Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver страница 9

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver

Скачать книгу

’n surfer. In elk geval die tipe aan wie ek my gewoonlik glad nie sal steur nie, want dis nou eenmaal nie die soort ou wat hom aan ’n vaal muis soos ek sal steur nie.

      “Ja,” grinnik Yann met sy perfekte tande, “Benjamin wil eendag ’n groot skrywer word.”

      Benjamin!

      Sy naam was die volgende ding wat my verstom het. Dís mos nou ’n naam wat net so outyds en gewigtig klink soos Hanna!

      Hoe het ’n ou soos hy dit reggekry om sewentien jaar lank Benjamin te bly? Om nie verander te word in Ben of BJ of enige ander soort afkorting soos gewoonlik met gewilde ouens die geval is nie? Dit kan net één ding beteken. Hy hóú daarvan om Benjamin genoem te word.

      En dít het hom onmiddellik, wel, interessanter gemaak as enige van sy ander vriende wat Yann al huis toe gebring het. Saam met die verbysterende inligting dat hy ’n “groot skrywer” wil word.

      Hoe om jou naam gat te maak

      Ag, en toe bederf ek alles deur ’n simpel grappie te maak, soos altyd as ek senuagtig raak.

      “Ek sal nie omgee om ’n klein skrywertjie te word nie,” het ek gekwaak, my stem steeds nie terug op die regte plek in my keel nie.

      “Nee,” sê Benjamin met so ’n skewe trek om sy mond. Wat dalk ’n glimlag was. Maar dalk ook nie. “Daar word heeltemal te veel boeke uitgegee. As jy nie seker is jy’t iets belangriks om vir die mensdom te sê nie, mors jy net papier.”

      Oukei, miskien was hy nie ernstig nie. Dalk was hy besig om te spot, met my of met homself, want hoe weet iemand op ons ouderdom of ons “iets belangriks” het om vir die mensdom te sê? Ek weet nie eens of ek iets belangriks het om vir my babasussie te sê nie! Ek skryf al drie weke lank aan ’n “gids” wat hierdie sussie dalk nie eens sal wil lees nie.

      Maar voordat ek my naam verder gat kon maak met nog ’n grappie wat niemand laat lag nie, het Yann my gered deur die laaste koffie in sy beker haastig af te sluk en vir sy nuwe vriend te sê: “Kom ons gaan kry daai CD in my kamer. Ek het ook een van die Dandy Warhols wat jy kan copy as jy wil …”

      En woerts, weg is hulle.

      Terwyl ek steeds in die middel van die kombuis staan en wens ek kon iets interessanters gesê het. Nie soos ’n vaal muis of ’n kwakende padda wat eendag ’n klein skrywertjie wil word nie.

      Maar nou ja, nou weet ek weer. Ek kan nie met aantreklike ouens flirt nie. Ek kan meeste van die tyd skaars met hulle práát. Ek raak senuagtig, en as ek senuagtig is, raak ek simpel. Dit kos oefening, soos alles in die lewe, en ek het nog heeltemal te min kans gekry om te oefen.

      Ek het nie met ’n ouer broer grootgeword nie, onthou, ek het maar eers ’n jaar of wat gelede hierdie amper volgroeide ouer “broer” bygekry.

      Jy sal beslis beter vaar as ek. Jy sal van kleins af met jou ouer broers en hulle maats kan gesels en spot en stry. Teen die tyd dat jy ’n tiener is, sal hulle nie vir jou soos ’n spesie van ’n ander planeet voel nie.

      Seunsmaats kan ingewikkeld wees

      Ek hét natuurlik seunsmaats gehad op laerskool, maar dis nie dieselfde nie. Toe was daar nie veel verskil tussen my en my seunsmaats se lywe nie. My hare was kort en party van hulle se hare was langerig en as ek ’n kortbroek of ’n langbroek gedra het, het ek nes hulle gelyk.

      Hier teen elf jaar het dinge begin verander.

      En nou het dit onmoontlik geword om my vir ’n seun aan te sien. Selfs al kla ek alewig oor ek so plat is van voor, is ek darem nie heeltemal so plat soos ’n seun nie, en ek het ’n middellyf en heupe en boude en al daardie dinge wat dit meer ingewikkeld maak om seunsmaats te hê. Behalwe nou vir Groucho en Peter en Leo, met wie ek en Sharon en Karin pelle kan wees omdat daar nie ’n kans is dat ons op hulle verlief sal raak nie.

      Altans, ek hoop nie so nie, want dan sal alles weer ingewikkeld word.

      Leo is ’n mooi outjie, klein en donker en Italiaanserig, wat oor ’n paar jaar waarskynlik ’n hele paar meisies se knieë gaan laat knak, maar op die oomblik lyk hy meer twaalf as pas vyftien. G’n teken van puisies of ’n baard wat begin groei of woeste beenhare of enige van die ander dinge wat met seuns van sy ouderdom gebeur nie.

      Ek vermoed hy’s heimlik verlief op Sharon, wat hom behandel soos die oulike jonger boetie wat sy so graag wil hê, siestog. Ek bedoel siestog vir Leo, nie vir Sharon nie. Sy weet nie hoe gelukkig sy is om nie ’n jonger boetie te hê nie.

      En Peter, vermoed ek, is heimlik verlief op Leo. Siestog. Maar ek dink hy weet dit nog self nie. Hy’s lank en maer en lomperig en elke puisie wat jy nie op Leo se babagesiggie sien nie, sal jy op Peter se blosende wange aantref. Asof hy so mal is oor sy beste vriend dat hy selfs bereid is om namens hom puisies te kry.

      Daar’s nou vir jou ’n toets vir tienerliefde!

      En Groucho is verlief op al die mooiste meisies in die skool, maar anders as Leo en Peter probeer hy niks wegsteek nie. Hy verkondig dit wyd en syd en laat almal lag. Selfs die mooiste meisies hou van hom, want wie kan nou ’n hanswors weerstaan? Ongelukkig hou hulle nie op die “regte” manier van hom nie.

      Die probleem is, Groucho is slim en snaaks, maar hy’t rêrig heel agter in die ry gestaan toe looks uitgedeel is. Hy’t hierdie massiewe neus wat soos ’n aartappel in die middel van sy gesig geplant is. Cyrano de Bergerac is sy rolmodel. (Cyrano was ’n Franse storieboekheld met ’n groter neus as Pinnochio. Toemaar, ek het dit ook nie geweet tot Groucho my vertel het nie. Nog ’n boek vir jou leeslysie, Sus.) Boonop is hy amper blind sonder sy dikraambril wat aanmekaar afsak op sy aartappelneus.

      “Maar ek’s gewillig om enige van die prinsesse in die skool se hofnar te wees,” sê Groucho, “solank ek net naby genoeg aan hulle kan kom om hulle skoonheid te bewonder.” Dis hoe hy praat. Sinne vol groot woorde wat vreeslik vinnig afgerammel word. Meeste van die tyd weet ek nie of hy ernstig is of spot nie.

      Hy’t homself as Groucho voorgestel op ons eerste dag op hoërskool. Ek vermoed hy’t sy eie bynaam uitgedink, want ek ken nie baie laerskoolkinders (of selfs hoërskoolkinders) wat weet wie Groucho Marx was nie. Ingeval jy ook nie weet nie: Groucho Marx was ’n komediant met ’n ronde swartraambrilletjie en ’n lelike knopneus en ’n vet swart snorretjie wat van die snaaksste sêgoed in Hollywood uitgedink het.

      Wie wil nou aan só ’n groep behoort?

      In Londen is daar ’n eksklusiewe klub wat die Groucho Club genoem word omdat hierdie ou met die snorretjie glo gesê het hy wil nie aan enige klub behoort wat hom as lid wil hê nie. En dis min of meer ons eie Groucho se opinie oor al die eksklusiewe groepe in ons skool. Die jocks en die nerds en die fashionistas en die geeks en die rockers en al die ander groepe wat jy in enige skool kry.

      So moet asseblief tog nie dink die ses van ons – ek en Sharon en Karin en Leo en Peter en Groucho – en enige van die ander wat soms saam met ons hang, vorm ’n groep nie.

      “Nee,” sê Peter op sy droë manier, “ons is net ’n klomp losers wat vir ander losers lag.”

      “Wie’s jou losers?” wil Karin dan weet, altyd reg om op haar perdjie te spring en iets te bestorm.

      Sy’s baie mooi, lang blonde hare en groot blou oë en alles wat jy kan begeer, maar haar boude is te groot om haar as een van die gewildste meisies te kwalifiseer.

Скачать книгу