Donderslag. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 15

Donderslag - Wilbur Smith

Скачать книгу

het die beeste uitgeroei, hy moes geld by die bank leen.” Sy huiwer ’n oomblik. “En hy drink deesdae baie. Ek kan nie vir seker sê nie – hy gaan nooit hotel toe nie en ek het hom nog nooit sien drink nie. Maar dis wat dit moet wees.”

      “Ek sal uitvind waar hy is wanneer ek Colenso toe gaan.”

      “Jy sal hom maklik kry. Garry is ’n luitenant-kolonel in die generale staf. Hy is verlede week van majoor af bevorder, en hy het die Distinguished Service Order gekry, by sy Victoria Cross. Hy is in beheer van die samewerking tussen die koloniale en imperiale eenhede.”

      “Goeie hemel!” Sean is verbyster. “Garry ’n kolonel!”

      “Generaal Buller dink die wêreld van hom. Die generaal het natuurlik self ’n Victoria Cross.”

      “Maar,” protesteer Sean, “Ma weet hoe Garry daardie medalje gekry het. Dit was ’n fout. As Garry op die generale staf is … die Vader behoed die Britse leër.”

      “Sean, jy moenie so van jou broer praat nie.”

      “Kolonel Garrick Courtney.” Sean lag hardop.

      “Ek weet nie wat hierdie ding tussen jou en Garry is nie. Maar dis iets aakligs, en ek wil niks daarvan in hierdie huis hê nie.” Ada se stemtoon is kwaai en Sean sluk sy lag.

      “Ek is jammer.”

      “Voordat ons die onderwerp los, wil ek jou net waarsku. Wees baie versigtig hoe jy vir Garry hanteer. Wat ook al tussen julle gebeur het – en ek wil nie weet wat dit is nie – Garry haat jou nog. Hy het selfs ’n keer of wat oor jou begin praat, en ek moes hom stilmaak. Maar ek hoor dieselfde stories van Michael af, die seun kry dit by sy pa. Dis omtrent ’n obsessie by hom. Loop lig vir Garry.”

      Ada staan op. “En nou, wat Dirk betref … Wat ’n lieflike kind is hy nie! Maar, Sean, ek is bevrees jy’t hom bietjie bederf.”

      “Hy’s ’n wildewragtig,” gee Sean toe.

      “Watse skool het hy gehad?”

      “Wel, hy kan so ’n bietjie lees …”

      “Los hom hier by my. Ek sal hom inskryf as die skooljaar begin.”

      “Ek wou gevra het. Ek sal geld los.”

      “Tien jaar gelede is daar ’n groot en geheimsinnige deposito in my bankrekening inbetaal. Dit was nie myne nie, toe belê ek dit teen goeie rente.” Sy glimlag vir hom en Sean lyk skuldig. “Ons kan dit gebruik.”

      “Nee,” sê hy.

      “Ja,” kap sy teë. “En sê nou vir my wanneer jy weggaan.”

      “Binnekort.”

      “Hoe gou?”

      “Môre.”

      11

      Sedert hulle die World’s View-pad uit Pietermaritzburg geklim het, ry Sean en Mbejane in sonskyn – ou kamerade, gemaklik saam. Met verloop van jare, deur swaarkry en gedeelde humor, het hulle gevoel vir mekaar in ’n hegte vriendskap ontwikkel. Hulle grappe is ou grappe, en die reaksies teen dié tyd amper outomaties, maar die opwinding wat hulle nou voel, is nuut, soos wat elke dag se son nuut is. Want hulle ry oorlog toe, op pad na nog ’n kragmeting met die dood, en dit laat als anders onbelangrik voel. Sean voel vry, verlos van die gedagtes en menseverhoudings wat hom die afgelope tyd teister. Slaggereed gaan hy sy toekoms tegemoet met ’n opgeruimde gevoel in sy hart.

      Terselfdertyd kan hy van sy eie ek af ontsnap, dis asof hy homself op ’n afstand sien en goedig grinnik vir sy eie kinderlikheid. Liewe hemel, hulle is soos twee seuns wat stokkiesdraai! Toe hy die gedagte verder voer, is hy meteens dankbaar – dankbaar dat dit so is, dankbaar dat hy nog steeds in staat is om alles anders te vergeet en soos ’n kind uit te sien na dit wat kom. Vir ’n ruk steek sy nuwe gewoonte van selfondersoek weer kop uit: Ek is nie meer jonk nie en ek het baie geleer, ervaring steen vir steen langs die pad opgetel en in ’n muur in gemessel. Die vesting van my manlikheid is nog nie klaar nie, maar wat ek tot dusver gebou het, is sterk … En tog is die doel van ’n vesting om kosbare dinge veilig te bewaar. As ’n mens dan tydens die bou van die vesting als verloor wat jy wil beskerm, is die voltooide vesting mos ’n sinnelose belaglikheid … Maar ek het nie regtig alles verloor nie. ’n Bietjie daarvan het ek verruil. Ek het ’n bietjie geloof verruil om boosheid te leer ken; ’n bietjie lag verruil vir kennis van die dood; ’n bietjie vryheid verruil vir twee seuns (en dit was ’n goeie ruil) – en ek weet ek het nog ietsie oor ook.

      Aan sy sy merk Mbejane die verandering in Sean se luim, en hy probeer sy aandag op ligter dinge vestig.

      “Nkosi, ons moet aanstoot as jy by jou drinkplek op Frere wil uitkom.”

      Met wilskrag ruk Sean hom los van sy donker gedagtes, en lag.

      Hulle ry aan na die noorde toe, en op die derde dag bereik hulle Chieveley.

      Sean onthou sy verwondering toe hy as jong seun aan die begin van die Zoeloe-oorlog by lord Chelmsford se kolonne op Rorkesdrif aangesluit het. Toe het hy gemeen dis onmoontlik om meer manne as dit bymekaar te bring. Nou kyk hy uit oor die Britse leër se kamp voor Colenso en hy glimlag: Chelmsford se manne sou skoon verdwyn tussen die kanonne, en die kamp strek nog twee myl anderkant toe. Ry na ry van wit seilkeëls met die perdestaanplek tussenin, en anderkant dit die ordelike akkers vol transportvoertuie, duisende van hulle, met die trekdiere wat wei bykans so ver as die oog kan sien.

      Dis ’n indrukwekkende gesig, nie net omdat dit so groot is nie, maar ook oor die netjiese, doelgerigte uitleg. Hy sien dieselfde militêre presisie in marsjerende soldate, die glinstering van hul diggepakte bajonette wanneer hulle ’n omkeer maak en weer in die ander rigting marsjeer.

      Namate Sean deur die kamp dwaal en die regimente se name aan die punt van elke ry tente lees, onthou hy hulle glorieryke verhale. Maar die nuwe kakieuniforms en sonhelms maak dat hulle almal nou eenders lyk. Net die kavallerie behou nog ’n bietjie van die tradisie in die vlae op hul lanspunte. ’n Eskadron kom op ’n draf verby en Sean kyk afgunstig na hulle perde. Groot, blink diere, so arrogant soos die mans wat hulle dra; perd en ruiter met ’n sweem van onmenslike wreedheid in die blink, skerp lanse wat hulle dra.

      Talle kere vra Sean die vraag: “Waar kan ek die Guides kry?” Die antwoorde kom in die dialekte van Manchester en Lancashire, in die skaars verstaanbare aksente van Skotland en Ierland, maar hulle is almal ewe nutteloos.

      Eenkeer gaan staan hy om ’n groep met een van die nuwe Maxim-masjiengewere te sien oefen. Lomp, besluit hy, dit het geen kans teen ’n geweer nie. Later sal hy hierdie besluit onthou, verleë oor sy kortsigtigheid.

      Die hele oggend loop hy deur die kamp met Mbejane agterna, en teen die middag is hy moeg en vuil en befoeterd. Dit lyk of die Natal Corps of Guides ’n kammakastige eenheid is. Hy staan op die kamp se rand en kyk terug na die oop veld, wonder wat hom nou te doen staan.

      ’n Halfmyl ver bemerk hy ’n dun blou rookstreep oor die grasvlakte. Dit kom van ’n strook bosse af, seker ’n rivierloop. Wie ook al besluit het om daar te kamp, weet duidelik hoe om hulle in die veld in te rig. In vergelyking met die hoofkamp se barheid sal daardie kamp ’n paradys wees – beskut teen die wind, naby brandhout en water, ver weg van senior offisiere af. Dís sy antwoord. Sean glimlag en kies koers oor die vlakte.

      Sy

Скачать книгу