Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 6

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

kan Mila se geluk nie vir ewig hou nie.Vrydagmiddag loop sy en Melissa Derek op die trappies raak. Hy is klaarblyklik op pad terug van die kompleks se swembad af. Die krul in sy nat hare is meer gedefinieer as gewoonlik en ’n handdoek is argeloos om sy breë skouers gedrapeer. Spytig merk Mila op dat sy gespierde boarms en bruingebrande bolyf net so verdomp perfek soos die res van hom is.

      Sy beantwoord sy vriendelike groet koel en kalm, maar tot haar ergernis is Melissa skoon uit haar vel van vreugde om Derek te sien. Sy omhels hom soos ’n langverlore vriend en plak selfs ’n klapsoen op sy wang.

      “Oe, oom Derek,” giggel sy, “jou baard kielie!”

      Derek vryf die dogtertjie se hare deurmekaar en loer onderlangs half ongemaklik na Mila. Duidelik is hy bekommerd oor haar reaksie op Melissa se kinderlik-liefdevolle begroeting, en Mila voel van voor af soos ’n simpel heks.

      “Het jy geswem, oom Derek?” vra Melissa.

      “Ek het, meisiekind. Kan jy al swem?”

      “Jaaa, tannie Lizette van die swemlesse het my geleer! Sy laat ons ’n sterretjie in die water maak én soos ’n padda skop.”

      “Dis slim van jou!” prys Derek goedkeurend. Hy kyk na Mila. “As meer ouers so proaktief soos jy is, sal daar nie soveel onnodige tragedies in swembaddens afspeel nie.”

      “Vir seker,” stem Mila saam.“Tussen swemlesse en karstoeltjies kan soveel lewetjies gered word.”

      “Wanneer kan ek en Ouma weer vir jou kom kuier?” vra Melissa pront, ongeduldig met die grootmense se katvoetpraatjies.

      “Melissa,” keer Mila. “Die oom is besig. Hy het nie tyd om met dogtertjies te kuier nie.” Verleë kyk sy op, reguit in die blou kykers vas.

      “Dit kan sekerlik nie skade doen as sy sáám met jou ma vir my kom kuier nie, Mila?” waag Derek versigtig.

      Mila sluk. Sy kan aan geen manier dink om met haar waardigheid intak uit hierdie situasie te ontsnap nie. Stem sy in tot ’n oor-en-weer-gekuiery, erken sy dat Derek reg en sy verkeerd was, erken sy dat haar kind behoefte aan ’n manlike rolmodel het …Tog is dit duidelik dat Melissa versot op die man is, heeltemal betower deur sy sjarme. Soos dosyne ander vroue seker al deur hom betower is, dink Mila sinies.

      Dis Melissa se pleitende ogies wat Mila se hart laat verkrummel.

      “Nou goed dan. Jy en Ouma kan partykeer vir die oom gaan kuier.”

      Melissa begin op en af bons.

      “Maar nét,” waarsku Mila, “as julle net gaan wanneer julle genooi is, en dat julle dan nie te lank kuier nie. Ek wil nie hê julle moet ’n oorlas word nie!”

      “Ouma is nóóit lastig nie, Mamma,” verklaar Melissa plegtig.

      Albei grootmense bars uit van die lag. Derek het so ’n wonderlike lag dat Mila wens sy kan dit in ’n fles vang. Nie net die klank nie – hoewel dit al lieflik genoeg is – maar ook die kraaispoortjies wat so bekoorlik om sy oë plooi. Hierdie lag wil Mila in ’n bottel bêre en dit op mistroostige dae uithaal om haar op te beur … Dalk kan sy dit selfs patenteer en aan romantiese vrouesiele verkoop. Met die wins sal sy sommer nog twéé geboorte-eenhede kan bou – en entoesiastiese vroedvroue aanstel om daar te werk …

      Met intense belangstelling hou Derek Mila dop terwyl hierdie fantasieë deur haar kop flits. ’n Dromerige glimlag speel om haar lippe en verhelder haar delikate gelaatstrekke. Haar oë is sag en blink, diep bruin poele in haar fyn gesiggie. Die vingers van haar regterhand speel ingedagte met haar swart hare, steek dit kort-kort onbewustelik agter haar oor in. Sy dra haar hare in ’n korterige bob wat haar uitstekend pas. Dit lei die oog verleidelik langs haar slanke nek af tot by die kuiltjie bo haar borsbeen. Onwillekeurig wonder Derek hoe dit sou voel om daardie kuiltjie met sy vingers na te trek, om sy hand effens laer te laat gly …

      Net asof sy hom uitgevang het, is Mila eensklaps weer die ene erns. Sy vat Melissa se handjie ferm in hare en groet Derek byna kortaf. Hy voel so half afgejak toe sy haastig by die trappies afstap met klein Melissa wat sleepvoet agterna draal. ’n Onverklaarbare heimwee skop nes in sy borskas toe hy die pragtige donkerkop agterna kyk. Hy wens hy kon verstaan waarom sy soveel gemengde gevoelens in hom wakker maak. Hy wens hy kon sy vinger sit op presies wát dit is wat hy vir haar voel, hierdie begeerlike wese wat hy skaars ken, maar wat hom van hul eerste ontmoeting af snags laat rondrol …

      Vrydagnag skuins ná twee skrik Mila wakker. Sy is papnat gesweet, maar haar tande klap op mekaar van kouekoors. Haar bene pyn tot in die murg en haar kop voel asof dit gaan bars. Maar die ergste is haar keel: Dit brand só dat sy skaars kan sluk. Sy staan op en trek eers skoon pajamas aan. Die rooi satynjakkie wat sy aangehad het, is deurdrenk van die sweet. Sy strompel kaalvoet na die medisynekabinet. Sy is nie een wat sommer ’n pilletjie sluk vir enige skeet nie, maar vannag voel sy darem net te vrot. Sy drink twee pynpille en stop ’n suigtablet in haar kies om die vuur in haar keel te probeer blus. Dan kruip sy weer in die bed, waar sy onrustig halfsluimer totdat Melissa Saterdagoggend by haar in die bed klouter.

      Die hele Saterdag voel Mila ellendig. Sy kan nie onthou wanneer griep haar laas so platgetrek het nie. Sy hoop en bid net dat nie een van haar swanger pasiënte besluit om vandag te kraam nie. Sy’t skaars die krag om vir Melissa haar graanvlokkies te gee, daar is nie ’n manier dat sy sal kan werk nie. Daar is wel ’n ander vroedvrou wat vir Mila kan instaan in ’n noodgeval, maar dit is vir haar ondenkbaar om een van die ma’s met wie sy reeds ’n pad geloop het, in die steek te laat wanneer dié haar die nodigste het.

      Gelukkig is Melissa nie veeleisend nie, so Mila kan heeldag so in en uit die slaap lê en drywe. Dit is vir die vierjarige ’n heerlike vergunning om die een DVD ná die ander te mag kyk. Gewoonlik is dit nie iets wat haar ma toelaat nie. Sy kom maak Mila dus net wakker wanneer sy honger of dors is, of wanneer haar DVD omgeruil moet word. Elke keer wanneer Mila haar siek lyf uit die slaapkamer moet sleep, verwens sy die feit dat kinderflieks so kort is, maar sy is dankbaar dat sy Melissa darem nie hoef te vermaak nie. Sy oorweeg dit om haar ma te bel om die kleintjie te kom haal, maar besluit daarteen. Sy moet so dikwels vir nagtelike geboortes op Heleen se knoppie druk dat sy haar nie vandag ook nog wil verontrief nie.

      Laatmiddag begin die hoesery. Mila drink hoesstroop en skakel Melissa se ou babakamerstomer in haar slaapkamer aan, maar niks help nie. Haar hele bors trek inmekaar van pyn met elke hoes en dit voel of haar kop aan ’n duisend skerwe gaan spat.

      Gelukkig het sy bevrore macaroni-en-kaas wat sy net vir Melissa in die mikrogolf kan warm maak. Sy self dink nie eens aan kos nie, daarvoor voel sy te goor. Dit verg al haar wilskrag om vir Melissa badwater te tap en haar aandroetine te begin. Haar siek lyf soebat pateties dat Melissa nie vuil is nie, dat sy maar net hierdie één aand kan bed toe gaan sonder om te bad. Maar Mila se gesonde verstand wen die argument. Sy weet uit ervaring dat haar dogtertjie lekkerder slaap ná ’n bad. Met ’n kloppende hoofpyn buk Mila langs die dogtertjielyfie. Sy smeer seep aan haar Little Mermaid-waslap en begin haar met ritmiese hale was. Melissa gesels eenstryk deur: oor haar nuwe maatjie by die kleuterskool, oor alles wat sy vir Kersfees wil hê, oor hoe sy oom Derek gaan vra om haar te neem om te swem … Mila luister skaars. Haar kop voel so swaar dat sy wonder hoe haar nek daarin slaag om dit regop te hou. As sy nou net vir Melissatjie in die bed kan kry, kan sy self ook gaan inkruip.

      “Mamma kan regtig nie vanaand vir jou lees nie, skapie,” protesteer Mila toe Melissa oudergewoonte ’n storieboek uit haar pienk boekrak kies.

      “Ag asseblief, Mamma? Pleeeeease?”

      “Mamma

Скачать книгу