Donderslag. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 16

Donderslag - Wilbur Smith

Скачать книгу

      Die kêrel sit in ’n enemmel-waskom onder ’n groot doringboom terwyl ’n bediende warm water uit ’n groot swart ketel byvoeg.

      “Hallo,” groet Sean hom. Die man kyk van sy boek af op, haal die seroet uit sy mond en groet terug.

      “Ek soek na die Guides.”

      “Jy het hulle, ou maat. Sit gerus.” Dan sê hy aan die bediende: “Bring daar vir die nkosi ’n koppie koffie.”

      Sean gaan sit dankbaar op die riempiestoel naby die bad en strek sy bene uit. Sy gasheer sit die boek eenkant neer en begin sy harige bors en armholtes inseep terwyl hy onderlangs na Sean loer.

      “Wie’s in bevel hier?” vra Sean.

      “Wil jy hom sien?”

      “Ja.”

      Die man in die bad hou sy hand bak by sy mond en roep: “Haai, Tim!”

      “Watsit?”

      “Hier’s iemand wat jou wil sien.”

      “Wat wil hy hê?”

      “Hy sê hy wil met jou praat oor sy dogter.”

      Daar is ’n lang stilte terwyl die man in die wa hieroor dink. Dan: “Hoe lyk hy?”

      “’n Groot knewel, met ’n haelgeweer.”

      “Jy speel seker!”

      “Se gat! Hy sê as jy nie uitkom nie, kom haal hy jou daar uit.”

      Die wakap se seil lig versigtig en ’n oog loer deur die gleuf. Die woeste gebrul wat volg laat Sean so skrik dat hy sommer kiertsregop spring. Die seil word oopgegooi en die Guides se bevelvoerder spring uit. Hy bestorm Sean met sy arms gereed vir stoei. Vir ’n oomblik staar Sean hom aan, dan brul hy ook en neem ’n verdedigende houding in.

      “Jaa!” Die man loop hom storm en Sean wag hom in, bors teen bors, gryp die man in ’n greep vas.

      “Tim Curtis, jou verdomde Yankee!” bulder hy laggend, en skree toe Tim hom hard aan die baard pluk.

      “Sean Courtney, jou blikskottel,” kom die antwoord uitasem toe Sean se greep die man se bors toeklem.

      “Gooi daar ’n dop.” Sean gee hom ’n speelse hou.

      “Sommer ’n hele bottel.” Tim gryp sy ore en knyp hulle geniepsig.

      Uiteindelik laat los hulle mekaar en staan agteruit, lag borrelend van blyheid om mekaar weer te sien.

      Die bediende kom met Sean se koffie, en Tim stuur hom terstond terug. “Niks van daai teerwater nie! Bring daar ’n bottel brandewyn uit my wakis uit.”

      “Ek neem aan julle twee ken mekaar,” onderbreek die man in die bad hulle.

      “Ken mekaar! Hemel, ek het vyf jaar lank vir hom gewerk!” snork Tim. “Sy vuil goud onder die grond uit gegrawe. Slegste baas wat ek ooit gehad het.”

      “Wel, dan’s dit nou jou kans,” laat hoor Sean, “want ek het vir jou kom werk.”

      “Hoor jy dit, Saul? Die domkop wil aansluit.”

      “Mazel tov!” Die man in die bad druk sy seroet se kooltjie in die water, skiet dit weg en staan op. Hy steek sy seperige hand na Sean toe uit. “Welkom by die legioen van verlorenes. My naam is Saul Friedman. Ek lei af joune is Sean Courtney. Nou waar’s daai bottel dat ons jou aankoms kan vier?”

      Die geroesemoes het ander ouens uit hulle waens gelok en Sean word aan elkeen voorgestel. Dit blyk dat die Guides se uniform ’n kakietuniek sonder kentekens of rangmerke, slaprandhoede en rybroeke is. Daar is tien van hulle, ’n rowwe spul wat Sean aanstaan.

      Kaal buiten vir die handdoek om sy middel, speel Saul kroegman. Dan skrop elkeen vir hom ’n plek in die skaduwee oop, gereed vir ’n ernstige drinkery. Vir die eerste twintig minute trakteer Tim Curtis hulle met biografiese en biologiese besonderhede oor Sean se loopbaan, waarop Saul kommentaar lewer wat hulle laat lê van die lag. Dis duidelik dat Saul die grapjas is, ’n rol wat hy met onderskeiding vervul. Hy is die jongste van hulle, seker so vyf-en-twintig, en fisiek die kleinste. Sy lyf is dun en harig. Op ’n manier is hy vrek lelik, maar vreeslik gaaf. Sean hou van hom.

      ’n Uur later, toe die brandewyn hulle vir ’n ruk ernstig stem, soos gewoonlik net voordat die wildste verspottigheid uitbars, vra Sean: “Kaptein Curtis …”

      “Luitenant, en moet dit nie weer vergeet nie,” wys Tim hom tereg.

      “Goed dan, luitenant. Wat is ons veronderstel om te doen, en wanneer?”

      Tim gluur in sy leë glas in, en kyk dan na Saul. “Sê jy hom.”

      “Soos ek nou net gesê het, ons is die legioen van verlorenes. Mense bejeën ons met jammerte en verleentheid. Hulle loop aan die oorkant van die straat verby, kruis hulself en prewel toorwoorde vir beskerming. Ons bly hier in ons eie melaatsekolonietjie.”

      “Maar hoekom?”

      “Wel, om mee te begin, ons is onder bevel van die mees miserabele klein misbaksel in die hele Natalse leër. ’n Offisier wat, ondanks ’n bors vol medaljes, nie ’n dameskoor sou kon inspireer nie. Hy is die hoof kommunikasie-offisier vir die koloniale magte op die generale staf – luitenant-kolonel Garrick Courtney, V.C., D.S.O.” Saul huiwer en sy uitdrukking verstar. “Nie familie van jou nie, hoop ek.”

      “Nee,” lieg Sean sonder blik of bloos.

      “Dankie tog,” gaan Saul voort. “In elk geval, dis hoekom mense ons bejammer. Die verleentheid spruit uit die feit dat niemand ons amptelike bestaan erken nie. Selfs as ons rantsoene trek, moet Tim eers ’n belaglike stuk komedie met die kwartiermeester uitspeel. Omdat ons kastig Guides is, dink almal ons moet vooruit gaan en die pad beginne wys. Nou dink hulle dis ons skuld dat generaal Buller in drie maande se tyd nog nie eens eenhonderd jaarts vorentoe gevorder het nie.” Saul maak sy glas vol. “Hoe dit ook al sy, ons brandewyn is darem nog nie op nie.”

      “Jy bedoel ons doen niks nie?” vra Sean ongelowig.

      “Ons eet, ons slaap en ons drink.”

      “Partykeer gaan ons kuier,” las Tim by. “Ons kan dit sommer nou-nou gaan doen.”

      “By wie kuier ons?”

      “Die mees ondernemende vrou in die distrik, skaars vyf myl hiervandaan. Sy het ’n rondreisende sirkus – veertig waens en veertig meisies. Hulle tou agter die gevegsmagte aan vir troos en aanmoediging. Kom ons gaan kry ’n bietjie. As ons nou wegspring, is ons voor in die koor – eerste daar kan eerste kies.”

      “Ek laat daai besigheid maar aan julle oor.” Saul staan op en drentel weg.

      “Hy’s ’n goeie ou,” merk Tim op terwyl hulle hom agternakyk.

      “Is dit teen sy geloof?”

      “Nee, hy is getroud en vat dit kop toe. Wat van jou?”

      “Ek

Скачать книгу