Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten страница 15

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten

Скачать книгу

openlik: sy’s ’n agie. Sy hou daarvan om rond te kyk, haar omgewing te verken, haar lang neus in ander mense se goed te steek, in private hoekies te snuffel.

      Teen die mure hang geraamde kleurfoto’s van knolle wat lyk of hulle in klam, donker plekke hoort. Is dit swamme? Party herken sy as paddastoele. Of is dit sampioene? Die foto’s is duidelik met groot sorg en duur lense geneem. Dramatiese spel van lig en skadu, mikrodetail van tekstuur en kleur.

      Die ontvangsdame beduie haar na die LOURENS PEPLER-deur, hou dit vir haar oop. Hy kom van agter om sy lessenaar aangeslenter, ’n sweem van ’n glimlag om sy oë en lippe, dalk so middelveertigs.

      “Vat boodskappe, Phumi. En iets te drinke sal lekker wees, dankie.” Hy hou ’n hand na Ella uit. “Koffie, tee, sap, water?”

      Sy vat die hand en glimlag vir Phumi. “Koffie, dankie. Swart, son­der suiker.”

      Sy vingers is verbasend skraal, die handdruk ferm sonder om haar handbeentjies te probeer vergruis. Hy gaan sit op die ander gastestoel. Dis ’n verrassing. Sulke mans is mos geneig, veral ná ’n kwasterige telefoongesprek, om die besoeker uit ’n posisie van gesag te probeer intimideer, daar uit sy groot stoel wat sê: Baas van die Plaas. Probeer hy opmaak vir sy ongeskiktheid?

      “So, jy’s die beroemde adjudant-offisier?” Hy bekyk haar ge­amu­seerd, asof hy ’n antwoord verwag.

      Sy swyg. Wat moet sy sê? As sy beroemd is, is sy beroemd.

      ’n Kuggie. “Jy’s aantrekliker as op die koerantfoto’s.”

      Sy swyg steeds. Sê hy haar koerantfoto’s is lelik? Sy voel ’n warm gloed in haar wange opstoot. Of probeer hy haar net uitlok? Sy besluit om hom, vir eers, ’n blos en die voordeel van die twyfel te gee.

      Sy draai haar blik van hom weg om die res van die vista in te neem. Lyk of hy goed doen sedert hy die polisie gelos het. Die ruim kantoor, sonnig verlig deur die boogvensters agter sy lessenaarstoel, was seker eens die sitkamer van die ou woonhuis, steeds met die gedrukte tinplafon, kroonlyste en oorspronklike oregonvloer, af­geskuur, vernis en bedek deur ’n Persiese mat, of faux kelim, so iets. Teen die oorkantste muur is ’n boekrak wat strek van vloer tot plafon (so, hy kan lees). Ook ’n paar ornamente, ’n groot TV-skerm, ’n koperpot met drie sonneblomme. Maar dis die vreemde skilderye teen die symuur wat haar oog lok. Sy staan op en stap nader. ’n Reeks botaniese skilderye, soos teksboek-illustrasies van die swamfoto’s by Ontvangs.

      “Jy hou van paddastoele, nè?” sê sy oor haar skouer.

      “Paddastoele?” sê hy. “Ja, dis my beskeie kunsversameling. Helaas net Charles Peck en Mary Banning, nie Monet nie. Waterverf en gouache van nederige fungi. Sampioene is eintlik makrofungi – en dis sampioene, nie paddastoele nie.”

      “Dankie vir die lesing.”

      In die rak is ook boeke daaroor: Psilocybin: Magic Mushroom Grower’s Guide; Psilocybin Production; Psilocybin Mushrooms of the World; The Mushroom Cultivator: A Practical Guide to Growing Mushrooms at Home.

      “Jy klink na ’n paddastoel-ekspert.”

      Hy aarsel vir ’n hartslag. “Dit was my stokperdjie. Jare lank my eie sampioene gekweek.”

      “Myne koop ek sommer in die supermark.”

      “Ek ook – chanterelles, buttons, portobello’s, en as ek geld het, truffels en matsutakes. Maar my spesialiteit was Psilocybe cubensis, en hom kry jy in g’n supermark nie.”

      Wat haar meer interesseer as swamme, is sy boeke oor ou foren­siese pioniers. Lacassagne, Locard, Bertillon, Tardieu, Spilsbury en ander. Sy gaan sit weer, haar nuuskierigheid ’n bietjie bevre­dig, maar nie heeltemal nie. Hy dra nie ’n trouring nie, daar’s nêrens gesinsfoto’s nie, nêrens ’n troufoto of portret van ’n mooi vrou nie.

      “Ek’s nuuskierig oor jou liggame sonder liggaamsdele, meneer Pepler.”

      “Sonder vingers. En los die gemeneerdery, net my ryk klante noem my meneer Pepler. En net my ma en ouma het my Lourens genoem, bless hulle siele. Ek’s sommer net Lou.”

      Die trek om sy mond kan enigiets beteken. Lyk of hy dit geniet om haar tereg te wys. Sy hou nie van teregwysings nie, nie eens deur kolonel Sauls nie.

      “Vertel my van jou ou saak,” sê sy. “Hoekom bel jy ons daar­oor?”

      Die deur gaan oop voor hy kan antwoord, en hy maak plek vir Phumi se skinkbord. Die gemmerkat kom saam ingeslenter, en nie meer jonk nie. Tydsaam. Kom gee haar been ’n speelse skuur op pad om die lessenaar. Verskyn agter op Lou Pepler se stoel, spring op die breë vensterbank, kry sy sit, begin ’n uitgestrekte voorpoot was met lang, ritmiese hale van sy skurwe rooi tong.

      “Dis Kandas,” sê sy baas. “Kandas die Derde.”

      Op die skinkbord is ’n lang glas met vloeistof wat lyk soos dik, vars osbloed, en ’n koffiebeker met ’n geglasuurde skets van ’n polkakol-paddastoel.

      “Ek’s destyds aangewys om die verdwyning van ’n jong man te ondersoek. Dit het by hom begin en by ’n spul mummies geëindig.” Hy vat die glas. “Ek lees ’n forensiese antropoloog ondersoek jou voete. Al resultate gekry?”

      “Dis vertroulik. As ekspolisieman weet jy mos ek kan niks oor my ondersoek sê nie. Maar hoe kan jy my help?”

      “Ek het nie gesê ek kan jou help nie. Jy lyk mooi groot, jy kan jouself help, jy’t mos die reeksmoordenaar gevang wat almal so op hol gehad het. Jy was in die koerante, op TV, oral. Luitenant Neser sou beter geklink het, dit val lekker op die tong, beter as adjudant-offisier Neser. Sien, ek volg jou loopbaan met belangstelling, ek’s ’n groot fan van jou.”

      “Dankie, ek’t nie baie fans nie.” Sy sien sy blik op haar hande toe sy die koffiebeker oplig en effe op die skinkbord stort.

      Hy sluk diep aan sy osbloed. “Jy was amper self toontjies in die lug, nè?”

      “Kan ons oor iets meer tersaaklik praat, meneer Pepler?”

      “Aha!” Die wysvinger wikkel afwysend heen en weer. “Daar doen jy dit weer! Asseblief. Nie meneer nie.” Hy sit sy halfvol glas neer. “Is dit hoekom jou hande so bewe, nog die residu van daai trauma? Om ’n lewe te neem, selfs dié van so ’n boosaard, sit nie lig aan mens nie, nè, warrant?”

      Was hý al amper ’n slagoffer, het hý al iemand doodgemaak? Het hý al op ’n donker stoep gestaan, maag geknoop, lyf in sweet, reg om op enige skaduwee los te brand? Beetgepak deur ’n onredelike, onverklaarbare vrees. Nie vir patetiese Stink Attie Kieser nie, maar vir wat hy verteenwoordig, hy en sy soort, op daardie glyskaal van lieplapper tot psigopatiese reeksmoordenaar.

      “Goed … hmm, Lou. Wat presies is die storie van die vingers?”

      “Hoe oud was jy in ’93?”

      “Wat de hel het dit …”

      Hy keer met ’n palm. “Ek weet, ek weet. Jammer, dis ongepoets, ’n vrou se ouderdom is haar eie saak. Ek probeer jou net in die prentjie plaas, in ’93 toe ek Billy Katz se verdwyning ondersoek het.”

      Dis ’n ontersaaklike feit en hy hoef dit nie te weet nie, maar sy was toe ses. “Hoekom het jy die vingers afgeknip? En was

Скачать книгу