By fakkellig. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу By fakkellig - Karel Schoeman страница 2

By fakkellig - Karel  Schoeman

Скачать книгу

ek jou nie ’n koppie tee aanbied nie, meneer O Ruairc?” vra sy, en staan op om die klokkie te lui vir die bediendes, maar toe sy aan die belkoord trek, breek dit af in haar hand. Arthur bars uit van die lag.

      “Nie tee, nie tee nie!” roep hy uit. “Whiskey, whiskey vir jou, nie waar nie, O Ruairc?”, en hy skreeu deur die portaal vir Toby. “Toby! Toby, jou ou duiwel, waar bêre julle deesdae die whiskey? Bring vir ons ’n bottel, man: dis nie meer net meneer David wat hier in die huis is nie!”

      Hulle het almal aan die lag gegaan, Arthur voor die vuur en David by die venster, en O Ruairc met die glimlag op sy lippe en sy hoed nog teen sy bors vasgeklem, en Alice met die gebroke belkoord in haar hand en haar oë wat van die een na die ander kyk, nog nie seker hoe sy alles moet verwerk nie.

      “Dis Ierland waar jy nou is, my liefste, nie meer Engeland nie!” roep Arthur haar toe. “Hier in Ierland drink ons whiskey net ná ontbyt, vir ontbyt, en die belkoorde breek altyd.”

      Hulle lag en lag sonder om self te weet waarom, maar daardie dae ná Alice se aankoms is baie vrolik.

      “Dis goed om weer jong stemme in die huis te hoor, sir Arthur,” sê ou Toby terwyl hy hulle bedien aan tafel en van stoel na stoel loop met die wyn. “Dis weer nes die ou dae, toe jy en meneer David nog seuns was, en daarvóór nog toe jou vader klein was, ses kinders in die huis. Maar een van die dae weer, hoop ons …” Hy bly staan tussen Arthur en Alice in, en mymer voort met die wynfles in sy hand. “Dit lyk net gister, lady Alice, dat ek lady Harriet hier sien aankom het, en ek self nog ’n jong man. In die winter was dit, en die mense het vreugdevure by die hek aangesteek om hulle te verwelkom. Die huis was toe nog maar half klaar, maar dit was ’n blye dag. Nege-en-veertig jaar gelede, sir Arthur, nege-en-veertig jaar.”

      Alice het geluister na die ou man se praatjies, al het Arthur skaars opgekyk. Vir haar was alles nuut, elke oomblik in die nuwe huis, die nuwe land ’n avontuur. David het na haar gekyk oor die kraffies heen. Sy was ’n blote skooldogter, nouliks bevry van klaskamer en goewernante, gereed om alles interessant en opwindend te vind. Haar uitgelatenheid het iets in hom opgewek – selde in die jare wat hy hier alleen deurgebring het, was hy so vrolik gewees soos hy nou meteens geword het.

      Sy wou die landgoed sien, die hele omgewing, en Arthur het David gevra om haar uit te neem in die sjees, want hy het die buurt immers so goed geken: hy self sou hulle te perd vergesel. Die lug was helder agter die skuimende wolke, en ’n groen waas het die takke bedek al langs die oprylaan, maar die koue was nog skerp en winters. Vir Alice weggeduik in die wye kap van haar mantel, egter, was alles genot: langs die modderige paaie waar die takke van die heinings nog kaal rank, verby die heilige put waar die lappies aan die struike fladder, verby die klipmuurtjies en die vervalle huisies van die gehuggies met kinders en kaalvoetvrouens wat hulle van die deure nastaar.

      “Hulle is so arm!” roep Alice uit. “Is dit óns mense, Arthur?”

      “Hulle’s almal ons pagters, nie waar nie, David? Daar’s ’n hele paar honderd van hulle op ons grond.”

      “Maar doen niemand dan iets vir hulle nie?”

      Arthur haal sy skouers op. “Wat moet jy vir hulle doen? Enigiets wat jy probeer, is maar net ’n druppel in die emmer. Hul ellende ken geen einde nie.”

      Alice bly egter nog staar na die krotjies onder die laag-afhangende strooidakke totdat hulle langs die draaiing van ’n sypad die boerdery bereik.

      “Kan ons gaan kyk na die boerdery?” vra sy, haar aandag weer afgelei.

      “Dis te modderig,” sê David vir haar. “In die lente kan ons gaan.”

      Arthur het sy perd egter al teruggetrek. “Gaan julle maar aan,” sê hy, “ek gaan na die stal toe”; en hy kies kortpad deur die velde, te perd oor die hegge heen na die boerdery.

      David en Alice ry alleen voort, verby die kaal populiere wat nog troosteloos staan teen die lug.

      “Arthur is baie lief vir perde,” sê sy. “Het julle ’n goeie stal?”

      “Ons het goeie perde gehad toe my vader nog gelewe het, want hy het baie gejag, maar ek dink dit is verwaarloos sedert hy dood is. Daar’s teenswoordig net my ryperd, en ’n paar koetsperde wat my grootmoeder gebruik as sy uitgaan.”

      “Ek het tuis nooit veel gery nie,” sê sy.

      “Jag jy?”

      “Ek was ’n paar keer op die jagbyeenkomste gewees. Maar eenkeer het ek die vos gesien terwyl hy probeer wegkom van die honde, en daarna kon ek nie meer gaan jag nie.”

      “Dan is daar ten minste twee van ons,” sê hy. “Die mense hier rond jag baie.”

      “Arthur ook – ek weet hoe lief is hy vir jag.”

      Hulle ry oor die bruggie waar die water verbystort oor die stene en die wilgebome die eerste groen vertoon. In die verte, laag teen die reeds verdonkerende lug, het hy haar die toring gewys van die kerk by Baile an Laoich wat hulle Sondae bywoon.

      “Verby die kerk is daar meneer Hardinge se landgoed,” sê hy, “en anderkant die woud is Killcummin Park, die Cunninghams se huis.”

      Hy draai om, en met ’n ander pad ry hulle terug huis toe deur die woud. Die ondergaande son het losgebreek uit die wolke en oor die land uitgespoel. Die velde brand groen en die heuwels en woude vloei weg, die dag verlate, geen mens te sien nie, geen rook eers uit ’n skoorsteen nie, en net die voëls wat sing tussen die takke.

      Alice skud haar kap af om die wind langs haar gesig te laat verbywaai.

      “Dit is so baie soos Engeland,” sê sy, “en tog so vreeslik anders.”

      “Dink jy so?”

      “Merk jy nie hoe wild die land is nie, hoe ongetem? In Engeland is alles so voorspoedig en welvarend, so veilig, maar hiér – hiér … Ek kan dit nog nie verstaan nie.”

      “Ek was nooit weg gewees uit Ierland nie. As jy jou hele lewe lank hier bly, aanvaar jy alles maar soos dit is, en jy dink nooit daaraan om vrae te stel nie.”

      “Ek hou daarvan om vrae te stel,” sê sy. “Ek vra altyd.”

      Hulle keer terug: die huis is reeds voor hulle. Selfs toe hulle deur die oprylaan ry, rus Alice se oë egter nog op die verre landskap, en daar is iets weemoedigs in haar uitdrukking.

      In die ou huis waar lady Harriet en David so lank die stilte gedeel het, het daar weer lewe gekom. Blindings wat jare lank neergetrek was, is opgehaal voor die lentesonskyn, en van die gesluierde vertrekke is die stoflakens verwyder. Bediendes wat nog altyd voor die groot vuur in die kombuis geluier het, het in die sitkamers en portale verskyn met stoflappe en besems. Met ’n skielike en ongekende ywer het die hele huishouding lewe gekry en die verwaarlosing van die jare begin bekamp vir die terugkeer van sir Arthur en sy vrou.

      Lente het gekom met sy skuimende wolke en lang, sagte reënvlae, met ’n waas van groen aan die takke en sleutelblomme in al die woude. Arthur se vriende het hulle die eerste langs die modderige paaie begewe, en joelend met hul perde by die voordeur stilgehou. Hul stemme en gelag het die huis gevul, met geskreeu om nóg whiskey en nóg turf vir die vuur: die oproerige Townsends, en Frobisher en Tom Halliday, Arthur se ou jag- en drinkmakkers. David het hom teruggetrek na die stilte van die biblioteek waar die boeke met hul leerkafte onaangeraak staan, en hier het Alice hom gevind

Скачать книгу