Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 10

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

      “Ons moet die water so warm maak om jou baba se ontwil, Sunet. Dis die koue lug op haar vel wat ’n baba haar eerste asemteug laat neem. Om te verseker dat sy nie onder die water al inasem nie, moet ons die bad teen liggaamstemperatuur hou. Ek’s jammer dat ons jou moet laat uitklim. Maar ons wil nie hê jy moet te lank druk nie. As jy op die stoeltjie sit, is swaartekrag darem in jou guns.”

      Die verandering van posisie help dadelik en ná net vier kontraksies kroon die koppie. Mila vra Sunet om eers net asem te haal. Die naelstring is styf om die baba se nekkie en Mila moet dit versigtig oor die kop haak. Sunet werk mooi saam en Mila slaak ’n sug van verligting toe sy die fris babadogtertjie vir haar ma aangee.

      “Baie geluk, Sunet. Jy was ’n ster!” prys sy. “Leila is pragtig!”

      Tot almal se stomme verbasing stoot Sunet die bondeltjie met mening weg.

      “Ek kan haar nie nou vashou nie! Ek’s gedaan. Gee haar vir haar pa!”

      Marius staan gretig nader, sy wange nat van aandoening.

      “Sunet, ek kan haar nie nou vir Pa gee nie. Die koord is korterig en ons het dit nog nie geknip nie. Jy wou hê dit moet ophou klop voordat Marius dit sny. Só kry Leila ’n bietjie ekstra suurstof terwyl sy op haar eie leer asemhaal.” Mila hou haar stem so geduldig moontlik.

      “Nee,” stry Sunet, haar oë skielik wild en glasig. “Vat haar! Ek soek haar nie nou nie. Knip die koord en gee haar vir haar pa.”

      “Marius,” begin Mila, maar Sunet val haar in die rede. “Nie Marius nie! Jy! Knip dit net en kry hierdie kind van my lyf af.”

      Mila loer verskonend na Marius, maar klamp en knip liewer self die polsende blou naelstring. Sy draai die baba toe in ’n warm handdoek wat Lise-Marie gereed hou en gee haar vir haar pa aan. Dan draai sy na Sunet.

      “Nou goed, nou wag ons net vir die nageboorte.” Sunet se oë verstar. Sy gryp na die stukkie van die koord wat uithang en begin met mening daaraan trek.

      “Sunet, néé!” keer Mila en Lise-Marie tegelyk.

      “Dit moet nou dadelik uit,” prewel Sunet.“My vriendin het ’n helse probleem gehad oor die nageboorte vasgesit het. Dit gaan nie met my gebeur nie. Gaan hierdie ding nóú uitkry …”

      “Maar Sunet, jy kan dit nie uittrek nie! Dit sit nog vas binne!”

      Mila gryp Sunet se hand en beduie vir Lise-Marie om die ander een te kry. Dis duidelik dat hul pasiënt angsbevange is en alle rede verloor het. Mila wonder nog of sy nie maar sedasie moet spuit nie toe Lise-Marie praat.

      “Klaar te laat, Mila,” sê sy saggies.

      Met ’n skok besef Mila dat Sunet met haar geruk die naelstring morsaf gebreek het. Die plasenta sit nog binne aan haar baarmoederwand vas.

      Onmiddellik skakel hulle na krisisbeheer oor. Met haar geoefende oog takseer Mila Sunet se bloeding. Sy besluit dat dit nog nie te veel is nie en dat hulle nog ’n bietjie tyd het. Saam beweeg hulle haar na die bed, waar Mila ’n inspuiting gereed kry terwyl Lise-Marie Sunet se baarmoeder ritmies begin masseer.

      Toe Sunet die spuitnaald in Mila se hand sien, probeer sy keer.

      “Nee, asseblief! Ek haat inspuitings! Ek het ’n naaldfobie! Jy’t belowe jy sal my nie spuit nie!”

      “Nee, Sunet, ek het nie belowe nie,” stry Mila.“Ek het gesê geen naalde solank alles goed gaan nie. Alles gaan nou nie meer goed nie. Jy het jou naelstring afgeruk en jou plasenta sit binne jou lyf vas. As hierdie die enigste naald is wat jy vandag teëkom, is jy ’n gelukkige vrou. Jy moet nou saamwerk. Ek gaan alles in my vermoë doen om te keer dat jy in die operasieteater beland.”

      Sonder ’n woord lê Marius die babatjie in die wiegie langs die dubbelbed neer. Hy gaan sit op die bed langs Sunet en druk haar regterarm met mening vas. Lise-Marie volg sy voorbeeld aan die linkerkant. Binne sekondes het Mila die inspuiting in Sunet se bobeen gedruk. Sy kan maar net hoop dat die medikasie sy werk doen en dat die nageboorte vanself sal uitkom. Die héle nageboorte.

      ’n Halfuur later, toe niks nog gebeur het nie, weet Mila dat dit tyd is om verdere aksie te neem. Teësinnig skakel sy Sunet se ginekoloog tuis en verduidelik die situasie so bondig as moontlik. Sy stilswye verklap dat hy stomgeslaan is; gewoonlik is hy ’n grapjas wat vir elke geleentheid ’n kwinkslag het. Vannag waardeer Mila sy professionaliteit. Sy het nie krag vir ’n geskertsery nie.

      “Julle kan haar solank deurvat kraamsaal toe, suster Mouton. Ek sal haar daar kom sien voor die prosedure. Intussen reël ek so gou moontlik ’n teater en ’n narkotiseur. Ek sal sommer die psigiater ook bel. Ek dink dit sal wys wees as sy haar môreoggend kom sien.”

      “Dankie, dokter, dis ’n goeie plan. Sien dokter nou-nou.”

      Dokter Peet de Wit kry dit reg om binne ’n uur ’n mediese span en ’n teater gereed te kry en Mila slaak ’n sug van verligting toe haar pasiënt ingestoot word. Sunet het in die laaste uur ál meer begin bloei en haar geestestoestand het verder versleg. Die atmosfeer in die teater is gespanne, heeltemal anders as die joviale luim wat gewoonlik tydens keisersnitte heers. Die oomblik toe die narkose effek toon, draai dokter Koos Myburgh, die narkotiseur, na Mila toe, ’n diep frons tussen sy wenkbroue.

      “Verduidelik nou asseblief vir my wat vanaand hier gebeur het, suster Mouton?”

      Mila vertel hom van Sunet se psigiatriese geskiedenis, haar vorige keiser en die gebeure wat aanleiding gegee het tot die agtergeblewe plasenta. Toe sy klaar is, skud dokter Myburgh sy grys kop.

      “Neem julle nie onnodige risiko’s in daardie eenheid van jou nie, suster Mouton?”

      “Onnodige risiko’s, dokter?” Doelbewus hou Mila haar stem so kalm moontlik.

      “Hoekom nou ’n vrou wat vroeër ’n keiser gehad het, blootstel aan die gevaar van ’n normale geboorte, suster? Dis mos veiliger om weer die baba chirurgies te verlos. Die litteken op haar uterus kan immers skeur, met tragiese gevolge.”

      Terwyl Mila nog besig is om in haar stresbenewelde brein rond te tas vir die mees diplomatiese antwoord, kom Peet de Wit tot haar verdediging.

      “In verloskundige kringe word dit nie as ’n onnodige risiko beskou nie, Koos. Om die waarheid te sê, die meeste kenners beskou dit as net so veilig soos ’n herhalingskeisersnit. Die kans op uterusruptuur is maar omtrent ’n halfpersent. Mens moenie vergeet dat ’n snit ook maar risiko’s inhou nie.”

      Mila kyk dankbaar na die ginekoloog. Sy blou oë, ligter as gewoonlik onder die akwamaryn teaterkappie, laat haar skielik aan Derek dink. Sy wonder of haar buurman al rustig in die meenthuis langs hare lê en slaap. Vir ’n oomblik verstout sy haar om te wonder hoe dit sou voel om heelnag in sy arms te slaap … om wakker te word met sy lippe op hare …

      Dokter Myburgh ruk haar egter wreed terug na die werklikheid. Hy het haar nog nie klaar oor die kole gehaal nie.

      “Almiskie, Peet. Ek kan nou nie sê dat ek met jou en suster Mouton saamstem hieroor nie, maar ek kan darem jul punt verstaan. Wat ek egter glad nie begryp nie, suster Mouton, is wat op aarde u laat dink het dat so ’n onstabiele pasiënt ’n goeie kandidaat vir die geboorte-eenheid sou wees. Die reël is tog dat net laerisiko-gevalle daar mag kraam, dan nie?”

      “Versigtig,

Скачать книгу