Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 18

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

      Mila vroetel ’n snesie uit haar sak, maar voordat sy haar oë kan afvee, neem Derek dit uit haar hand. Een vir een klad hy die trane op haar wange droog.

      “Daar’s hy,” sê hy tevrede. “Gaan was jou pragtige gesig daar in die kleedkamer en dan stap ons af kafeteria toe. Ék het beslis ’n koppie sterk koffie nodig.”

      Hulle stap in stilte by die trappies af. Toe Mila die stampvol kafeteria sien, kry sy ’n idee.

      “Ek is nie nou lus om tussen al daardie mense te gaan sit en koffie drink nie, Derek. Kom ek gaan maak vir ons iets by die geboorte-eenheid en dan drink ons dit rustig in my kantoor.”

      “Kitskoffie?” vra Derek effens twyfelagtig.

      “Nee, man, ordentlike koffie. Ons het ’n ghrênd masjien wat cappuccino’s en filterkoffie en espresso en elke ding kan maak. Net wat jy verkies. En ’n pasiënt voer vir ons die wonderlikste koffiebone uit Kenia in.”

      “Nou maar goed,” stem hy in. “Solank ek net ’n behoorlike dosis kafeïen inkry. Ek sê jou mos ek het dit broodnodig.”

      Dit word heel onverwags ’n heerlike gesteelde uurtjie. Mila maak vir haar ’n romerige cappuccino en Derek geniet sy espresso so baie dat hy ’n tweede koppie probeer bedel.

      “Is jy seker?” lag Mila.“Die goed is sterk! Dit gee mens behoorlik die ritteltits. Netnou laat val jy ’n baba!”

      “Nee wat, as ek vandag die bewerasies het, is dit oor Sunet se baba netnou so hittete geval het, nie oor ’n tweede koppie boeretroos nie.”

      “Boeretroos? Geen boer sal sulke bitter Italiaanse modder drink nie, man.”

      Mila skink vir hom ’n tweede koppie in die wit porseleinbekertjie wat sy vir spesiale besoekers aan die eenheid bêre.Toe sy dit vir hom aangee, is sy blou oë skielik ernstig.

      “Mag ek vra vir ’n toer van die eenheid, Mila? Ek sal graag wil sien waar jy werk.”

      Mila sluk swaar, maar probeer haar stem lig hou. “Jy bedoel seker jy wil sien hoe maklik jy dit in ’n pediatriese trauma-eenheid sal kan omtower?”

      Sy skrik half toe die woorde uit is; hulle klink soveel skerper as wat sy bedoel het. Sy loer skuldig op na Derek, maar ’n strak, emosielose masker het reeds oor sy gesig geskuif. Mila kyk weg, jammer dat sy die kameraadskaplike gevoel wat nou pas nog tussen hulle geheers het, vernietig het. Die gevoel wat broos soos ’n spinnerak in die môredou tussen hulle gespan is deur die oggend se gebeure …

      Met bittersoet emosies neem Mila Derek deur na die geboortekamer. Alles lyk eksie-perfeksie. Die bed is opgemaak en elke helderkleurige kussing is netjies op sy plek. Die blindings is oopgetrek en die oggendson skyn vrolik by die ruim vensters in. Die hele kamer lyk lig en gesellig, asof dit ’n mens uitnooi om te vertoef.

      “Jou ma is reg, jy’t ’n knus nessie hier geskep vir paartjies,” sê Derek ligweg verras. “’n Huis weg van die huis af. Jy’t ’n flair vir binneversiering, Mila, dit lyk glad nie soos deel van ’n hospitaal nie. Ek sukkel eintlik om my in te dink dat jy babas hier verlos.”

      Mila maak ’n paar van die houtkabinette teen die muur oop.

      “Al my mediese toerusting is hier, alles wat ’n mens moontlik kan nodig hê vir ’n kraamgeval. Ons steek dit net weg sodat die ouers nie daardeur ontsenu word nie.” Sy wys hom die suigapparaat in een van die kaste en trek ’n geruite gordyn opsy sodat hy kan sien waar sy die resussitasie-trollie bêre.

      “Werklik fassinerend,” sê hy, diep beïndruk. “Ek kan sien waarom jy voel die plek is spesiaal.”

      “Is hierdie nou die deel waar ek mag probeer om jou te oortuig om my eenheid uit te los?” vra Mila versigtig.

      Derek sug diep.“Niks het verander nie, Mila. Behalwe dat ek nou beter verstaan … Maar jy moet óók probeer verstaan. Die hospitaal het my aangestel om soveel geld moontlik te genereer. Dit maak nie van my ’n monster nie, ek is net besig om my werk te doen.”

      “En ek myne,” sê Mila hartseer.“Ek dink jy moet nou gaan. Ek moet nog ’n insidentverslag vir Leon Swiegers skryf oor vanoggend.”

      Derek deins terug van die weemoed wat hy in haar stem hoor. Weemoed gemeng met ’n tikkie … ag, hy kan nie eintlik dink wát dit is nie. Die gelatenheid op haar gesig raak hom fisiek. Dit voel asof iemand sy eie hart deur ’n vleismeul pers.Toe hy die deur van sy nuwe spreekkamer ’n paar minute later oopsluit en in die sonnige geel mure vol Winnie the Pooh-karakters vaskyk, spook Mila se geboë skouers steeds by hom. Hy besef skielik wat hy in haar stem gehoor het. Dit was verslaenheid – die verslaenheid van iemand wat aan haarself erken dat sy ’n ernstige nederlaag gely het.

      8

      Daardie aand kan Mila nie vinnig genoeg ná die voorgeboorteklas die paartjies by die deur uitboender nie. Sy antwoord hul vrae so geduldig moontlik en groet almal vriendelik, maar innerlik kners sy op haar tande en wens dat almal net hul ry wil kry. Sy is gewoond daaraan om met min slaap klaar te kom, maar wat te erg is, is darem te erg! Vanaand móét sy net verlore slaap inhaal sodat haar arme verflenterde senuwees kans kry om te herstel. Sy het dae laas in haar dagboek geskryf, en vanaand sal dit wéér nie kan gebeur voor slapenstyd nie.

      Vir die honderdste maal vandat sy daar ingetrek het, voel Mila dankbaar dat sy so naby die hospitaal bly. Sy is so gedaan dat sy ’n gevaar agter die stuur van haar motor is; sy sukkel om helder te dink. As die huis meer as vyf minute ver was, sou sy vanaand bang wees om op pad in te dommel.

      Die nadeel van haar gerieflike meenthuiskompleks is natuurlik dat daar ’n hele paar van haar kollegas op die perseel bly. Nie dat Mila dit ooit vantevore as ’n nadeel beskou het nie; dit het eers een geword toe Derek Reynders langs haar ingetrek het. Sy dink terug aan hul eerste stormagtige ontmoeting. Dan laat sy haar geheue teruggly oor die nag toe hy ewe sorgsaam vir haar ’n hoesmengsel aangedra het. Haar voorkop tintel by die blote gedagte aan die soen wat hy met daardie heerlike lippe daarop geplant het. Ai, as hy nét nie die een was wat haar eenheid wou sluit nie. Dan sou dit nie so ’n probleem wees dat sy halsoorkop verlief op hom gaan staan en raak het nie …

      Mila trek haar asem skerp in. ’n Koorsagtige gloed stoot in haar op, so vuurwarm dat sy versigtigheid na die maan stuur en haar motorvensters afdraai vir die koel verkwikking van die naglug. Ek is verlief op Derek Reynders, besef sy, en haar hart ruk pynlik in haar borskas. Ek is verlief op ’n man wat vasbeslote is om alles waarvoor ek gewerk het te vernietig. Wat meer omgee vir die hospitaal se finansies as vir enigiets anders …

      Mila is skielik woedend, vir haarself en vir Derek-blerrie-Reynders! Hoe kon sy so simpel wees om op só ’n man verlief te staan en raak? Het sy ’n masochistiese streep wat haar vir mans laat val wat haar hart aan flarde gaan ruk? Ja, sy het gedink hy’s gorgeous toe sy hom die eerste keer daar voor haar deur ontmoet het. Maar sy het tog van die begin af geweet dat hy ’n arrogante buffel is wat heeltemal te aantreklik vir sy eie beswil is! Wat op aarde is haar verskoning? Net ’n paar dae later het sy uitgevind dat hy nie net sy neus in haar sake wil steek nie, hy wil haar sommer professioneel bedonder ook! En het sy toe haar verstand begin gebruik en van die man weggebly? Nee, sy het nie!Vanoggend val sy toe sommer soos ’n lovesick puppy in sy sterk arms sodat hy haar traantjies kan afvee. Mens sou sweer sy is een van daardie patetiese meisies wat ouens met die holrug geryde damsel-in-distress slenter probeer aankeer. Wat moet die man van haar dink?!

      Nie

Скачать книгу