Saartjie Omnibus 4. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé страница 14
Anna sê dit is baie grillerig in die waenhuis. Dan laat staan hulle vir Apie en Bennie wat hopelik teen hierdie tyd al baie bang sal wees elkeen op ’n kissie. Die kissie moet só staan dat die sonlig deur die venstertjie net mooi op die twee seuns se gesigte val. Dan sit die meisies in die skaduwee en staar stip na die twee gevangenes. Hulle praat nie – hulle staar net.
Volgens Anna – en Saartjie glo dit heeltemal, want sy ken mos vir Apie en Bennie – sal hierdie starende oë later só op die seuns se senuwees werk dat hulle al banger en banger sal word en al meer en meer sal wonder wat met hulle gaan gebeur.
As dit later lyk of hulle wil begin huil, sal Saartjie begin praat – en dan moet sy die troefkaart speel. Sy moet die seuns in ’n hol stem meedeel dat hulle skuldig bevind is en toegesluit gaan word. En niemand sal hulle ooit weer sien nie.
Nou moet Saartjie-hulle vir Apie en Bennie vasbind en maak of hulle uit die waenhuis stap en dit van buite af toesluit. Intussen gaan dit vir die seuns voel of hulle stoksielalleen in die waenhuis in, terwyl al die meisies vir hulle sit en kyk.
“Dis miskien baie drasties, maar die twee moet vroeër of later ’n les geleer word,” sê Saartjie. “Hulle soek aanhoudend moeilikheid.”
“Dis dalk drasties, maar dis glad nie gevaarlik nie,” stel Anna haar gerus.
Die twee meisies bespreek die plan nou volledig. Die Drie Muskiete sal kom, en ook Gail Smith – en dan sal hulle nog ’n paar ander meisies ook kry. Hulle moet altesaam omtrent tien wees. Nie net omdat tien paar starende oë vir Apie en Bennie nog banger sal maak nie, maar omdat hulle tien meisies gaan nodig hê om die twee vabonde te vang.
“Dit sal maklik wees om tien meisies te kry,” sê Anna. “Almal is moeg vir daai twee se getergery. Hulle hou nooit op om ons uit te koggel nie.”
Die twee seuns gaan elke middag in die modderige rivier net buite Lynnekom swem. Die meisies besluit dit sal die beste plek wees om hulle te vang.
Saartjie is uiteindelik by Anna weg. Sy stap fluit-fluit terug na die Baumanns se huis toe. Sy is in haar skik. Môre gaan Apie en Bennie ’n les geleer word – een wat hulle nie gou sal vergeet nie!
Op die sypaadjie naby hul tuinhekkie gaan staan Saartjie stil. Sy kyk na die betonplaveisel en sug omdat sy nou weer moet begin spring. Saartjie dink daaraan dat hierdie simpel gespringery nie nodig sou gewees het as sy ’n fiets gehad het nie. Sy kon dan mos maar net met haar fiets oor die betonblokke gejaag het.
Saartjie wens deesdae al meer sy het ’n fiets gehad. Lina het een en daar is ’n kans dat Anna ook een gaan kry, so dan moet sý wat Saartjie is mos ook een hê. Dink net hoeveel meer dinge sal sy en haar vriendinne dan kan doen, want hulle sal alles mos baie vinniger kan doen! Saartjie het al baie geskimp en ’n keer of wat selfs reguit gevra ook, maar haar ouers wil nie byt nie.
Haar ma wys elke keer speels vir Saartjie haar grys hare en vra of haar dogter wil hê sy moet nog méér daarvan kry. Dit is volgens Martha Baumann wat sal gebeur as sy weet haar rabbedoe-meisiekind baljaar op ’n fiets rond. Sy sal haar doodbekommer. Saartjie dink haar ma oordryf. Sy is mos nie meer ’n babatjie nie!
Saartjie sug. Sy het nog nie ’n fiets nie, so sy sal maar net eenvoudig moet spring. Sy wip versigtig van die een blok na die ander en sorg dat sy elke keer mooi in die middel te lande kom. Sy hou ver van die gleuwe af, want sy wil tog nie weer van voor af begin nie.
Sonder dat sy aan ’n gleuf raak, kom sy by die hekkie uit. Saartjie hardloop met die tuinpaadjie langs huis toe. Apie sit op die stoep, maar toe hy haar gewaar, loop hy vinnig binnetoe en gaan sit by sy ma in die sitkamer. Hy dink hy is veilig hier. Hy is bang sy suster is so kwaad omdat hulle haar gepootjie het dat sy hom sommer sal klap.
Maar Saartjie ignoreer Apie heeltemal en dit laat hom nog meer onrustig voel. Sy vertel selfs nie eers vir hul ma hy het haar gepootjie nie. Sy bly net met so ’n bejammerende kyk in haar oë na hom staar. Dit laat hom kompleet voel soos ’n skaap wat slagpale toe gelei word.
Toe die twee die aand sit en huiswerk doen, kan Apie die stilte en Saartjie se simpatieke kyke nie meer verdra nie. Hy sê: “Ek en Bennie het jou vandag lekker laat val, nè?”
Saartjie kyk glimlaggend na haar boetie. Dan skud sy haar kop sedig en sê sag: “Arme ou Apie.”
Apie is nou sommer baie bekommerd. Hy hou net niks van haar geheimsinnige houding nie. Dit sal baie beter wees as sy hom liewer wil slegsê of selfs sommer klap. Dis mos wat sy behoort te doen. Hy wens sy wil dit nou doen, want sy ouers is ten minste naby. Hy kan net ’n keel opsit, dan sal sy ma hom kom help. Dan is die hele affêre mos iets van die verlede.
Maar Saartjie kyk net telkens van haar boek af op en maak dan sulke klikgeluidjies met haar tong om te wys hoe jammer sy hom kry.
“Wat gaan jy doen, hè?” vra hy kastig uitdagend.
“Wat gaan ek doen waaroor?” Saartjie se wenkbroue is twee vraagtekens asof sy nie ’n benul het waarvan hy praat nie.
“Oor vanmiddag. Oor ek en Bennie jou so hard laat val het.”
“O, dit,” sê Saartjie net en tel haar boek op.
“Ja, dít!” sê Apie dadelik. Hy wil nie hê sy moet weer so doodstil sit en net af en toe sulke klikgeluidjies maak nie.
Saartjie kyk na haar boetie. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke en dan sê sy sag: “Laat ek jou hande sien.”
Apie is so dronkgeslaan deur hierdie onverwagte versoek dat hy sonder om twee keer te dink sy arms uitsteek om sy hande te wys.
Saartjie bekyk sy hande aandagtig, eers van die een kant en dan van die ander kant af. Dan sê sy: “Hmm, dit sal perfek pas.”
“Wat?” vra Apie. “Wat sal perfek pas?”
“Die tou,” sê Saartjie en tel haar boek met mening op. Sy wil leer. Sy het nie nou tyd om te sit en gesels nie.
Apie se oë is pierings. ’n Tou! Sy hande! Die tou gaan natuurlik om sy hande!
“Jy sal dit nie waag nie!” sê hy vurig.
“Wat?” vra Saartjie verbaas.
“Om my op te hang nie!”
“Waarvan praat jy?” vra Saartjie onskuldig en daar is ’n soet uitdrukking op haar gesig. “Ek het nie nou tyd om raaisels te speel nie. Ek moet leer.”
Dit is weer stil. Saartjie leer en Apie staar voor hom uit. Hy vryf af en toe sy polse. Hy is baie onrustig. Hy sal Bennie moet waarsku, want daar is beslis iets aan die gang. Hulle twee sal moet ligloop en ver van Saartjie-hulle af bly.
Toe mevrou Baumann vir Apie kom sê dis tyd dat hy moet gaan slaap, staan hy met ’n swaar sug op. Hy het nie veel geleer nie. In die deur draai hy om.
Saartjie sit glimlaggend na hom en kyk. Dan sê sy dit weer: “Arme ou Apie.”
“Probeer jy snaaks wees, hè?” sis haar boetie.
“Nee, ek kry jou net jammer.”
“Wel,