Regardt. Regardt van den Bergh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Regardt - Regardt van den Bergh страница

Regardt - Regardt van den Bergh

Скачать книгу

on>

      

      REGARDT

      Dis nie luck nie – net genade

      Regardt van den Bergh

      saam met

      Danny Fourie

      Lux Verbi

      Opgedra aan my liewe vrou, Clara, en my wonderlike kinders, Lika, Tinus, Léan en Dawid.

      Voorwoord

      Baie mense het my al gevra of ek dit sou oorweeg om ’n boek te skryf. Dan het ek altyd gewonder waaroor ek sou skryf. Iets vir die gewone leser oor die bekoring van die rolprentbedryf? Of dalk ’n meer ondersoekende tema soos “Christenskap in die publieke oog”, of so iets? Tog het ek dit nooit regtig oorweeg nie. Dit was miskien omdat ek gevoel het dat ek nie noodwendig iets besonders of buitengewoon waardevols het om te sê nie. In elk geval, waar begin ’n mens as jy 62 jaar in 270 bladsye wil saamvat? Waaroor skryf jy en waaroor bly jy stil, wat sluit jy in en wat laat jy uit?

      Toe Susan Jordaan van Lux Verbi-uitgewers my bel, het ek gaan sit en die versoek deeglik oorweeg. Die uiteinde was dat ek besef het ons almal het ’n storie om te vertel en dat elkeen se storie waarde het. Nie een se storie is waardevoller as ’n ander s’n nie – voor die Here is elkeen van ons se lewe waardevol, ongeag die omvang of inhoud van ons lewensverhaal. Wat die een storie van die ander onderskei, is bloot dat ons elkeen se storie uniek is – elkeen van ons leef sy eie storie. Daarom het ek gevoel dit kan van waarde wees om my hart se reis op hierdie manier met ander te deel.

      Toe Lika en Leán klein was, het ek vir hulle boeke gelees, onder andere The Call of the Wild van Jack London, wat die eerste keer in 1903 gepubliseer is. Hy is ook die skrywer van White Fang (1906). Dit is die wonderlike avontuur van Buck, die halfhond, halfwolf, wat die beste sleehond in die geweste word nadat hy deur die hel en terug is onder die hande van gruwelike eienaars.

      Toe ek ’n paar jaar later dieselfde boek vir my jongste seun, Dawid, lees, het ek eers regtig besef hoe treffend die boek is. Dit was laataand toe ek die laaste deel vir Dawid lees. Hy het lekker toegewikkel onder die komberse gelê. Ek het gelees waar Buck weer die gehuil van die wolwe in die woud hoor. In daardie stadium was Buck die leier-trekhond. Sy baas is baie lief vir hom, hy is vet gevoer en hy lê in die sneeu by ’n lekker warm vuurtjie. Maar daardie keer roer die geroep van die wolwe iets diep binne-in hom. Hy hoor die roepstem van die wolf in hom, sy oer-ontwerp, sy ware identiteit. Die wolfhond luister en in sy binneste wonder hy: Bly hy by sy nuwe eienaar, of antwoord hy op die “call of the wild”?

      Dawid was al aan die slaap toe ek lees hoe Buck by die wolwe aansluit en deur die ander wolwe ontvang word nadat hy sy leierskap teen die alfa-wolf bewys het. Die trane het oor my wange geloop. Buck het ja gesê vir wie hy werklik was. My trane het geloop soos elke keer wanneer my pa my die storie van die lelike eendjie vertel het. Wanneer die eendjie sy ware beeld in die water gereflekteer sien, het ek as klein seuntjie, sonder uitsondering, elke keer in trane uitgebars. Ek glo vandag nog dat my pa by kere doelbewus die storie vertel het om my in trane te kry. Hy was ’n regte platjie.

      Nietemin, wat was dit wat my so ontsaglik emosioneel getref het? Die ontdekking van die werklike jy. Het ek daardie tyd in my binneste geweet ek gaan eendag in ’n spieël kyk wat vir my die waarheid gaan wys?

      ’n Mens kan kyk en kyk en nie die refleksie raaksien of die roepstem hoor nie, maar iewers in die woud is daar die roepstem wat jy herken. Hy roep jou naam. Jesus het gekom om my te wys hoe ek lyk. Soos Buck moet ek net antwoord op die roepstem en offer wat Hy vra: my amen op die spieëlbeeld.

      Dit laat my dink aan 2 Korintiërs 3:17 en 18, my gunstelingvers in die Bybel en soos dit in die 1953-vertaling staan.

      Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.

      Hoor hoe mooi vertaal Francois du Toit dié verse in sy Mirror Bible (www.mirrorword.net):

      The Lord and the Spirit are one; His Lordship sanctions our freedom. A freedom from rules chiselled in stone to the voice of our redeemed design echoing in our hearts!

      The days of window shopping are over! In Him every face is unveiled. In gazing with wonder at the loveliness of God displayed in human form, we suddenly realize we are looking into a mirror, where every feature of His image articulated in Christ is reflected within us. The Spirit of the Lord engineers this radical transformation; we are led from an inferior mindset to the revealed endorsement of our authentic identity.

      Dit is ’n bekvol, maar as ek mooi daaraan dink, is dit ’n goeie rede om hierdie boek te skryf: Daar mag net iewers ’n spieël opgehou word of ’n roepstem in die woud weerklink.

      Ek wil graag dankie sê vir die geleentheid om ’n boek te kon skryf en vir almal wat daarby betrokke was. Eerstens vir my vrou – vir jou liefde, geduld en die baie kere wat ek jou wysheid kon vra en toepas. Dan vir my kinders en hul liefde – Lika, Tinus, Leán en Dawid, julle is uitsonderlik spesiaal! ’n Spesiale dank aan Susan Jordaan van Lux Verbi, die beweegrede agter die boek. Dankie, Susan, dat jy my gebel het en ’n vlam in my kom aansteek het. Ek kan nie nalaat om ook vir al my vriende en familie dankie te sê dat hulle my lewe met my deel nie. Sjoe! Nou begin dit eintlik na ’n afskeidstoespraak klink.

      Ten laaste sê ek dankie vir Danny Fourie, want sonder jou was daar nie ’n boek nie. Dankie vir die besondere navorsing, al die ekstra myle en dat jy my só raakgevat het – en die nuwe vriendskap.

      Regardt van den Bergh

      Junie 2015

      Hoofstuk 1

      Kosmiese appèl

      Kan jy ’n beeld vorm van die groot wye wêreld?

      – Job 38:18

      My pa was nie ’n gereelde kerkganger nie. My ma ook nie.

      Die kerk en die Bybel het nie ’n plek in ons gesinslewe gehad nie. Ons was wel lidmate van die NG-gemeente Linden in Vyfde Straat, maar ons was nie meelewende lidmate nie. Sondae was ’n dag waarop ons by die huis was en my ouers miskien saam met hul vriende gekuier het en my pa besig was met sy voëls waarmee hy geboer het. Hy het in ’n stadium meer as ’n duisend voëls van alle soorte in ons agterplaas gehad. Hy het altyd gesê daar by die voëls is dit soos om in die veld te wees, net baie lekkerder.

      Daar was nie sprake daarvan dat ons almal op ’n Sondagoggend sou opstaan en aantrek om kerk toe te gaan nie. Die kerk was op die buitekring van ons lewe. My pa en ma het nooit saans toe ons klein was vir ons uit die Kinderbybel gelees en vir ons gebid voordat ons gaan slaap het nie. Dit was nie ’n behoefte by my nie, en daarom het ek dit nooit as ’n gemis ervaar nie.

      Tog het my ma ons Sondagskool toe gestuur. Dit was iets wat ek baie traag gedoen het. Ek het altyd ’n verskoning probeer uitdink om nie te gaan nie, want dit was vir my swaar om op ’n Sondag ook nog in ’n klas te moet sit. Ek kan eerlik sê dat ek in daardie jare niks van die Here geweet het nie. Niks! Die Here was vir my soos ’n baksteenmuur. Onpersoonlik. Ek het wel kerk toe gegaan, maar soos die evangelis Reinhard Bonnke dit op ’n keer verduidelik het, kan ’n mens in ’n seepfabriek werk en nog steeds sleg ruik. So was my kerkgang. Die enigste verklaring wat ek nou daarvoor het, is dat die vyand my verblind het. Die duiwel het my daardie tyd met ’n geestelike blindheid geslaan. Ek het

Скачать книгу