Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach страница 24

Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

“Ja, ek is Charl Naudé.”

      Hy het nie verwag om só vyandig begroet te word nie.

      “Kom in, ons het belangrike dinge om oor te praat, dokter.”

      Hy volg haar na die klein sitkamertjie. Die meubels is oud en geskif en daar is gehekelde lappies oor die rug- en armleunings gedrapeer. Op die tafeltjies is goedkoop ornamente. Die mat is ’n nagemaakte Persiese tapyt. ’n Groot swart kat lê op ’n stoel en kyk groenogig op toe hy inkom.

      “Celeste slaap, maar ek sal haar gaan wakker maak. Sy is maar moeg noudat haar tyd nader kom en haar lyf so swaar is. Sit, dokter.”

      Charl gaan sit op ’n stoel en kyk na die kat. “Kietsie,” sê hy en steek sy hand uit. Hy hou van katte. Die kat staan op en vryf teen sy hand. Toe spring hy op sy skoot en maak hom tuis.

      “Jy is darem voor op die wa,” sê hy en streel die kat. Dis darem een vriendelike wese in hierdie huis.

      “Celeste!” hoor hy die vrou se skril stem in die gang. “Jou dokter is hier. Kom praat met hom.”

      Sy kom terug, kyk afkeurend na die kat op sy skoot en gaan sit swaar in een van die stoele. Haar skerp bruin oë kyk hom ’n barshou. Hy kyk reguit en vreesloos terug.

      “Ek kan vir jou sê, dis vir ons ’n groot skande dat Celeste oor die tou gaan staan en trap het.” Haar stem is beskuldigend.

      “Ek kan dit verstaan, maar dis tog iets wat deesdae baie gebeur. Dis nie die einde van die wêreld nie. Ons is nie meer in die negentiende eeu nie.”

      Sy gluur hom aan. “O, dis maklik afgemaak, nè? Die man knoop sy broek toe en daar gaat hy en die vrou sit met die gebakte pere.”

      Charl vererg hom bloedig en sit vorentoe, sodat die kat verskrik afspring.

      “U is nie dalk besig om my te beskuldig dat ek die pa van Celeste se ongebore kind is nie, of hoe, mevrou Wierenga? Want as u is, kan ek u vir karakterskending en ’n paar ander dinge dagvaar.”

      Sy skrik haar duidelik asvaal, maar sy kap terug: “Wie anders is die pa? Dis jý. Moenie dink jy kan haar net so in die dinges los net omdat jy ryk en belangrik is nie. Mans soos jy wil mos nie erken dat hulle rondloop nie.”

      “Dis beslis nie ek wat die pa is nie, mevrou, want ek het nooit by haar geslaap nie. En al is ek ’n ginekoloog, het ek dit nog nie reggekry om windbestuiwing te vervolmaak nie.”

      Hy weet hy is nou lelik sarkasties, maar hy is woedend. Dit wil regtig vir hom lyk asof Celeste vir haar ma gesê het hy is die pa.

      Die vrou is dadelik weer op die aanval. “Waarom is jy dan besig om van jou vrou te skei? Dis oor sy uitgevind het van Celeste en die baba, is dit nie?”

      “Ag nee, dis nie waar nie, Ma,” kom Celeste se stem van die deur af.

      Sy kom in en Charl is geskok om te sien hoe verslons sy is en hoe swaar sy die kleintjie dra. Alles voor, en sy hou haar skraal hand onder haar buik asof sy dit in die lug probeer hou. Die mooi meisie van vroeër het ’n gedaanteverwisseling ondergaan.

      Hy staan op. “Dag, Celeste. Ek wou kom kyk hoe dit met jou gaan. Ek kan jou ondersoek. Wanneer het jy laas ’n behoorlike ondersoek gehad?”

      “Dankie dat jy gekom het, dokter. Dis nie meer so lank nie, en ek voel soos ’n dragtige olifant. Dankie dat jy my wil ondersoek ook. Ek was nog nie weer by ’n dokter nie.”

      Sy glimlag selfbejammerend en haar oë is blink van die trane. Lomp en swaar gaan sit sy op ’n tweesitplekbankie.

      “Toe, julle twee kan nou maar met die waarheid uitkom,” krys mevrou Wierenga. “Vertel vir my hoe hierdie skandelike toestand waarin Celeste nou is, kon gebeur het.”

      Charl kyk weer vererg na haar en toe na Celeste. “Ja, vertel asseblief die waarheid, want ek kan sien jou ma is onder ’n wanindruk. Is ek die pa of nie?”

      “Nee.” Dis meer ’n sug as ’n woord.

      Mevrou Wierenga lyk asof sy wil verstik. Haar gesig word vuurrooi. “Maar jy het my heeltyd laat verstaan dat dié man die pa is.”

      Celeste begin huil. “Ek het gesê die pa is dokter Naudé, maar dis nie hiérdie dokter Naudé nie, Ma.”

      Charl staar haar verstom aan. Daar is ’n paar dokter Naudés in die familie. Kan dit sy broer wees wat … Nee, hy sou nooit met so ’n jong meisie mors nie. Veral nie as sy by sy broer werk nie.

      “Maar watter een is dit dan?” skril die vrou.

      Celeste vee haar neus en oë met ’n sakdoek af. “Dis sy nefie, Thomas. Wat nou in Engeland is.”

      Charl swets voordat hy homself kan keer. “Het hy tog nie wragtig by jou … met jou ’n verhouding aangeknoop nie? Ek kan sy nek omdraai!”

      Hoe kon hy so dom gewees het om nie vir Thomas te verdink nie? Hy het gedurig by die praktyk kom kuier.

      “Thomas het nie geweet van die kind voordat hy weg is nie. Ek het vir hom geskryf, maar hy het nooit my briewe beantwoord nie, en ek was te skaam om na jou te gaan.”

      Sy kyk na Charl met oë wat oorloop van trane en snuif hard. Sy is verwese en bedremmeld. Hy vermoed dat Thomas maar te bly was om van haar ontslae te raak en aan te beweeg. Hy het waarskynlik nooit eens haar briewe oopgemaak nie.

      Hy het groot moeite om sy humeur te beteuel. “Weet jy nie dat almal – my vrou van wie ek besig is om te skei inkluis – loop en skinder dat ek die pa is nie, Celeste?”

      “Ek is jammer,” snik sy.

      Hy staan op. “Wel, nou weet jou ma darem die waarheid.”

      Hy haal sy tjekboek uit, en sy vulpen, en skroef dit oop.

      “Jy het seker geld nodig. En Thomas wat jou moes gehelp het, het sy plig skandelik versaak.”

      Celeste en haar ma kyk hom met groot oë aan terwyl hy ’n tjek vir tienduisend rand uitskryf.

      Hy gee dit vir Celeste en sy trek haar asem in. “Dis so baie! Dankie, dokter.”

      Sy begin weer huil en haar ma neem die tjek en kyk verstom daarna.

      “Dankie, dokter,” sê sy tranerig. “Ons arme kind het dit baie nodig.”

      Ja, nou het haar houding handomkeer verander, dink hy minagtend.

      “Ek sal my neef in kennis stel en ons sal weer van ons laat hoor. Jy moet daar by Tygerberg kom kraam, waar jy alles verniet sal kry. Ek sal sorg dat ek ’n ogie oor jou hou en dat alles reg verloop. Laat my net asseblief betyds weet. As jy hier aandag nodig het, gaan na dokter Rolf Wiechers in Dorpstraat. Ek sal die koste dra.”

      “Dankie, dokter,” sê hulle gelyk, die ma nou baie nederig.

      Hulle volg hom na die deur, waar albei onderdanig vriendelik groet en kyk hoe hy na die tuinhekkie loop.

      “Geld wat stom is, maak reg wat krom is,” mompel hy moedeloos.

      Maar

Скачать книгу