Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 7

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

aan ’n plan.

      “Mamma kan sággies lees. Mamma kan fluister. Dit sal nie Mamma se keel seermaak nie.”

      Mila gee die stryd met ’n sug gewonne. Sy’t nie die energie om met hierdie hardkoppige meisiekind te stry nie; dis makliker om maar net te lees en klaar te kry.

      “Popsie, dit beter ’n kort boekie wees.”

      Na uitgebreide onderhandelinge bereik hulle konsensus oor wat nou eintlik ’n kort boekie is. Hulle besluit op een van die stories oor Otto die hondjie. Melissa is seker al te groot vir sulke lig-en-loer-boeke, maar elke nou en dan is dit vir haar lekker om haar vroeëre gunstelinge weer te hoor. Ten minste is daar net een reël per bladsy, troos Mila haarself, en Melissa ken amper al die woorde uit haar kop uit.

      Nietemin veroorsaak die lesery nog ’n genadelose hoesbui. Mila voel asof haar hele lugweg met skuurpapier uitgevoer is.Toe Melissa se ogies uiteindelik toeval, gaan klim sy self in ’n warm bad. Miskien sal die stoom haar geïrriteerde longe streel.

      Teen middernag rol Mila nog rond. Maak nie saak hóé sy lê nie, op haar sy, op haar maag, regop gestut teen ’n hoop kussings, die ellendige hoes hou haar wakker. Sy probeer dit demp met ’n kussing voor haar mond, doodbang om Melissa te steur. Die laaste ding waarvoor sy nou kans sien, is ’n iesegrimmige kleuter wat nie weer aan die slaap kan raak nie.

      Mila probeer lees, maar skuif die boek gou eenkant. Haar kop voel te dik om te konsentreer. Sy sluk ’n paar keer hoesgoed, sommer direk uit die bottel. Maar sonder enige verligting, en haar ribbes is al so seer gehoes.

      Moedeloos met haar eie slapeloosheid en geblaf gaan sitlê Mila eindelik op die rusbank voor die televisie. Sy’s net besig om lusteloos deur die kanale te snuffel toe daar ’n baie sagte klop aan die voordeur is. Mila wip van die skrik. Sy spring op en trek haar sagte japon stywer om haar skouers. Behoedsaam loop sy voordeur toe en kyk deur die loergaatjie.

      Al wéér die lastige hunk van langsaan! Sou hy dalk kom kla oor haar televisie hierdie tyd van die nag aan is? Sekerlik nie, die klank is skaars hoorbaar. Dis natuurlik haar hoesery wat hom uit die slaap hou. Maar wat is sy miskien veronderstel om daaraan te doen? Dis nie asof sy daarvan hóú om so te hoes nie!

      “Naand, Derek,” groet sy koel.

      Selfs in die sagte lig in die deuropening kan sy sien dat die tergduiweltjies in sy blou kykers nog nie slaap nie.

      “Eintlik is dit al môre, Mila,” help hy haar galant reg. “Môre dan. En waarmee kan ek jou vanmôre help?” Mila kan nie help om van voor af te besef hoe onweerstaanbaar sy glimlag is nie.

      “Vanmôre is dit ek wat jou kom help, Mila. Ek hoor jy’t ’n nare hoes.”

      “Ja, ek het griep. Jammer dat ek jou met my gehoes steur, maar daar’s nie veel wat ek daaraan kan doen nie,” maak Mila stywerig verskoning. Sy waag dit om weer direk in sy oë te kyk en die deernisvolle uitdrukking daarin ontwapen haar heeltemal.

      “Natuurlik is daar niks wat jy daaromtrent kan doen nie,” verseker Derek haar.“Maar ek het iets wat dalk kan help.”

      “Ek hét al hoesstroop gedrink,” keer Mila. “Meer as die aanbevole dosis! Dit het hoegenaamd geen verskil gemaak nie.”

      “Dis nie nog hoesstroop nie. Dis ’n wonderlike brousel wat my ma altyd gemaak het. Ek dink jy gaan aangenaam verras wees!”

      Nou eers merk Mila op dat Derek ’n beker vashou. Dit lyk omtrent kwartvol met ’n amberkleurige vloeistof.

      “Lyk interessant.Wat is dit?”

      “’n Boereraat,” antwoord hy. Hy steek sy hand uit en sit dit op Mila se skouer. Sy kyk half verbaas af daarna. Dit voel asof sy tere aanraking ’n gat dwarsdeur die materiaal van haar japon brand.

      “Dis koud buite, Mila,” merk hy besorg op. “Jy moenie so in die buitelug staan nie. Maak toe die deur, dan vertel ek jou gou van die moetie.”

      Mila tree woordeloos terug sodat hy kan binnekom. Hy volg haar na die gesellige kombuisie.

      “Kersiehout?” vra hy en beduie na die kombuiskaste.

      “Jip,” bevestig Mila met ’n tikkie trots. Dan verwens sy haarself dat sy die aantreklike blikskottel nie liewer sitkamer toe geneem het nie. Haar kombuisie is so klein dat hulle amper bo-op mekaar staan. Sy’s bang hy hoor hoe haar hart soos ’n wegholperd galop. Natuurlik die kafeïen in die hoesmengsel wat haar hartkloppings gee, besluit sy.

      Derek hou die beker na haar toe uit. Sy loer skepties daarna en hy lag.

      “Mens sou sweer jy’s bang ek gaan jou vergiftig, Mila,” terg hy.

      “Wie sê jy wil nie dalk nie? Dit moet vrek irriterend wees om heelnag wakker te lê van jou buurvrou se gehoes.”

      “Ek sou aangebied het om ’n slukkie daarvan te neem om jou gerus te stel, maar ongelukkig smaak dit so sleg dat ek dit net in noodgevalle drink.”

      Die tergende glimlag speel steeds om sy mondhoeke. Mila wonder of sy al ooit sulke sensuele lippe gesien het. Sy bolip is byna net so vol soos sy onderlip, ’n perfek gevormde kupidoboog. Mila voel vreemd lus om die kontoere met haar vingerpunte na te trek. Sy wonder hoe dit sou voel om die kontras tussen sy blink swart hare en sy growwe stoppelbaard met haar hande te verken …

      “Is jy dapper genoeg om dit te drink?” vra Derek met ’n uitdrukking wat Mila laat voel asof hy elke verbode gedagte kon lees.

      “Sê eers wat daarin is.”

      “Heuning, suurlemoensap, gemmer en ’n vrygewige skeut brandewyn. O, en my geheime bestanddeel! ’n Verbetering op my ma se resep. As jy mooi vra, sal ek dalk die geheim met jou deel.”

      “Kom ons kyk of ek kan proe wat dit is,” glimlag Mila.

      “Aa, ’n bok vir sports! Ek moet jou net waarsku dat dit skop het.”

      “Meer skop as die brandewyn?”

      Hy lag. “Kom ons noem dit ’n ander soort skop.”

      Mila trek haar asem diep in en neem ’n versigtige teugie van die vloeistof. Derek se oë verlaat haar gesig nie ’n oomblik nie.

      “Sjoe, dit brand!” protesteer sy ná die eerste slukkie. “Ek voel of ek vuur sal kan blaas! Is jou geheime bestanddeel dalk Tabasco?”

      “Ek’s beïndruk,” glimlag Derek, maar keer met sy hand toe hy Mila se triomfantelike gesigsuitdrukking sien. “Amper maar nog nie stamper nie, Mila! Wil jy nog ’n raaiskoot hê?”

      “Ag, sê my maar, toe,” vra Mila.

      “Doodseker jy wil nie weer probeer nie?”

      “Doodseker!” Mila sluk vinnig, dapper, die res van die drankie weg. Die suurlemoensap laat haar kiewe saamtrek en die kombinasie van die brandewyn en Derek se geheime bestanddeel brand soos vloeibare vlamme.

      “Rooipeper. As jy mooi kyk, sal jy die rooi spikkeltjies sien.”

      Mila trek haar oë op skrefies. Sowaar, onderin die beker is piepklein deeltjies peper in die effense heuningdroesem

Скачать книгу