Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 5

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

se ontrouheid het haar verpletter. Om die een of ander onverstaanbare rede voel sy dat sy daarvoor verantwoordelik was. Dat die skurk nie groener weivelde sou gaan soek het as sy vir hom ’n beter vrou was nie, as sy meer dikwels tuis was en huisvrou gespeel het. Sy’t seergekry en nou glo sy dat geen regdenkende man ’n vrou met ’n veeleisende praktyk – en ’n ander man se kind op die koop toe – sal wil hê nie.”

      “Hmmm,” het Derek gepeins. “Meeste vroue vandag het tog hul eie beroepe? Waarom glo sy dan dat hare nie versoenbaar is met ’n gesinslewe nie?”

      “Soos Mila dit stel,” het Heleen gelag, “babas word gebore wanneer hulle gemaak is: snags, oor naweke en op vakansiedae! Mila kan nooit regtig iets beplan nie. Haar hele lewe moet op ys gesit word die oomblik dat ’n pasiënt in kraam gaan.”

      Derek het simpatiek geglimlag.

      “Jou dogter is heeltemal reg, Heleen. Babas kom nie in kantoorure nie! Ek’t voorwaar begrip vir die chaos wat so ’n onvoorspelbare bestaan in verhoudings kan saai. Dis met my werk ook so en mens raak dit nooit heeltemal gewoond nie. Dit bly ’n bron van frustrasie.”

      Derek word uit sy koffiedrink-mymering geruk toe die wind ’n sitkamervenster toeklap. Lyk of hier ’n storm aankom, dink hy toe hy die kombuisvenster ook op knip trek. Swaar wolke kom uit die suidweste aangerol. Sy aandag word getrek deur die wapperende wasgoed in sy buurvrou se tuintjie. Hy weet sy is nie daar nie, hy het haar en Melissa vroeër hoor ry. Gretig om die vrede met sy vurige buurvrou te herstel, stap Derek met sy wasgoedmandjie buitentoe voordat die eerste vet druppels aarde toe plof.

      Mila moet teenoor haarself erken dat die voorgeboorteklas nou ’n hoogtepunt in haar week is. Die eerste paar kere dat sy moes klas gee, was haar senuwees aan flarde. Dit was ’n marteling om voor ’n klomp wildvreemdes te praat – en dan nog oor sensitiewe onderwerpe soos seks, swangerskap en geboorte! Tot haar verbasing het sy nie net spoedig gewoond geraak aan hierdie deel van haar werk nie, maar geniet sy dit nou terdeë. Dis uiters vervullend om ’n gehoor vol verwagtende paartjies te hê wat aan haar lippe hang en elke brokkie inligting wat sy opdis, toegewyd in hul notaboekies neerskryf.

      Vanaand is die vyfde klas in die reeks: die lesing oor borsvoeding. Dis Mila se gunstelingonderwerp, naas die praktiese sessie oor natuurlike geboorte. Omdat sy versigtig moet wees om die ouers tydens hierdie klas nie onder die inligting te begrawe nie, skop Mila altyd met ’n ysbreker af. Elke paartjie moet ’n voorwerp uit ’n mandjie haal en dan raai watter voordeel van borsvoeding hul voorwerp simboliseer. ’n Monopoly-noot simboliseer byvoorbeeld die geld wat borsvoeding spaar, en ’n pakkie snesies die beskerming wat dit teen allergieë bied. Die groepe geniet hierdie aktiwiteit altyd. Teen hierdie tyd ken almal mekaar en heers daar ’n gemoedelike luim.

      Dis so ’n prettige klas dat die tyd vlieg. Almal skater toe Mila die storie vertel van die eerste keer wat sy met haar nuwe baba gaan inkopies doen het: “Soos elke nuwe mamma was ek doodbang dat my borste in die openbaar sou lek. Net om dubbel seker te maak, het ek sommer twee borsdoekies aan elke kant ingestop. Dit het gevoel of my ergste nagmerrie waar word toe ’n ou tannie in die supermark na my toe kom en sê: ‘Verskoon my, maar jou melk lek.’ Ek het gewens die aarde sluk my in toe ek sien dat daar sommer so ’n streep melk op die vloer lê.”

      Simpatieke en geskokte uitroepe klink uit die gehoor voor Mila op. ’n Paar vroue snak na hul asems. Sy bly ’n oomblik stil vir dramatiese effek.

      “Natuurlik het my hande onwillekeurig na my borste gevlieg. Die ou tannie het my vreemd aangekyk. Toe het sy my ma met die baba gesien en twee en twee bymekaargesit. ‘Nie daardie melk nie, skat,’ het sy gesê, ‘die tweeliter in jou trollie!’”

      Toe Mila vir die groep ’n kort DVD wys, besef sy dat dit buite begin reën het. Sy weet ’n mens behoort dankbaar te wees oor reën, en sy ís bly oor die lafenis, maar sy haat dit om snags in nat weer rond te ry. Wilgeklowers is nie gewoond daaraan om op gladde paaie te bestuur nie en ry dikwels heeltemal te vinnig. Erger nog: Al haar en Melissa se wasgoed hang buite op die draad!

      Halftien hardloop ’n kletsnat Mila die trappies voor haar meenthuis op. Natuurlik was haar sambreel nie op sy gewone plek in die motor nie, daarvoor het Melissatjie gesorg! Sy het dit seker weer vir die een of ander speletjie “nodig gehad”, die stouterd! Skuldig en halfverlangend wonder Mila of haar dogtertjie al slaap. Woensdagaande het hulle ’n vaste reëling dat Melissa by haar ouma oorslaap omdat Mila se klas so laat eers klaarmaak. Tydens geboortes kom pas Heleen die kleintjie sommer by Mila se huis op, veral as Melissa reeds slaap wanneer Mila uitgeroep word. Hoewel Mila haar woelwater vanaand mis, is dit tog lekker om ’n bietjie op haar eie asem te skep. Sy het voorwaar ’n uitputtende vier-en-twintig uur agter die rug, en sien uit na ’n bad en ’n gesteelde tydjie met haar storieboek voor slaaptyd.

      Gelukkig het Mila nog nie haar nat klere begin afskil toe Derek die tweede keer daardie dag haar voordeurklokkie lui nie. Hierdie keer wéét sy sommer wie op so ’n ongoddelike uur by haar kom aanklop. Sy kan nie gló die man kan die saak nie net uitlos nie! Vat hy dan nie nee vir ’n antwoord nie? Nog voordat sy kan oopmaak, is Mila klaar die hoenders in.

      Daar is egter geen teken van die lastige man toe die deur oopswaai nie.Trouens, daar is geen teken van enigiemand nie. Onder die afdakkie voor haar deur staan ’n wasgoedmandjie met haar en Melissa se klere: kurkdroog en netjies opgevou! Sprakeloos skud sy haar kop. Vir wat moes Derek die goed nou gaan staan en afhaal het? Dit sou beslis nie die eerste keer wees dat die spulletjie natreën nie. Sy wil wragtig nie in die skuld by hom wees nie, veral nie ná hul woordewisseling nie. Sy bloos effens toe sy besef dat hy haar fyn ondergoedjies met daardie vat-aan-my hande van hom opgevou het.

      Suur raap sy die mandjie op en storm binnetoe. Sy voel deurmekaar, skuldig en skaamkwaad. Natuurlik besef sy dat sy vanoggend sy vriendelike aanbod heeltemal uit verband uit geruk het. En om hom van pedofilie te beskuldig was werklikwaar gemeen. Maar deksels, sy verpes sulke aantreklike mans wat haar in ’n stamelende skaap verander! Sulke mans … soos Stefan. En Derek hét geïnsinueer dat haar kind ongelukkig is, iets wat géén ma graag wil hoor nie, veral nie uit die mond van ’n bemoeisieke vreemdeling nie. Al is die kuiltjie in daardie vreemdeling se ken ook hoe bekoorlik … Nou moet die vervlakste man haar wraggies nog meer soos ’n feeks laat voel met sy vredeoffer. Sy het hom nie opgesom as iemand wat graag die minste is nie. Buitendien, watter uitgegroeide man is so kinderagtig om toktokkie te speel soos ’n skoolkind! Pleks hy die mandjie self vir haar kom gee het. Dan kon sy ten minste sien of sy haar vanoggend verbeel het en of hy regtig so asemrowend is …

      Vererg klik Mila haar tong vir haar eie stuitigheid. Sy keer die skoon wasgoed driftig op die eetkamertafel uit. Heel laaste val twee sjokolades en ’n nota in netjiese lopende skrif uit.

      Mila

      Die Sweetie Pie is vir Melissa en die Bar-One vir jou. Hoop jou “25-hour day” eindig rustiger as wat dit begin het! Jammer dat ons buurmanskap op ’n verkeerde noot afgeskop het. Kan ons voor begin?

      Soet drome

      Derek

      3

      Hoewel Woensdagaand se reënbui die wêreld afgekoel het, is die verligting van korte duur. Donderdagoggend breek die dag helder oor Wilgekloof en is die versengende vroegsomer met mening terug. Ten spyte van die hitte hou Mila haar voordeur styf toe om ’n ontmoeting met haar buurman te vermy. Tot haar verligting kry sy maar min van hom te siene, al gun sy haarself so nou en dan ’n skelm kykie deur haar kamervenster wanneer sy die voordeur langsaan hoor oopgaan. Sy wasgoedmandjie sit sy Donderdagoggend op sy voorstoep terug, eers toe sy doodseker is dat hy reeds gery het. Binne-in is ’n roomysbak vol anysbeskuit. Nie dat so ’n arrogante man sulke smullekker tuisgebakte beskuit

Скачать книгу