Saartjie Omnibus 4. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé страница 3

Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

Anna. “Ek weet sy speel iewers in die tuin.”

      Muggie is Anna se sewejarige sussie en sy gee vir die Drie Muskiete baie probleme, want die klein snip wil oral agter hulle aan stertjie. As hulle haar nie wil saamneem nie, sit sy só ’n keel op dat hul oortromme wil bars en hulle noodgedwonge moet sê: “Nou kom!” Dan verhelder Muggie se gesiggie sommer dadelik en die geskree kry op die daad end. En al stap die drie groter meisies dan opsetlik vinniger hou sy al draffende by, al is dit ’n paar tree agter hulle.

      Voor die Strydoms se huis stap Anna en Saartjie gebukkend agter die heining langs sodat hulle nie van binne af gesien kan word nie. Toe hulle by die oop hekkie kom, hardloop hulle vinnig verby en beweeg dan weer gebukkend verder.

      Die twee is ’n paar tree verby die hekkie en wil mekaar net mooi gelukwens toe hulle ’n skril stemmetjie agter hulle hoor: “Haai! Wag!”

      Hulle gaan moedeloos staan en kom regop. Muggie kom aangehardloop. Sy swaai haar pop, Trienkie, onverskillig aan een arm agter haar aan. Die pop kap-kap teen haar bene.

      “Waar gaan julle heen?” vra die kleintjie hygend. “Julle’t gedink ek sal julle nie sien nie, nè?” Voor hulle nog kan antwoord, voeg Muggie by: “Maar ek’s nie blind nie. Ek het julle dadelik gesien! Wê! Pê!” Sy steek haar tongetjie lank uit. “Ek gaan saam met julle,” sê sy beslis en om dit te beklemtoon, sê sy weer: “Wê! Pê!” Die tongetjie kom weer uit.

      Muggie staan met haar hande op haar heupe en haar kop effens skuins gedraai. Sy is reg om te begin skree as hulle haar en haar pop nie wil saamneem nie.

      Saartjie en Anna kyk na mekaar. Albei kan maar net hul skouers optrek. Daar is duidelik geen ander uitweg nie. Muggie sal maar moet saamgaan.

      “Ek weet nie hoekom jy so ’n lawaai maak nie,” sê Anna vir haar sussie. “Jy kan natuurlik saamgaan. Ons het mos nie gesê jy kan nie …”

      “Hoekom het julle dan so agter die heining weggekruip?” wil Muggie weet. “Ek het julle gesien. Ek het al met die ander kant langs in die tuin geloop. Julle koppe het tog uitgesteek, wê!”

      Saartjie en Anna kyk verbaas na mekaar en bars dan uit van die lag. Dit moes vreeslik snaaks gelyk het: Hulle twee wat aan die een kant van die heining suutjies sluip terwyl Muggie aan die ander kant net so suutjies saamsluip en hulle dophou!

      Saartjie en Anna stap vinnig na Lina toe. Muggie draf geselsend saam. Die twee ouer meisie neem egter nie veel notisie van haar nie.

      Lina Rens woon in die laaste huis in Lynnekom. Langs die Rense se erf is daar ’n oop stuk veld en net ’n entjie verder staan die ou plaashuis wat nou al jare lank leeg is – “die spookhuis” soos die kinders dit deesdae noem.

      Dit is juis hieroor wat Saartjie en Anna nou hier by Lina is. Hulle wil hoor of sy dalk gisteraand die spook – of spoke! – se kreungeluide gehoor of miskien vir oom Izak sien weghardloop het. Lina sit op ’n bankie in die tuin wanneer Saartjie, Anna, Muggie en Trienkie daar aankom.

      “Haai!” sê Lina vrolik toe sy die ander gewaar.

      “Haai jouself!” groet hulle ewe opgewek terug.

      Lina is ’n lang, skraal meisie met lang hare wat op haar rug hang. Sy is die een wat altyd effens beswaar maak as Saartjie met ’n voorstel vorendag kom, maar op die ou end speel sy tog saam en ondersteun Saartjie dan entoesiasties.

      Saartjie, Anna en Muggie kom sit almal by Lina op die bankie en dan draai hul koppe in die rigting van die spookhuis.

      “Het jy miskien gisteraand iets snaaks gehoor?” vra Saartjie vir Lina.

      “Nee, wat moes ek gehoor het?”

      “Iets soos iemand wat kreun …”

      “Iemand wat nie van hierdie wêreld is nie,” voeg Anna met ’n skor stem by.

      “Wie’t nou weer die spook gesien?” vra Lina geamuseerd.

      “Oom Izak,” antwoord Saartjie.

      Lina dink ’n oomblik hieroor na en sê dan: “Dit sê nie veel nie. Ons ken mos almal vir oom Izak.”

      “Dis wat ek ook dink,” sê Saartjie en gryp dadelik na die geleentheid om weer te wys hoe geleerd sy is. “Oom Izak is nie ’n betroubare getuie nie. Nog geen betroubare getuies het al die spook gesien nie.”

      Anna vertel nou wat oom Izak gesê het – hoe hy die spook gesien en gedink het dit is tannie Meraai se gees, en hoe hy haar gevra het hoekom sy nie tot rus kan kom nie. Die spook het nie geantwoord nie, maar net kreungeluide gemaak en al nader aan hom gekom. Toe kon oom Izak dit nie meer uithou nie, en hy het weggehardloop.

      Terwyl Anna vertel, sit almal aandagtig na die ou huis in die veld en kyk. Dit word nou sterk skemer.

      Saartjie kyk stip na die spookhuis en sê dan: “Sien julle wat ek sien?” Sy begin lag. Die ander sien dit ook en almal skaterlag.

      Galpil, Gert en Piet kom deur die veld aangeloop. ’n Paar tree agter hulle volg Apie en Bennie. Die seuns loop luilekker, maar wanneer hulle by die spookhuis kom, begin hulle vinniger loop. Hulle vat ook nie hul gewone kortpaadjie deur die huis se erf nie, maar gooi ’n taamlike draai om die plek.

      Die meisies lag heerlik, want dis tog te snaaks om te sien hoe bang die seuns is. Apie en Bennie is glad nie meer agter nie. Hulle hardloop nou heel voor. Nie een waag dit eers om oor sy skouer na die ou huis te loer nie.

      “Hulle is darem maar ’n bang klomp,” sê Saartjie grinnikend.

      Toe die seuns verby Lina-hulle se huis kom, stap hulle weer doodluiters en die meisies hoor hoe hulle grootpraat en sê hulle skrik nie vir spoke nie.

      Saartjie is bekend vir hoe skitterend sy mense na-aap. Toe die seuns naby aan hulle kom, sê sy in ’n lae, hol spookstem: “Haai! Waarheen gaan julle?”

      Die seuns steek in hul vier spore vas. Hulle kyk verskrik na mekaar. Dit is nou al amper donker. Apie sê: “Het … het julle gehoor wat ek gehoor het?”

      Die ander knik kop. Hulle het dit ook gehoor. Hulle loer versigtig oor hul skouers, maar dan gewaar hulle die meisies en ontspan.

      Die meisies lag lekker en die seuns kom vies nader.

      Galpil is ’n fris knaap met ’n boskasie hare wat selde gekam word. Sy regte naam is Lodewyk le Fras de Waal, maar baie min mense weet dit. Almal ken hom maar as Galpil. Die Drie Muskiete hou nogal van Galpil en sy twee vriende, Gert en Piet. Hulle ken die seuns al baie lank, want hulle was saam hier op laerskool en is nou ook in dieselfde hoërskool.

      Wat Saartjie egter dwars in die krop steek, is dat Galpil almal voor die voet as “ou perd” of “pêrre” aanspreek.

      Wanneer hulle by die meisies kom, sê Galpil verontwaardig: “Probeer julle pêrre snaaks wees, of iets?”

      Gert, Piet, Apie en Bennie kyk die laggende meisies ook vies aan.

      Toe die gelag bedaar, sê Saartjie: “Nee, ons probeer nie snaaks wees nie. Ons het maar net gelag …”

      “Hoekom?” wil Apie weet en hy maak sisgeluide

Скачать книгу