Robbie se broer se roer en ander jagstories. Pienkes du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Robbie se broer se roer en ander jagstories - Pienkes du Plessis страница 4
En ouma Lieskrap blêr weer en laat vat. Almal agter haar aan. Sy gaan wragtag nie dat bloedfamilie haar vang nie, blêr sy snorkend oor haar blad. Al is die bloedfamilie nou ook Grootoom Brombek wat skielik vir hom ’n Blafding aangeskaf het, snork sy ook nog by.
En hulle hol. Nie bietjie vinnig nie.
Ek net so vinnig agterna. Staan, julle, staan! snork ek vir hulle. Maar hulle hardloop net, spring net, verder en verder weg. Duskant die lyndraad maak ouma Lieskrap ’n wye draai en kies die pad terug na die veld toe waar ons die Tweebene vroeër in hulle ryding gekry het.
Ek agterna. Maak ook ’n wye draai by die lyndraad. Oor die skaalklippe, verby die soetdorings tot in die Tweebene se rypad. En toe is hulle ryding skielik hier tussen my en die trop wat doer ver op die vlak hardloop dat die rooi stowwe staan.
Tweebeen se ryding steek viervoet vas.
En ek steek viervoet vas.
En toe gebeur dit. Die Blafding, wat nog heeltyd half agter en onder my sleep-hang, gly vorentoe, oor my skouerblad en kop, los van my af. Dit tref die rypad en seil oor die grond.
Dè, daar’s julle dêm Blafding!
Toe maak ek my draai vlak voor die Tweebene se ryding, so ’n lang wye draai na die trop se kant toe. Nes in my knypkoptyd van lank tevore gee ek ’n paar pronkspringe, drie van hulle agter mekaar, voor ek my kop laat sak en die bossiepad vat.
Wat wil ek ook met ’n Tweebeen se Blafding maak!
Deurmekaar!
Vat nou ’n kleinerige rol doringdraad en kruis dit met ’n groterige meerkat. Dan kry jy ’n dierespesie soos Deurmekaar!, die een wat ons dogter een heerlike herfsdag as geskenk by ons kom aflaai het. Laat ek dan ook nou dadelik bysê dit was die einde van enige heerlikheid op daardie besondere herfsdag nadat ons met trae hande en harte die deurmekaar bondeltjie steekhaar in ontvangs geneem het. Maar so waar as wragtag, dit sou neuk om ’n leliker gediertetjie onder oë te gekry het. Klein en harig van lyf, maar so rats soos enige meerkat kan droom om te wees.
Ons gas uit Switserland wat saam met ons op die heerlike dag op die terras heerlike melktert en koffie sit en geniet het – Ingomar, het ons vir hom gesê – het hom aan die dierasietjie verstom en ná diepe nadenke met ’n naam vorendag gekom. “Durch-ein-ander!” kry hy dit uit. Of in Afrikaans overgeset zijnde: Deurmekaar! Synde altyd ook met ’n uitroepteken, want ek kan my nie herinner aan ’n geleentheid wat mens nie die klein brak met ’n sterk stem aangespreek het nie.
Miskien is dit nou ’n geskikte tyd om kortliks ’n opsomming te gee van hoe Deurmekaar! op ’n tipiese dag sy tyd verwyl. Ek praat nou nie van die eerste dag toe hy met mening en entoesiasme die koffietafeltjie met die heerlike melktert daarop onderstebo gespring en in die melktert gaan sit het nie. Ook nie toe hy oomblikke later met spoed en ywer deur die oop sitkamerdeur gehardloop en sy bollie op die Persiese mat gaan los het nie. Dit maar net terloops. Kom ons neem liewer sy gewone leefdag in aanskouing.
Heel eerste sal hy vroegmôre die rustige wolfhond aan die stert beetkry en verwoed heen en weer skud dat die hare waai, dan die waterbak omstamp voordat hy deur die tuin hardloop en met modderpote teen die huishulp opspring en haar silwerskoon uniform só met modder betakel dat sy hom met die verestoffer by die kombuisdeur uitboender.
Die besproeiingstelsel is sy volgende aanslag. Dis nou nog een van baie dinge wat Deurmekaar! nie kon verdra nie, en dis ’n pop-up of ’n tuinslang wat water spuit. Dis irritasies wat hy met mening en aggressie die hoof bied. Hy sal byt en ruk en pluk en in sirkels blaf en byt tot al wat pop-up is die gees gee en met stuiptrekkings hulle laaste waterborrel op die gras uitblaas. Selfs dan is hy nie tevrede nie en sal hy, papnat en met modder deurweek (hou in gedagte dat hy teen dié tyd al verskeie draaie in die nuwe saadbeddings gegooi het), ’n flenters pop-up op ’n rusbank in die sitkamer gaan deponeer.
Deurmekaar! se spysverteringstelsel het teen optimale effektiwiteit sy liggaamsfunksies hanteer. Inderdaad bejeën hy sy toiletsake met groot erns en toewyding en hou hy dit deurentyd op vaste roetine in stand. Vanselfsprekend dan ook nie buite in die tuin nie. Inteendeel, dis vir hom ’n beginselsaak om van buite af ’n oop deur te soek en met spoed ’n sit- of slaapkamer te bestorm. Aanvanklik net plassies en bollies, toe lateraan plasse en bolle. En toe nóg later talle beenlig-aksies teen rusbanke en gordyne.
Eers daarna sal hy weer op die rusbank spring en die pop-up as oorlogsbuit herwin. Dan terug na die nuwe saadbedding om dit te begrawe en op ’n mooi anderdag weer uit te grawe, saam met die nuwe plantjies.
Tussendeur verduur hy met gelatenheid, selfs met uitbundige genot, hoe sy naam deur ’n iedere op die werf ydellik uitgeskreeu word. Deurmekaar! Deurmekaar! klink die koor van stemme as hy dan sy ore plattrek en verder hardloop om hom op sy volgende aktiwiteit te kan toespits: die kat in die boom opjaag; by die voorhek agter ’n kar aan uithardloop en ’n fietsryer aan die voete probeer byt. Kortom, enigiets wat lyk of dit bytbaar, jaagbaar of blafbaar is, of net naastenby so ’n moontlikheid bied.
Die Kreepy Krauly in die swembad is so ’n moontlikheid. Dis nou ’n stuk tuintoerusting wat Deurmekaar! met wrewel bejeën het. Gewoonlik heeltemal buite sy bereik waar dit op die swembadbodem rondkruip, en hy woedend en blaffend maar magteloos van die kant af skynaanvalle daarop uitvoer. Maar soos Piet die tuinman op sy weeklikse besoek die Kreepy uithaal en probeer skoonmaak, so val Deurmekaar! dit aan, byt en trek en blaf. Totdat Piet uit radeloosheid die hond gryp en in die agterplaas gaan toesluit.
Wat ’n fout is. Want in die agterplaas is daar die wasgoeddraad met dosyne stukke wasgoed wat wapper in die wind. Natuurlik het die wasgoed dus dadelik Deurmekaar! se volle aandag, veral die lakens. Lekker laag hang hulle, spierwit en wapperend in die ligte wind. Mens moet dit tog hier duidelik stel: wapperende wit lakens was vir Deurmekaar! ’n uitdaging sonder gelyke. Nie eers die kat wat hy in die boom opjaag of die werkers met die vullisdromme in die straat kon enigsins die genot verskaf wat ’n wapperende wit laken verskaf nie. Veral ook as hy met modderbesmeerde bek en lyf die laken van die draad kan afkry en dan met hernude ywer weer die volgende wit wapperende laken kan bykom.
Maar toe hy op ’n gewraakte dag een van die modderbesmeerde lakens nog met sy skerp tande ook nog bykom en ’n paar repe daaruit skeur, was dit die einde van sy verblyf in die stad. Johannesburg is nie ’n plek vir Deurmekaar! nie. Plaas toe met hom! was ons algemene uitspraak.
Dis toe ook net die volgende naweek dat ons hom op die plaas in Thabazimbi gaan aflaai. Geen probleem nie, sê Gerrit Louw, die plaasbestuurder, van nou af kan die hond na hartelus op die plaas rondspeel en niemand kwaad aandoen nie. ’n Wildplaas met ’n lekker gewone werf is net die plek vir hom. Hy sal gou maats maak met die ander plaashonde en sy pad vind.
Gerrit Louw was reg. Deurmekaar! hét toe baie gou sy pad gevind. Deur die koeistal, die melkkamer, die hoenderhok met die lêhenne, die duiwehok, die poue se stellasies en die eendedam. Tot die drie mak hasies in hulle hok langs die waenhuis. Drie mak hasies wat toe ’n dag later twéé mak hasies word, en nog ’n dag later één verskrikte hasie.
’n Nuwe wêreld het vir Deurmekaar! oopgegaan.
Hy kon moeilik besluit wat die meeste opwinding bied: die poue, die eende, die lêhenne of Jan Danster wat die koeie melk en die spene so tussen sy vingers vasknyp dat die melk sulke strale in die dopemmer spuit. Net daar en dan besluit Deurmekaar! dat as Jan Danster kan koeie melk, kan hy ook. Buitendien is daar nog twee spene vry aan die ander kant van die koei en hoekom kan hy nie maar een van die spene vasbyt en sáám melk nie?
Wat Deurmekaar! nie geweet het nie, is dat