Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver страница 7

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver

Скачать книгу

iemand is wat ongelooflike avonture kan belewe, al is die avonture dan nou meer in haar kop as in die ware lewe, dan moet ek miskien tog maar Hanna bly?

      En as ék dit kan regkry om vrede te maak met my naam, kan enigiemand dit doen. Dis eintlik al wat ek oor name wou sê.

      4. Geluk kan nie geld koop nie

      Geld kan nie geluk koop nie.

      Sê wie?

      Wel, Mana en Beyers om mee te begin. Elke keer as een van ons kla oor iets wat ons maats kan koop of kan doen en ons nie kan koop of doen nie, word daai stokou korsie brood vir ons gegooi. Begin solank daaraan kou, Sus, want dis kliphard en dit kan jou tande breek.

      Van tande gepraat, Mana weier steeds dat ek draadjies dra om die gaping tussen my boonste voortande kleiner te maak. Sy sê ek moet trots wees op my tande wat anders is as al my maats s’n. Ek weet nie of ek moet lag of huil as ek sulke crap hoor nie.

      Ek weet dis oor draadjies ’n weelde is wat ons nie kan bekostig nie, nes ’n vakansie langs die see of vleis elke dag of klere met die regte labels. Maar Mana sal nooit erken dis oor ons nie genoeg geld het nie, sy soek altyd ’n ander simpel verskoning.

      “Dis darem só verbeeldingloos om ’n hele somervakansie langs die see om te lê.”

      “Dis ongesond om te veel vleis te eet!”

      “Dis skandalig om klere te koop wat iewers in die Ooste gemaak is deur honger kindertjies wat soos slawe moet werk …”

      Jy ken seker al die rympie, nè.

      Want tensy iemand in ons gesin binnekort die Lotto wen of tensy Beyers uit die bloute ’n hoofrol in ’n Hollywood movie aangebied word of tensy Mana se skilderye deur ’n beroemde internasionale kunsmuseum gekoop word – met ander woorde tensy ’n wonderwerk gebeur – sal jy gereeld na sulke verskonings moet luister.

      Jy’s die jongste van vyf kinders en jou pa is ’n akteur sonder ’n vaste salaris of ’n bekostigbare mediese fonds of betaalde vakansies en jou ma is ’n skilder wat ook nie juis kan spog met haar inkomste nie. En hoewel jy darem ’n dak oor jou kop het en hopelik nooit sal honger ly of geskeurde klere hoef te dra nie (behalwe as jy wil, omdat dit mode is om gate in jou klere te hê), gaan jy nooit soveel sakgeld soos jou maats kry of in sulke lekker restaurante en kuierplekke rondhang of jou klere in sulke cool winkels koop soos hulle nie.

      Deal with it.

      Jammer as ek wreed klink, my liefste sus, maar dis ’n tawwe ene hierdie.

      Ek wéét geld kan nie geluk koop nie. Maar as jy dan nou ongelukkig móét wees, is dis seker verkieslik om ryk en ongelukkig eerder as arm en ongelukkig te wees?

      Nee, dit sal jy nooit in enige amptelike gidsboek vir tieners lees nie, want ons weet mos nou daai soort boeke word geskryf deur grootmense wat lankal vergeet het hoe belangrik geld vir ’n tiener is. Maklik vir grootmense om oor geld te preek, want hulle beheer jou beursie en daarmee beheer hulle sommer vir jou ook!

      Mana! As jy hierdie bladsy lees, hoop ek jy stik nou van verontwaardiging!

      Toemaar, Ariel, ek dink darem nie Mana sal lees wat ek vir jou skryf nie. Ek wou haar net bietjie skrikmaak. Net ingeval.

      Dink aan almal wat minder het

      Daar’s baie kinders in hierdie land wat baie minder besittings het as jy (nog een van jou ouers se rympies wat jy seker al goed ken), maar dis nie veel troos nie, nè.

      Want daar’s ook baie kinders wat baie méér besittings het as jy. En jy ken nie al die arm kinders wat in shacks of waterpype woon nie, maar jy ken ’n hele spul rykes wat in jou eie buurt woon en saam met jou skoolgaan.

      En soms word dit ’n helse probleem.

      Mana en Beyers glo ons is bevoorreg om in hierdie buurt vol bome agter Tafelberg te woon – en natuurlik is ons! – en in ’n goeie skool te wees – ja! ja! ja! Maar hulle verstáán nie hoe moeilik dit is om altyd te voel jy hoort nie rêrig hier nie, want jy kan nie dieselfde klere en uitstappies en vakansies as jou maats bekostig nie.

      Maar nou ja, dis hoe dit is. Niks wat jy kan doen behalwe om daaraan gewoond te raak nie.

      So kom ons konsentreer op die voordele van hierdie situasie.

      “Watse voordele?” hoor ek jou vra.

      Wel.

      Om mee te begin (en te eindig, want ek kan rêrig nie nou aan enige ander voordele dink nie), die rede waarom ek hier in my bedompige kamer sit en skryf aan ’n oorlewingsgids vir my babasussie, is omdat ek nie soos omtrent al my maats kon weggaan vir die somervakansie nie.

      As ek soos Sharon of Karin in Plet of Stilbaai op die strand kon lê, of soos Haar Skynheilige Hoogheid in Hermanus se in-plekke kon rondhang, sou ek sekerlik nie tyd gehad het om oor my sussie se toekomstige tienerjare te stres nie.

      Ek sou heeltemal te besig gewees het om aan my tan te werk en met aantreklike ouens te flirt en hopelik ’n heerlike vakansieromanse op te tel waarmee ek maande lank by my pelle sal spog as die skool eers weer begin het. Dis wat Sharon en Karin en Petroné gaan doen as die nuwe skooljaar begin, daarvan is ek seker, en arme ou Hanna sal weer met haar mond vol tande sit en wonder hoekom sy nie ook ’n vakansieromanse kon beleef nie.

      Oor ons vakansies

      Die vorige keer toe ons kon bekostig om vir ’n somervakansie see toe te gaan, was Mana nog nie met Beyers getroud nie, dit was net ek en sy en Tibo. En omdat ek nog nie eens twaalf was nie, het ek meer in oulike boeke as in oulike seuns belang gestel.

      Ek is steeds mal oor boeke, maar deesdae sal ek selfs die mooiste boek in die sand laat val as die mooiste ou op die strand kom aanbied om suntan lotion aan my rug te smeer. Nie dat so iets ooit met my sal gebeur nie. Ek is te vaal en vervelig om die mooiste ou op enige strand nader te lok.

      Maar as ons soos ’n normale gesin langs die see kon gaan vakansie hou, sou ek minstens sulke normale drome kon gedroom het!

      Nou het ons gesin so gegroei van Mana en Beyers getroud is en ons almal saam in die lelikste huis in die buurt moet woon en boonop ’n babasussie bygekry het, dat ons seker nooit weer genoeg geld sal hê om ’n vakansiehuis langs die see te huur nie.

      Behalwe as een van Beyers se ryker en meer suksesvolle vriende uit die “vermaaklikheidswêreld” ons jammer kry en vir ons ’n vakansiehuis leen. Maar dis hoe ons laas winter in daardie verlate huis op die berg beland het waar die reën ons vasgekeer het tot hulle ons met ’n helikopter moes kom red. En dis rêrig nie ’n avontuur wat ek gretig is om te herhaal nie.

      Ons kan seker iewers gaan kampeer, maar ons sal ’n sirkustent moet huur om genoeg slaapplek vir al sewe van ons te hê. En Beyers is te onhandig om enige tent op te slaan, wat nog te sê ’n sirkustent, en Yann is te lui om hom te help. En kan jy jou Mana met haar wilde hare en weird uitrustings tussen die ander kampeerders met hulle plakkies en swemklere voorstel?

      Ons sal die freak show op die kampeerterrein wees. Veral as Tibo voor die tent sit en popspeel.

      Dalk kan Amos ’n paar goëlkunsies uithaal, dalk is die ander kampeerders dom genoeg om vir so ’n konsert te betaal, dalk kan ons selfs genoeg geld verdien om vir Pampoen en Patat en

Скачать книгу