Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 9

Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

u hoofsaaklik aangestel omdat u ook ’n MBA het. Die kombinasie van geneeskunde en besigheidsbestuur is skaars, soos u weet, en ons vertrou dat u vir die hospitaal goud werd gaan wees.”

      “In daardie geval beveel ek ten sterkste aan dat u my voorstelle volg. Ek was vir ’n oomblik bekommerd dat ek u verkeerd verstaan het en eintlik hier is as bedryfsielkundige wat u hospitaalpersoneel gelukkig moet hou.”

      Leon Swiegers lag gemoedelik. Hy is beïndruk met die selfversekerde manier waarop Derek Reynders leiding neem en hoe hy ’n potensiële konfliksituasie so gemaklik met humor ontlont.

      Ook Derek glimlag voordat hy voortgaan.“Maar aangesien ek my misgis het, sal ek my liefs nie oor ’n toontrappery verknies nie en eerder fokus op wat vir die hospitaal as geheel die beste is. Hierdie afdelings is dalk nie in die rooi nie, maar enige belegger sien ’n onderneming wat bloot gelyk breek as ’n meulsteen om die nek. Die hulpbronne wat tans hierdie afdelings aan die gang hou, kan veel beter aangewend word om nuwe mediese horisonne te verken.”

      “Ek is nuuskierig om te hoor wat u voorstelle vir so ’n projek is, dokter Reynders. U het sekerlik al iets in gedagte?”

      “Inderdaad. Met die goedkeuring van die raad beoog ek om ’n pediatriese trauma-eenheid hier by Protea te open. Te veel kinders sterf onnodig omdat hulle in ’n noodgeval nie dadelik deur ’n pediater behandel word nie. Algemene praktisyns het eenvoudig nie die gespesialiseerde kennis wat nodig is om ernstige pediatriese traumas te behandel nie. Dis nie goed genoeg om ’n pediater op roep te hê nie; enkele minute kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

      Derek se entoesiasme is aansteeklik. Leon Swiegers leun geïnteresseerd vorentoe om die dokument waarop die jonger man met sy vingers tik, beter te kan sien. Derek gee die lêer vir sy nuwe werkgewer aan sonder om sy geesdriftige verduideliking te onderbreek.

      “Die trauma-eenheid wat ek beplan, sal vanaf opname vir kinderpasiënte ’n kontinuum van gespesialiseerde sorg bied. Ons eerste punt van kontak met die pasiënt is by die ongelukstoneel self. Die hospitaal moet ’n ambulans- en helikopterdiens bedryf wat deur pediatriese paramedici beman word. Aan hierdie kant sal dokters en verpleegsters – almal spesialiste in pediatrie – reg staan met die nuutste en beste mediese toerusting. Vanselfsprekend sal die eenheid die land se top pediatriese chirurge sowel as puik pediatriese intensiewesorg insluit. Ek voorsien dat noodgevalle vanuit die hele streek per helikopter hierheen sal kom, en dat hospitale in ander provinsies ons uiteindelik sal konsulteer in die proses om soortgelyke eenhede daar op die been te bring.”

      Leon Swiegers glimlag breed. Hy staan op en steek sy hand hartlik na Derek uit. Onverbloemde goedkeuring en bewondering staan oor sy hele gesig geskrywe.

      “Dít, dokter Reynders, is die beste voorstel wat ek in jare gehoor het! U visie en briljante vooruitsigte vir PMK is voorwaar indrukwekkend.Welkom hier by ons! Ek het geen twyfel dat u ’n onmisbare lid van die span gaan wees nie.”

      Toe Mila daardie aand voor die geboorte-eenheid stilhou, wag Lise-Marie haar grootoog by die deur in.

      “En nou?” lag Mila. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het! Moenie sê my gunsteling-doula het haar moses teëgekom in ’n klein vroutjie soos Sunet nie?”

      “Klein botteltjies, groot gif,” kap Lise-Marie terug. “Jy’t geen idee hoe erg die vorige paar uur was nie, Mila! Weet jy hoe sy hier gekom het?”

      “Ai, Lise-Marie, het jou ma nooit hierdie gesprek met jou gehad nie?” spot Mila. “Sy is eintlik die een wat vir jou moes verduidelik het presies hoe en hoekom vroue by die kraameenheid uitkom!”

      “Toemaar, jy sal nie lag sodra jy binne was nie,” hou Lise-Marie ernstig vol. “Jy weet ek het al gesê ek dink bipolêre versteuring word oordiagnoseer? Wel, ek dink die diagnose was in die kol in Sunet se geval. Sy’s nié lekker nie, Mila.”

      Mila respekteer haar kollega se opinie – en veral haar instink – wanneer dit by hul pasiënte se gemoedstoestand kom. Sy weet dat Lise-Marie ’n kleintjie dood het aan psigiatriese etikette wat soms sonder behoorlike evaluering op mense afgedwing word. Die feit dat sy nou self gereed is om een om Sunet se nek te hang, gee Mila ’n goeie aanduiding van hoe ernstig die situasie moet wees.

      “Wat gaan aan, Lise-Marie?”

      “Ek is bekommerd. Daar is iets wilds omtrent haar vandag. Sy is agitated. Sy wou nie eens in die kar tot hier ry nie. Gesê dit laat haar te ingehok voel. Sy het die hele drie kilometer hierheen gestap!”

      Mila se mond val onwillekeurig oop.“Waaaat?” giggel sy ongelowig.

      “Ek sweer!” Lise-Marie rol haar oë dramaties. “Ek moes teen wil en dank maar saamstap, en haar arme man het soos ’n swaap agterna gery. En haar kontraksies is sterk en gereeld! Elke vier, vyf minute moes ons eers gaan staan dat sy deur die pyn asemhaal. Natuurlik moes die hele drama in spitsverkeer afspeel: ’n Paar nuuskierige agies het omtrent hul karre omgegooi! Drié Samaritane het stilgehou om te vra of hulle ons hospitaal toe kan neem, en elke keer moes ek verduidelik dat Sunet met alle geweld wóú loop.”

      Mila kan nie help om te lag nie. Sy kan haar net indink hoe vreemd die optog vir verbygangers moes lyk. Selfs die kalm Lise-Marie se verontwaardigde gesigsuitdrukking is skreeusnaaks.

      Ten spyte van haar ontsteltenis gee Lise-Marie ook ’n flou glimlaggie.

      “Nou loop sy op en af in die kraamkamer soos ’n briesende leeu in ’n hok … Ek hoop sy is sterk genoeg hiervoor, Mila. Nie haar lyf nie, haar kop.”

      “Het jy haar al in die bad laat klim? Dit sal haar dalk kalmeer?”

      “Ag, Mila, sy wou nie eens twee minute in die water bly nie. Gesê dit maak haar claustrophobic en sy moet uit. Sy’t die stomme Marius se hand amper afgebyt ook tydens ’n besonder sterk kontraksie.Toe prop ons maar ’n waslap in haar mond. G’n wonder die arme man is so ’n jandooi nie. Hy ly seker aan chronic exhaustion met dáái vrou!”

      Mila giggel. “Kan jy jou voorstel hoe dit in hulle huis gaan tydens volmaan? Hierdie geboorte is ’n hoofstuk vir jou memoires, Lisetjie, troos jou daaraan! Maar dink jy ons moet haar liewer kraamsaal toe vat? En miskien haar dokter laat kom? Dalk wil hy haar psigiater bel.”

      “Kom kyk jy liewer eers self na haar, Mila.”

      “Maar wat dink jy, Lise-Marie? Jy was nou heelmiddag by haar. Ek vertrou jou opinie.Wat sê jou gut?”

      “Persoonlik dink ek sy gaan nog meer ingehok en benoud voel in die kraamsaal. Hier by ons kan sy darem nog rondloop. Anyway dink ek sy is al ver. Kom ondersoek haar maar en dan besluit ons. Sy wil só graag normaal geboorte gee, Mila. Sy wil regtig nie weer ’n keiser hê nie.”

      Mila is verstom toe sy Sunet ondersoek en vind dat sy reeds amper vol ontsluit is. Dis moeilik om te glo dat die vrou so naby aan die geboorte self al die pad hospitaal toe gestap het! Maar dalk is dit juis hierdie aktiwiteit wat haar so vinnig laat vorder het. ’n Eerste kraam is gewoonlik ’n uitgerekte proses, en ’n VBAC is maar eintlik nes ’n eerste kraam.

      Sunet besluit dat sy tog vir die geboorte self in die bad wil klim.

      “Ek het gelees dat watergeboorte vir die baba ’n mooi rustige oorgang van die baarmoeder na die buitewêreld verseker,” rammel sy af. Nadat sy ’n rukkie in die bad gedruk het, laat Mila haar egter uitklim en op ’n kraamstoeltjie sit.

      “Daar is party vroue vir wie die water net nie werk

Скачать книгу