Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 15

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

net hulle twee oorbly. Sy lenige liggaam straal ’n warmte uit wat haar vel oral waar dit haar aangeraak het laat tintel. Derek skeur sy blou kykers langsaam van Mila weg en rig hulle gerusstellend op Jenna. Hy gaan staan langs haar bed en neem haar hand in een van syne. Sy ander hand rus op Renier se skouer.

      “Mevrou Odendaal? Ek’s Derek Reynders, die pediater wat na u baba gaan omsien. Ek moet sê, julle het ’n lieflike dag gekies – buite is dit vanmôre heerlik vars ná die nag se reën. Is daar enigiets wat julle vir my wil vra? Iets wat ek kan verduidelik voor ons begin?”

      Jenna kyk dankbaar op na Derek terwyl Mila die gesprek oopmond gadeslaan. Sowat van bedside manner het sy nog nooit aanskou nie! Veral nie van ’n pediater nie – hulle is nie verniet bekend as ’n spesie wat met kinders werk omdat hulle geen aanvoeling vir volwassenes het nie.

      Derek verduidelik geduldig vir Jenna en Renier wat hulle in die volgende uur of so kan verwag. Mila kan haar ore nie glo toe hy belowe om die baba sommer op Jenna se bors te ondersoek nie, mits alles normaal verloop, natuurlik. Sy het al gelees dat daar avant-garde hospitale is waar keisersnee-babas ook dadelik in vel-tot-vel-kontak met hul ma’s geplaas word. Tog het sy nog nooit van so iets gehoor in Suid-Afrika nie, en hier staan sy nou op die punt om dit met haar eie oë te sien!

      “Ek begryp dat hierdie geboorte nie verloop soos julle dit graag wou gehad het nie, Jenna,” hoor Mila Derek sê. “Is daar miskien iets wat ek kan doen om julle meer op jul gemak te laat voel?”

      Renier laat hom nie twee keer nooi nie.

      “Hoe gaaf van jou om te vra, dokter! Daar is eintlik ’n spesiale CD wat ons saamgebring het om tydens die geboorte te speel. As dit nie onmoontlik is nie, sal dit vir my en Jenna sóveel beteken as ons nou daarna kan luister. Dit sal dit meer soos ’n geboorte laat voel en minder soos ’n … mediese krisis.”

      “Maar natuurlik! Met die grootste graagte.”

      Derek draai na Peet de Wit. “Sal u my net so ’n oomblik verskoon, kollega? Ek en meneer Odendaal gaan net gou die musiek reël.”

      Die verbasing in die ginekoloog se oë is onverbloemd, maar hy knik tog vir Derek om voort te gaan. Kort daarna klink die eerste note van Handel se Messias oor die teater se luidsprekers. Die twee mans kom neem weer hul plekke in.

      Dokter De Wit verf Jenna se hele maag met ’n pienk ontsmetmiddel en tel dan die skalpel op om die operasie te begin. Hy en sy assistent het hul gesprek hervat en is nou besig om luidkeels te mor oor die tyd wat verloop voordat sekere mediese fondse hul rekenings betaal. Albei kyk verbaas op toe Derek Reynders hulle weer in die rede val. Sy stem is tegelykertyd hoflik en beslis.

      “Kollegas, waar ek vandaan kom, het ons die gebruik gehad om tydens keisersnitte net die allernodigste te sê. Hoewel dit ’n mediese prosedure is, bly dit bowenal die geboorte van ’n nuwe mensie. Mag ek u vra om saam met my so ’n gewyde stilte te handhaaf sodat die Odendaals dit as sodanig kan beleef? Ek’s seker hulle sal dit aangenamer vind.”

      Mila kyk verwonderd op na die verrassende man hier langs haar. Hoe op aarde kry hy dit reg om soveel agting en inskiklikheid op so ’n saggeaarde manier af te dwing? Hy is nou wel die hoof van pediatrie, maar sy kan skaars glo dat iemand wat nog so nuut by die hospitaal is dit kan waag om sulke gevestigde gewoontes sommerso goedsmoeds te probeer verander. Sy loer onderlangs na die ander dokters in die teater. Hoewel hulle effens uit die veld geslaan lyk, lyk dit nie asof enigeen aanstoot geneem het nie. Natuurlik omdat dit op so ’n innemende manier gedoen is.

      Vyf minute nadat dokter De Wit die skalpel opgetel het, wikkel hy die glibberige lyfie by die gapende snit uit. Hy hou die kleintjie triomfantelik in die lug op en laat haar ’n oomblik later weer effe verleë sak. Gewoonlik sou hy nou luidrugtig die baba aan haar ma bekendstel, maar vandag word sy seremonie deur Derek se versoek vir stilte bederf. Hy gee dus die baba ongemaklik vir Mila aan. Sy plaas die skreeuende bondeltjie op haar beurt in Derek se wagtende arms, nuuskierig om te sien wat volgende gaan gebeur. Haar hart vermurwe toe sy sien met hoeveel teerheid – en terselfdertyd selfvertroue – Derek die wriemelende kleinding optel. Met so ’n klein mensie in sy arms lyk hy nog meer onweerstaanbaar manlik.

      Hy tree vorentoe en buk af om iets in Renier se oor te fluister. Die nuwe pappa lig sy vrou se teaterjakkie onhandig op. Derek glip die baba onder die jakkie in sodat sy styf teen haar ma se bors lê. Dan draai hy na Mila.

      “Gee bietjie vir my die suigapparaat aan, asseblief. Dan kan jy solank vir Baba droogvrywe – sommer net so op Ma se bors.”

      Tot Mila se ergernis is haar keel dik van aandoening. Só ’n keiser het sy nog nooit beleef nie! Sy vee ’n wegholtraan lomp aan haar skouer af. Moet sy nou gaan staan en grens juis wanneer sy steriele handskoene aanhet en nie by ’n boks snesies kan uitkom nie? Wanneer haar aartsvyand boonop so naby haar staan dat geen vernederende detail van haar verleentheid ongesiens kan verbygaan nie?

      Mila loer na sy kant toe, maar hy’t genadiglik die stetoskoop in sy ore om na Baba Odendaal se hart te luister. Haar eie hart kramp ongemaklik terwyl sy hom dophou: die toonbeeld van sorgsame professionaliteit waar hy daar langs Jenna buk. Mila wens sy’t geweet wat om van hierdie skisofreniese man te dink! Een oomblik is hy ’n hartelose buffel wat haar eenheid wil sluit omdat dit nie genoeg geld maak nie, die volgende is hy so sensitief soos die beste vroedvrou in sy pogings om die geboorte vir die ouers ’n positiewe belewenis te maak.

      “Die bybie is tevrede daar op haar ma se bors, dokter, maar sal sy nie koud word nie?” vra die teatersuster besorgd.

      Derek hang die stetoskoop weer om sy nek en begin die omtrek van die kleintjie se koppie met ’n maatband meet.

      “Navorsing toon dat ’n pasgebore baba se liggaamsfunksies vinniger stabiliseer in vel-tot-vel-kontak met sy mamma. Die beste broeikas bly ’n ma se borste. Hulle gee nie net melk nie – hulle kan tot twee grade warmer word om die baba snoesig te hou.”

      Hy draai na Mila en vra tergend: “Het jý dit geweet, suster Mouton?”

      “Natúúrlik het ek dit geweet, dokter Reynders,” antwoord Mila, dadelik op haar perdjie. “Dis immers die beginsel waarop kangaroesorg vir prem-babatjies gebaseer is. Die babas in die Aktiewe Geboorte-eenheid word álmal direk ná geboorte in vel-tot-vel-kontak geplaas. Tog jammer ons kan dit nie op die pasiënte se rekenings sit nie, nè. Die hospitaal kon dalk geld daaruit gemaak het …”

      Mila sou hom tog so graag op sy plek sit, maar sy word teleurgestel. Derek Reynders glimlag bloot geamuseer voordat hy weer na Jenna draai.

      “Baie geluk met jul volmaakte dogtertjie. Ek sien haar weer môreoggend met saalrondtes.”

      Hy skud Renier se hand en knipoog astrant vir Mila.

      “Dit was ’n plesier om saam met jou te werk vandag, suster Mouton. Ek hoop ons kry sommer gou weer so ’n geleentheid.”

      “Ek twyfel sterk, dokter Reynders,” glimlag sy liefies. “U onthou seker nog dat my keisersnitsyfer maar veertien persent is?”

      “Ek onthou, suster, ek onthou. Maar ek’t ’n voëltjie hoor fluit dat Swiegers jou die pos van eenheidsbestuurder aangebied het. Ek is seker ons sal in die kraamsaal heelwat van mekaar te siene kry.”

      En met daardie woorde draai hy sy rug op Mila en stap by die teater uit asof die hele hospitaal aan hom behoort.

      7

      Dit neem Mila nie lank om die nuwe gesinnetjie

Скачать книгу