Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk страница 17

Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

… is jy reg in jou kop, meisiekind?” bulder Bruce vol ongeloof en frustrasie. “Besef jy waarvoor jy nee sê? Meer geld en weelde as wat jy nog ooit in jou lewe gesien het! Of dink jy ek weet nie jy het swaar grootgeword nie? Dink jy ek weet nie julle is brandarm nie? Ek is bereid om alles wat jou hart begeer vir jou te gee, en jy sê nee omdat jy my kastig nie liefhet nie. Vir my, Bruce Reyneke! Weet jy hoeveel meisies sal hulle knieë deurkruip om my te kry? Hè, weet jy?”

      “Gaan vra dan een van hulle!” krys Ilse en haar gesiggie is wasbleek in die dowwe lig. “Ek weet, en net so weet almal wat my ken dat ek uit ’n arm huis kom, maar ons soort word nie met baie geld gekoop nie – veral nie deur ’n verwaande windsak soos jy nie! As jy dan wil beledigend wees, kan ek dit net so goed wees. Ek stel nie daarin belang om met so ’n leeglêer soos jy te trou nie, Bruce Reyneke! Jy is nog lank nie klaar uitgekuier by al wat ’n meisie is nie, en ek glo nie jy sal ooit uitgekuier raak nie. Jy is beslis nie die soort man wat ek wil hê nie!”

      Bruce lag hartlik en knipoog vir haar. “Aha, dan is my mooi ding jaloers? Kom nou, Ilse, jy weet die ander asters beteken niks vir my nie – ek gee nie om vir hulle nie. En ek beloof jou as ons eers getroud is, sal ek nie na ’n ander meisie kyk nie!”

      Ilse sug haar irritasie uit en sê geduldig: “Kan jy nie verstaan nie, Bruce? Vir my onthalwe kan jy elke aand met tien verskillende meisies uitgaan, want dit kan my nie skeel nie. Ek het jou doodeenvoudig nie lief nie, daarom wil ek nie met jou trou nie. En ek dink ons het nou genoeg gepraat. Nag, Bruce.” Sy draai om en begin wegstap.

      “Maar, Ilse!” protesteer hy ongelowig en draai dan stadig om. “Ek kom weer môre … Dink solank daaroor na. Jy … jy besef nie wat jy doen nie. Ek het jou te skielik gevra, en jy het tyd nodig om te dink. Sien jou môre, Ilse!”

      “Moenie, Bruce, jy mors net jou tyd. Nag,” antwoord Ilse gedemp en stap vinnig haar kamer binne. Sy maak die deur agter haar toe en hoor Bruce se motordeur ’n oomblik later toeklap. Impulsief sluit sy die deur en trek die gordyne voor die venster toe.

      As hy dalk besluit om terug te kom, sal sy liewer voorgee dat sy uit is, mymer sy en leun teen die groot tafel voor die venster, haar oë op haar strak gesiggie wat in die spieël weerkaats. Arme Bruce. Op haar manier het sy tog van hom gehou, al het sy hom nooit liefgehad nie. Geen moeite of geld was ooit te veel as hy haar kon trakteer nie … Dit is seker waar dat hy ’n leeglêer is, ’n bedorwe rykmanskind, maar sy bedagsaamheid en goedhartigheid teenoor haar het haar vriendskap met hom iets heel besonders gemaak. Maar ook dít is nou verby, soos haar studentejare byna verby is. Nee, sy kan nie met Bruce trou nie, maar sy kan hom altyd onthou as ’n mooi deel van haar studentejare, besluit sy en glimlag tevrede.

      Sy staan nader aan die spieël, vee ’n paar los hare uit haar oë en stap na die middeldeur en in die wye gang af, op soek na geselskap.

      Tant Truia sit in die sitkamer op haar geliefkoosde stoel, haar pofferhandjies op haar maag saamgevat, haar leesbril op haar voorkop, haar oë gesluit. Langs haar praat die omroeper oor die radio. Dan vul luide musiek die groot vertrek.

      Ilse stap na die radio en draai dit sagter. “Tant Truia?” praat sy gedemp.

      Die bejaarde vrou se kop ruk effens en haar oë flikker oop. “Huh? O, dis jy, Ilsetjie. Nee, sit die ding maar af. Hy raas net. Lyk my ek het so ’n bietjie ingesluimer – ook maar moeg na al die gewerskaf en dinge vandag. Hoe laat is dit?”

      “Kwart oor agt, tante. Sal ek vir ons teewater gaan opsit?”

      “Nee, kind, kry net vir jou ’n koppie daar op die kas in die eetkamer. Ek het sommer tee in die termosfles gemaak. Is jy dan nie vanaand uit nie, Ilsetjie? Waar loop Bruce nou weer rond, of het jy besluit jy is klaar met hom?” gesels sy gretig en skink vir haar en Ilse tee in toe Ilse met ’n koppie en ’n piering terugkeer.

      “Ek is beslis klaar met hom, tante,” antwoord Ilse glimlaggend, terwyl sy haar tee neem en teenoor die vrou gaan sit.

      “Hoe nou? Skeer jy die gek, Ilsetjie?” vra tant Truia ongelowig, voel die bril op haar voorkop, en lê dit op die koffietafeltjie neer.

      “Nee, tante,” sê Ilse, huiwer ’n oomblik en besluit dan om tant Truia in haar vertroue te neem. “Bruce was netnou hier om my te vra om met hom te trou. Ek dink hy was so verdwaas toe ek weier dat hy dit nog nie kan glo nie. Hy het in elk geval gesê ek moet daaroor dink, want hy sal my weer môre kom vra. Mans, darem! Die verwaande vent kan doodeenvoudig nie glo daar is ’n vrou wat nie oor haar voete sal val om met hom te trou nie.”

      “Hie-hie!” lag tant Truia, merkbaar in haar skik. “En toe sê jy sowaar nee, my kind? Tag, maar ek is bly, hoor! Dan was ek al die jare verniet bekommerd oor jou … Nou nie dat ek geglo het jy sal met hom trou nie, Ilsetjie, maar jy kan maar sê ek was as ’t ware besorg oor jou. ’n Mens weet nooit … en die vent se pa is darem skandelik ryk. Maar ek is bly jy het nee gesê, kind, want die vrou wat met daardie man trou, soek net haar eie ongeluk.”

      “Tante luister te veel na Tanya se stories, en eintlik loer sy self met lang oë na Bruce,” sê Ilse met ’n skewe glimlaggie.

      “Tja, dis miskien waar, Ilse, maar Henk het darem al ook vir my gesê Bruce mors met die meisiekinders. Foei, hy maak die ou goedjies net op hom verlief, en dan los hy hulle weer. A nee a, so maak ’n mens mos nie! Jy was nooit verlief op hom nie, nè, Ilsetjie?” vra tant Truia vertroulik.

      “Gelukkig nie, tante, maar in my eerste jaar het ek my wat verbeel omdat hy my so dikwels uitgeneem het,” vertel Ilse laggend. “Ek weet daar is baie stories oor Bruce, maar wat my betref, het hy my altyd baie hoflik behandel. Dis miskien daarom dat hy nooit moeg geword het om my uit te neem nie – omdat ek nie soos ’n ryp perske in sy skoot geval het nie. Vroeër het Bruce-hulle se baie geld my beïndruk, maar as ’n mens eers vir Bruce ken, is hy maar soos enige ander ou, behalwe dat hy meer verwaand is. Maar selfs dít is net ’n masker, want inherent is hy eintlik bitter onseker van homself. Dis al asof hy jou met sy geld probeer verblind sodat jy nie die klein, bang seuntjie agter die geld sal raaksien nie. En eintlik kan ek dit verstaan. Bruce se pa is ’n suksesvolle man, ’n miljoenêr, maar wat is Bruce? ’n Mislukking wat sy pa se geld nodig het om iets te wees.”

      “Foei tog, maar dan moet ons mos die kind jammer kry, Ilse­tjie? Tag, dis seker darem nie net sý skuld dat hy nie ’n bietjie meer ruggraat gekry het nie – seker maar sy ma wat hom so bederf het omdat hy die enigste kind is. Sies tog, nes ons Henkie. Hy’t ook maar alleen grootgeword, maar sy ma het hom reg geleer. Glo ’n fyn mens, Henk se ma. Haai, ek wonder hoe gaan dit vanaand met die arme kind?”

      “Dit kan nie juis ’n vrolike kuiertjie vir hom wees nie, tante – nie met sy oupa se dood nie,” sê Ilse sag. “Ek wonder wanneer hy terug sal wees? Hy het nie dalk gebel nie, tante?”

      “Nee, hartjie, maar hy is seker baie besig. Tag, dat sy pa hom sowaar gebel het … Ook maar ’n trotse ou stywenek, soos ek verstaan. Tilda Swart, ou dokter Swart se vrou, ken Henk se ma al baie jare, en sy vertel my Henk se pa is maar ’n befoeterde mansmens, ook van die soort wat gewoond is om sy sin te kry. Nou nie ’n slegte man nie, verstaan, maar hy is gewoond sy woord is wet. Dis dié dat hy so boos was toe Henk besluit het om verder te studeer. Reken, Henk was al ouer as een-en-twintig toe hy universiteit toe gekom het. Soos ek die ding verstaan, was hy te bang om sy pa eerder teë te gaan – ek bedoel nou pas nadat hy klaar was met skool. Maar dit lyk asof dinge tussen hom en sy pa nou weer sal regkom, noudat sy oupa so skielik oorlede is.”

      “Ek hoop so vir Henk se onthalwe, tante. Henk is self maar ’n moeilike kalant, nes sy pa. Dis geen wonder die twee het gebots nie.”

      “Darem

Скачать книгу