Melodie Omnibus 1. Elza Rademeyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer страница 18

Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer

Скачать книгу

Ek kan my kwalik voorstel daar was ’n tyd dat ek gewoond was aan die geroesemoes van ’n stad.”

      “Ja, dis heeltemal anders hier as in ’n stad,” antwoord Nadia.

      Sy wonder of sy hom sal uitvra na sy lewe in die stad. Maar sy besluit daarteen. Miskien wil hy net so graag van sy verlede vergeet as sy van hare.

      Maar toe sê hy onverwags: “Ek beplan om so oor ’n maand of wat Johannesburg toe te ry om my dogtertjie te gaan haal sodat sy vir ’n paar dae by my kan kuier. Dink jy jy sal teen daardie tyd die spreekkamer vir ’n dag of wat alleen kan beman? As ek die Vrydag hier ry, behoort ek die Maandagaand terug te wees. Jy sal dus net Saterdagoggend en Maandag alleen wees. En indien daar buitenstyd ’n noodgeval opduik, natuurlik.”

      “Ek is nie bang vir die spreekkamerwerk nie. Maar ’n noodgeval … Ek sal nie weet hoe om so iets te hanteer nie.”

      “Hier woon ’n afgetrede mediese dokter in Vissersbaai wat vir my sal instaan. Dokter Strydom. Hy sal die noodsaaklike doen. Ons verwys in elk geval mos ernstiger gevalle George toe, of na die meer gespesialiseerde hospitale in Kaapstad of Port Elizabeth.”

      “Ons kyk maar teen daardie tyd. Dalk het ek teen daardie tyd genoeg selfvertroue om die mas op te kom.”

      “Ek is seker jy sal opgewasse wees vir die taak, want jy het verbasend vinnig geleer.”

      Toe hy niks verder sê nie, maar aan die ander kant van die toonbank bly staan, vra sy huiwerig hoe oud sy dogtertjie is. Meer om die stilte te verbreek as uit nuuskierigheid of werklike belangstelling.

      “Sy is ses. Jy weet natuurlik teen hierdie tyd dat ek ’n geskeide man is. Sulke dinge bly mos nie ’n geheim op klein plekkies nie.” Hy kyk op sy horlosie. “Die dag het nogal vinnig verbygegaan. Sien jou môre. Lekker rus.”

      Sy kyk hom agterna toe hy by die voordeur uitgaan en dink by haarself: Ja, dis net ’n wonderwerk dat háár geheim nog nie uitgelek het nie.

      Nadat sy die spreekkamer gesluit het, ry sy reguit huis toe. Toe sy haar huis binnegaan, hoor sy Dimitri se getimmer in die buitekamer. En toe dit skielik stil raak, wonder sy of hy nie op pad is na haar toe nie. Dis nie dat sy wens hy wil opdaag nie, allermins. Maar tog sal dit die aand verkort, want sy is bang die nag bring weer drome. Hy daag egter nie op nie.

      Toe maak sy maar vir haar iets om te eet en gaan klim in die bed, om tot laataand te lê en lees.

      “Jy lyk beter as gisteroggend,” sê dokter Louw vir Nadia toe hy die volgende oggend die spreekkamer binnekom. “Ek neem aan jy’t beter geslaap as die vorige nag.”

      “Ek het vas en droomloos geslaap, ja, dankie.”

      “Dis môre Saterdag. Wat doen jy môremiddag?”

      “Hoekom vra u?”

      “Ek moet ’n draai gaan maak op George. Jy’s nie lus om saam te ry nie?”

      “Weet dokter dalk iets van verf af?”

      “Hoe nou?” vra hy verbaas.

      Sy glimlag effens. “Ek moet gaan verf koop op George vir my huis se buitemure, maar ek het geen benul wat om te koop nie.”

      “Die mense van die sal jou seker kan sê. Jy sal dus saamry?”

      “As dokter nie sal omgee om die verf in u motor te laai nie.”

      “Daar was al vreemder dinge as verf in my motor se kattebak. Ons kan so tweeuur se kant ry. Dit gee ons tyd om eers te verklee. Ek sal jou daar by jou huis kom oplaai. Ons kan sommer op die dorp aandete ook nuttig, dan spaar dit ons die moeite om by die huis vir ons te kom kosmaak.”

      Saterdagmiddag toe sy by die huis kom, wag Dimitri haar in. “Die skuit is klaar. Sal ons hom vanmiddag gaan toets?”

      “Nee, ek sal nie vanmiddag kan saamgaan nie. Ek gaan George toe om verf te koop.”

      “Kan ek saamry? Dan toets ons môreoggend die boot.”

      “Ek ry nie met my motor nie. Dokter Louw het my ’n geleentheid aangebied.”

      “O. Weet jy watter verf om te koop?”

      “Nee, maar die mense van die verfwinkel sal my seker kan sê.”

      “Watter kleur wil jy die huis verf?”

      “Ek sou ook graag wit mure met ’n groen dak en groen vensterrame wou hê, maar dan gaan jy dink ek na-aap jou. Sê jy watter kleure jy dink ek moet gebruik.”

      “Dit sal mooi lyk as die twee huise eenders geverf is. Het jy ’n stukkie papier en ’n pen? Dan skryf ek die verf se name vir jou neer. En moet ek Thomas vra om te kom verf, of het jy iemand anders gekry?”

      “Ek sal bly wees as jy Thomas sal vra. Hy kan sommer Maandag begin as hy nie op die oomblik met iets anders besig is nie.”

      “Julle sal seker nie só laat terug wees nie. Dit behoort nog lig genoeg te wees om die skuit te gaan toets.”

      “Ek glo nie. Dokter Louw het gesê ons moet sommer aandete ook daar op George eet.”

      Hy lig sy skouers. “Goed, dan los ons dit maar vir môre.”

      ’n Rukkie later, op pad George toe, sê dokter Louw skielik: “Dit klink vreeslik professioneel om elke keer vir my dokter te sê. Jy kan my gerus buite die spreekkamer Wilhelm noem.”

      “Gits, ek gaan sukkel daarmee. Maar ek sal probeer.”

      “Jy’t vinnig die werk in die spreekkamer baasgeraak, so ek glo jy sal nie vreeslik hoef te sukkel met ’n naam nie.”

      “Mag ek vra wat u laat besluit het om ’n spreekkamer hier in De Meer te kom open? Sou dit nie meer winsgewend op Vissersbaai gewees het nie?”

      “Ek glo dit sou meer winsgewend op Vissersbaai gewees het, maar my geld was te min om ’n spreekkamer daar in te rig. Die huis op Vissersbaai waar ek nou woon, was pas klaar gebou toe ons skei. Die egskeiding het my sak geruk. Al wat ek toe kon bekostig, was die huis hier in De Meer waar ek nou my praktyk het. Maar wat het jóú laat besluit om ’n huis hier in De Meer te koop?”

      “Ek het hier grootgeword.”

      “O. Dis interessant.”

      “Ek was ’n aangenome kind,” bieg sy. “Ek het in dieselfde huisie grootgeword wat ek nou gekoop het. Eintlik het ek teruggekom om te probeer vasstel hoe dit destyds gebeur het dat ek in die sorg van Kerneels en Anna Pretorius geplaas is, en om te probeer uitvind wie my biologiese ouers is.”

      “Hier is min van die ouer inwoners oor. Jy moet met tant Jana gesels. Miskien sal sy jou kan sê.”

      “Ek het haar gevra, maar sy kon my niks vertel nie.”

      Dis vyfuur toe hulle met die inkopies klaar is. “Nog ’n bietjie vroeg,” sê Wilhelm. “Maar as jy ook klaar is met alles wat jy wou doen, kan ons maar ’n restaurant gaan soek. Ten minste kan ons dan rustig eet.”

      “Dis reg met my.”

Скачать книгу