Middernagmusiek. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Middernagmusiek - Amelia Strydom страница 4

Middernagmusiek - Amelia Strydom

Скачать книгу

“En toe is ek een aand te vriendelik na sy sin met ’n buitelandse gas . . .”

      Reghardt het haar op die bed gesit en inwag, geweer op die skoot. Die loop het in die lamplig geglinster, en hy het daaroor gestreel. “Dis die laaste keer dat jy ’n gat van my maak, Isolde. Jy bied nooit weer jou lyf op ’n skinkbord vir ’n ander man aan nie. Ek sal dit nie toelaat nie.”

      “En toe?” por Hugo.

      “Hy’t my gedreig, en ek’s daar weg.” In die middel van die nag, met die tassie klere wat sy in die spens weggesteek het en die paar duisend rand wat sy bietjie-bietjie van die kruideniersgeld afgeknyp het.

      “Ek sal saam met jou polisie toe gaan.” Hy raak aan haar arm. “Jy móét ’n interdik kry.”

      Sy laat sak haar kop in haar hande. Miskien sal die polisie na hóm luister? ’n Glanspersoonlikheid – ’n groot, sterk man wat heel duidelik nie vir koue pampoen skrik nie? Maar sê nou hulle vat Reghardt wel dié keer vas? Hoe sal hy reageer?

      “Jy’s bang dit stamp hom oor die edge,” lees Hugo haar gedagtes.

      “Jip.”

      “Het jy ’n plan B?”

      Sy sug en trek haar skouers op. “Om so ver moontlik weg te kom en in ’n groot stad te verdwyn.”

      “Wat keer jou?”

      “Op elke nuwe plek moet ek van voor af kliënte soek. Ek kan nie juis adverteer terwyl ek wegkruip nie enne . . . ek’s soort van platsak.” Sy kan nie weer vir Ma-hulle vir geld vra nie. Hulle het dit nie breed nie en hulle betaal nou nog af aan haar kollegegeld.

      Hy gaan sit plat en stut sy rug teen die tafelpoot. “Dalk kan ons mekaar help.”

      “Nee, ek sleep jou nie verder by hierdie gemors in nie.”

      “Ek het myself ingesleep toe ek my bek gerek het.”

      “Dit was dalk nie die slimste skuif nie.” Gmf, sy is ’n mooi een om te praat. Hy moet dink dat net ’n imbesiel met so ’n boelie sou getrou het. Maar Reghardt was voor hul troue anders. Bedagsaam. Romanties. Sjarmant.

      As sy terugkyk, was hy toe al besitlik, maar pleks van rooi ligte het sy mos hartjies gesien.

      Hugo strek sy bene voor hom uit. Hy tik haar voet met ’n seilskoen, wag tot sy oogkontak maak. “Kom saam’ my. Ek het vir ’n verandering alleen gery, sonder die res van my span. Na vanaand se show gaan ek ’n paar dae by my strandhuis chill, dan moet ek so oor ’n week in Kaapstad wees.”

      Isolde sluk. Sy kuit rus nog teen hare en sy liggaamshitte sypel deur sy broekspyp.

      Sy gáán wegskuif – net nie nou dadelik nie.

      “Toe, wat sê jy?”

      “Liewer nie.” Sy byt haar onderlip. “Jy’t sy dreigemente gehoor.”

      “Aag, ek dink ek’s mans genoeg vir hom.”

      “Jy ken hom nie.”

      “Ek ken sy soort.” Hy lig sy gladgeskeerde ken en glimlag gerusstellend. “Meer bek as binnegoed. Grootmeneer voor girls, maar nes hy met ’n ander ou te doen kry, verander hy tjop-tjop sy tune.”

      Tussen die duiwel en die diep blou see, dink Isolde. Haar jaloerse eks aan die een kant – ’n kletsrymer met minstens een tatoeëermerk plus ’n oorbel aan die ander. Die stereotiepe stout seun oor wie tienermeisies droom, hul ma’s warm gloede kry, en hul pa’s snags wakker lê. Die soort ou wat op hierdie oomblik haar kuit teen syne laat smelt soos kokosolie in ’n hittegolf.

      Sy loer onderlangs na hom. Sy weet nie wat hy het nie, maar hy het iets. Meer selfversekerdheid as ’n Amerikaanse president, genoeg energie om die Eskom-krisis op te los. Hy is moeilikheid met ’n hoofletter M, maar as sy tussen hom en Reghardt moet kies? Voor die hand liggend.

      “Wat sê jy?” jaag hy haar aan. “Het ons ’n deal? Jy vryf my seer nek in ruil vir ’n lift en ’n lyfwag?”

      Nie ’n slegte ooreenkoms nie, maar kan sy hom vertrou? Nee. Die vraag is net: Waarheen anders kan sy gaan? Nie na haar ma-hulle toe nie – Reghardt sal heel eerste daar soek. Buitendien wil sy nie onnodige spanning op haar ouers laai nie. Pa het verlede jaar ’n hartomleiding gehad; Ma se artritis keil haar op.

      ’n Vriendin sou die logiese keuse gewees het, maar haar skoolpelle het haar lankal afgeskryf. Reghardt het horries gekry wanneer sy wou bel of gaan kuier, seker geglo dis ’n rookskerm vir haar kastige affairs. Ná die egskeiding, toe sy kollege toe is, het sy haar sosiale lewe oppervlakkig gehou. Sy wou nie aandag trek nie.

      Wat bly oor? ’n Plek van veiligheid? Haar derms draai.

      “Ons ken mekaar nie,” protesteer sy halfhartig.

      “Relax, ek’s nie ’n serial killer nie. Die media sou lankal die lyke uitgesnuffel het.”

      Dêmmit, die media! Hoe kon sy van hulle vergeet het? Sy skud haar kop beslis. “Dit gaan nie werk nie. Ek vlieg juis so laag moontlik onder die radar.”

      “Jammer om dit uit te spel, bokkie, maar dit lyk nie of daai strategie uitwerk nie.”

      No shit, Sherlock.

      “Hoekom probeer jy nie die teenoorgestelde nie?” Hy frons, staar ’n paar sekondes na die plafon, en klap dan sy vingers. “Ek weet! Ons maak of ons saam is.”

      ’n Skynverhouding?

      “Ons gaan groot, gee ’n onderhoud of twee.” Hy sit orent en praat al vinniger. “Hou handjies vas, kyk diep in mekaar se oë. Dít sal vir hom die thrill of the chase bederf, as jy die uitdrukking sal verskoon.”

      “Maar . . .” Haar hart spartel soos ’n wildsbok in ’n strik. Sy maak haar hare weer vas, dié keer losser, sommer om iets te doen. “Ek kan nie dink wat jy –”

      “Daaruit kry nie? Publisiteit. Ek het pas ’n nuwe CD vrygestel. ’n Beautiful girl soos jy sal my op die voorblaaie kry en verkope ’n moerse boost gee.”

      “Hoekom kry jy nie vir jou ’n regte meisie nie?”

      “Strings attached.” Hy maak asof hy ’n onsigbare marionet manipuleer. Hy het kunstenaarshande, merk sy op. Lang, soepel vingers. Haar kop teken vanself prentjies: Hugo in ’n halfdonker kamer, kitaar op sy skoot, met ’n enkele sonstraal wat deur die venster val. Hugo op die verhoog, mikrofoon in die hand onder flikkerende ligte wat soos ’n trapsuutjies verkleur. Hugo in die oggendskemer, gestut op een elmboog, terwyl sy vingers haar lyf ontdek . . .

      “Aarde na Isolde?”

      Blikskottel, wat ’n verbeeldingsvlug.

      “Ek hoor jou,” sê sy haastig. “No strings attached pas my uitstekend.” Kan iemand seblief net vir haar hormone ’n e-pos stuur? Sy bring haar gedagtes terug na die realiteit. Maklik genoeg – die gemors met Reghardt is die emosionele ekwivalent van ’n yskoue stort.

      “Jy kan nie verloor nie,” redeneer Hugo.

      “En

Скачать книгу