken vir my sóveel meer as roem en rykdom!”

      Maar sy sê dit so aanmekaar dat ek nou al lank wonder of sy nie haarself eerder as vir my wil oortuig nie.

      En ek wil beslis nie hê my dogter moet eendag skuldig voel oor sy my briljante loopbaan bederf het nie.

      Wie wil nou nie ’n ouer broer hê nie?

      Toe Yann laas winter op my beste vriendin verlief raak, het ek begin besef hy’s nie rêrig my soort ou nie, hy’s meer my beste vriendin se soort ou. En toe kry ons boonop ’n babasussie wat my bloed én sy bloed deel. En toe word dit so stadigaan moontlik om aan hom te begin dink as ’n soort broer, al is dit nou ook ’n absolute pes van ’n broer. Is daar enige ander soort?

      Ek hoop rêrig jy’t meer luck as ek met broers, Ariel.

      Want watter meisie droom nou nie oor ’n ouer broer nie? Iemand wat met ander ouens baklei om haar eer te beskerm? Iemand wat sy aantreklike vriende huis toe bring en aan haar voorstel? Sodat sy altyd omring is deur ’n spul ouer seuns? Wat al die ander meisies jaloers sal maak?

      Jammer, maar dit werk nie so nie.

      Of dalk sal jóú drie ouer broers eendag gretig wees om jou te beskerm. Hulle is almal jou bloedbroers, wat darem seker ’n verskil maak. Maar Yann gaan dit beslis nie waag om sy aantreklike reguit neus te breek of sy perfekte reguit tande te verloor in enige geveg om ’n stiefsuster se eer te beskerm nie.

      “Watse eer?” sal hy vra en sy skouers ophaal en wegstap.

      En as hy die slag aantreklike vriende huis toe bring, kry ek skaars kans om na hulle te kyk, wat nog te sê aan hulle voorgestel word. Hulle verdwyn altyd in daardie donker vampieragtige kamer van hom waar die gordyne selfs op die warmste dag toegetrek bly. Waar die vae reuk van ou sweet en vuil sokkies en gemufte brood altyd in die bedompige lug hang, maak nie saak hoeveel deodorant hy soos insekdoder in die kamer rondspuit nie. Waar hulle ure lank depressing musiek luister en videospeletjies speel en onbeskofte grappe vertel en vreeslik vulgêr lag.

      Goed, ek’s nie seker oor die onbeskofte grappe nie. Ek het hulle nog nooit afgeluister nie, só pateties is ek darem nog nie. Maar ek kan nie dink wat anders hulle so hard en so aanmekaar kan laat lag nie.

      Tog seker nie die videospeletjies nie, want dis gewoonlik die soort waarin jy soveel moontlik “vyande” moet doodskiet, doodskop, doodslaan, doodry, noem maar op, solank hulle doodgaan en jy aan die lewe bly. En dis tog nie snááks nie?

      Of wys ek nou net weer ek verstaan glad nie hoe seuns se koppe werk nie?

      Om aan jou broer se vriend voorgestel te word

      Laas week het Yann ’n nuwe vriend huis toe gebring aan wie ek darem so skrams voorgestel is. Seker ook net oor hy in ’n besonder goeie bui was. Pas terug van sy toer langs die see, net betyds om Kersdag saam met sy gelapte gesin deur te bring, hoewel dít obviously nie die rede vir sy goeie bui was nie.

      Ek vermoed hy en sy honger maats het ’n paar fantastiese girls raakgeloop wat hulle op meer as een manier gevoer het.

      Iewers langs die pad het hy ook hierdie nuwe vriend ontmoet, ’n ou wat glo volgende jaar in ons skool gaan wees. (Hierdie jaar, moet ek seker solank oefen om te sê, want oor ’n paar dae is ons in die nuwe jaar.) En toe ek by die kombuis instap, waar hulle gou koffie gedrink het voordat hulle in sy kamer verdwyn, verstom hy my deur so terloops teenoor sy vriend op te merk: “En dis nou my ‘suster’ Hanna.”

      Ja, ek belowe jou, jy kon die aanhalingstekens om “suster” hóór.

      Maar dis nie wat my verstom het nie. Ek bedoel, wat anders kan hy my nou noem as ‘suster’ in aanhalingstekens? Dis sy volgende sin wat my op pad yskas toe laat vassteek het.

      “Sy wil ook eendag boeke skryf.”

      “Ook?” het ek gepiep, my stem skoon weggeskrik.

      Want hierdie ou lyk beslis nie na die soort ou wat eendag boeke wil skryf nie. Of in elk geval nie soos ek my ’n toekomstige skrywer voorstel nie. Jy weet, donker en uitgeteer en geheimsinnig en sensitief en sielvol en al daardie clichés? Wel, ék lyk natuurlik ook nie so nie, maar dis hoe ek my nog altyd verbeel het ’n digterlike soort ou moet lyk. As ek ooit eendag gelukkig genoeg sou wees om een te ontmoet.

      En

Скачать книгу