7 Dae. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 7 Dae - Deon Meyer страница 13
Op sy skoot is die geweer. Langs hom, op die gereedskapkis, is ’n stel skoonmaakgoed in die aluminiumtassie gerangskik – die metaalstokke, borsels, moppe, lappies en olie. Hy werk stadig en sekuur, want hy wil nie aan die teleskoop raak nie. Hy kan nie bekostig om dit weer na ’n skietbaan te neem vir instelling nie.
Nie meer nie.
Dit gaan vandag ’n lang skoot wees. Dalk die langste van almal. Daarom wil hy dit agter die rug kry.
En dit moet voor 12:00 gebeur, voor die strate Sondagmiddag-stil raak.
Vandag sal hy meer tydsaam moet wees. Kalm bly. Gister se eerste skoot was mis omdat hy nie die spanning goed hanteer het nie. Nou is die ys gebreek. Vandag sal hy beter skiet.
Hy kyk na sy horlosie. Twintig minute, dan moet hy ry.
* * *
“Daardie tyd, toe kon jy maklik inkom by dié gebou,” sê adjudant-offisier Tommy Nxesi. “By die parking garage, miskien met die trappe op, miskien met die lift. So hy het ingekom en toe kom klop hy aan die deur. Sy het klaar gewerk, miskien was sy onder. Toe kyk sy deur die gaatjie. En sy ken hom. Toe maak sy oop. Toe praat hulle daar. En hulle begin argue. Hy word baie kwaad. Toe steek hy haar. Toe sien hy sy is dood. Toe loop hy.”
“Kan wees.”
“Daar’s niks gesteel nie, kaptein. Daar’s nie motive nie. Shici. Nothing. No boyfriend, no social life aside from the two female friends, dit was net werk. Hulle sê sy was nice. But ambitious, sy het so hard op hierdie deal gewerk omdat sy ’n director wil word by Silbersteins. And the promotion was in the pipeline, dis wat Pruis vir my gesê het. So ek dink dit was iets anders. Eers het ek gedink dis drugs. Dié ryk hase, hulle snuif, ek het gedink haar dealer het gekom deliver, toe het sy nie genoeg cash nie, miskien was hy ook high, toe steek hy haar. Maar dan sou hy gesteel het ook. En die post mortem wys no drugs. Maar dit is so iets, kaptein. Somebody came about something. Iets wat haar werk en haar vriende nie van geweet het nie. Iets wat ons nie kan vat nie. Een van daai goed wat net gebeur, spur of the moment.”
9
Griessel vra hom waar hy die foto’s gekry het van Sloet, dié wat in die wit koevert is.
Nxesi huiwer ’n oomblik voor hy na die bedkassie toe loop, aan die regterkant van die bed. Daar is twee laaie, ’n deurtjie onder. Hy trek die tweede laai oop. “Kom kyk,” sê hy met kwalik verskuilde afkeer. En dan staan hy terug, asof die inhoud van die laai toksies is.
Griessel gaan kyk. Bo-op lê die vibrator, lank en dik, ’n makabere, getroue nabootsing van ’n penis. En daarnaas die boksie waarin dit gekom het. Big Boy Vibrator, in groot letters.
“Daar lê haar boyfriend,” sê Nxesi. “Die album is onder.”
Griessel sê niks, trek die fotoalbum uit en slaan dit oop.
Voorin is die naam van die fotograaf op ’n klein silwer plakker. Anni de Waal. En ’n adres in De Waterkant Village.
Nog foto’s van Hanneke Sloet, in dieselfde trant as dié wat hy gesien het, in ’n verskeidenheid poserings, een A4-afdruk per bladsy. Haar borskliewing word dikwels ten toon gestel, maar daar is geen ander naakfoto’s nie. En ag bladsye is leeg.
“Jy het net drie foto’s gevat?”
“Ewe. Twee vir die docket. En die kaal een, want ek wil nie hê haar ma moet dit kry nie.” Met groot erns.
Griessel probeer die album onder die vibrator en sy verpakking terugstoot. Hy kry dit nie reg nie, tel die boksie op, bêre die album. Hy lees op die kartonhouer: Big Boy is a hugely satisfying multispeed vibrating realistic veined cock. It’s a superhero love shaft for a meaty satisfaction designed to go deep and totally satisfy you with a greater girth for greater gratification. Real men just can’t measure up to this wild toy. Free Eveready Gold batteries included!
Hy kyk op, sien hoe die adjudant-offisier wag vir sy reaksie.
“Dis ’n snaakse wêreld, Tommy.”
“Hayi,” sê hy kopskuddend voordat hy sy bril regskuif.
* * *
By sy kar vra Nxesi dat hy moet teken vir ontvangs van die woonstelsleutels. Nadat Griessel dit gedoen het, sien hy die verligting, vlietend, asof die adjudant-offisier ’n gewig van sy skouers afgooi.
Net voor hy ry, vra hy: “Tommy, ek weet dit gaan snaaks klink, maar was daar enige sprake met jou ondersoek … enigiemand wat van ’n ‘kommunis’ gepraat het?”
“ ’n Kommunis?”
Sy verstomming is Griessel se antwoord. “Dis niks nie, Tommy, net iets wat die kolonel gisteraand gesê het.”
Nxesi skud sy kop. “I just found a lot of capitalists …”
Bennie bel in die ry vir Alexa en sê hy is op pad. Sy klink afwesig en ver, asof dit nie saak maak nie, en sy moed sink.
Die probleem is hy verstaan haar nie, al probeer hy, al verreken hy die skade van haar verlede. Daardie ontsaglike talent.
Drie maande gelede het sy vir die eerste keer kom sing saam met Roes, ’n amateur rock-en-blues-orkes vir wie Bennie baskitaar speel. Die naam is gekies want hulle is vier middeljarige, voorstedelike middelklasouens wat vyf maande gevat het om hul gesamentlike, aansienlike roes af te skud en stadigaan ’n repertoire van ou, klassieke liedjies te begin opbou, in die hoop om by troues en partytjies te speel. Hy het haar ’n paar keer versigtig genooi, sy het uit die bloute en op haar eie opgedaag by die ou gemeenskapsaaltjie in Woodstock waar hulle oefen. Sy het uitdrukkingloos gesit en luister terwyl hulle hul beste gegee het, erg bewus van haar musiekstatus. En toe vra sy ná die eerste stel: “Ken julle ‘See See Rider’ van Ma Rainey?” En Vince Fortuin, hulle leierkitaar met die anker-tatoeëermerk op sy seningrige skouer en die klein ogies wat heeltemal toemaak van plesier as hulle ordentlik aan die gang kom, sê: “Daai’s ’n lekka een, ma’ maybe so bietjie meer upbeat as Ma?” Alexa het met ’n effense glimlag en ’n knik van die kop saamgestem. Vince en die drommer Jaap, met sy lang grys hare en die sigaret permanent tussen sy lippe, het weggeval, en Griessel en die swaar-besnorde ritmekitaar Jakes Jacobs het geluister en bygekom, lekker sterk en stampend, en Alexa het die mikrofoon gevat en haar rug op hulle gedraai.
En toe sing sy.
Die ding is, hy’t gehoop, vaagweg en teen sy beterwete in, dat sy dit dalk sou oorweeg om saam met hulle op te tree. Nie permanent nie, dalk nou en dan. Spesiale geleenthede. Maar daardie aand, toe sy die eerste strofes sing, toe weet hy hulle is nie in haar klas nie.
Dit was die eerste keer in jare dat sy aan ’n mikrofoon gevat het, maar alles was net daar, onmiddellik en oorweldigend: die aanvoeling, die intonasie, die verstaan van die musiek, van hulle, van Vince se tempo en inslag. En die ryk, vol stem, die charisma, die betowering.
Sy het hulle standaard, hulle klank, hul vermoëns meteens gelig, sy het hulle skielik goed laat klink.
Toe sy klaar is, toe klap hulle vir haar hande, en sy sê: “Nee, nee, moenie.” En toe vra sy, selfbewus vir die kwalik onderdrukte honger: “Tampa Red se ‘She’s Love Crazy’?”
Vince