Melodie Omnibus 1. Elza Rademeyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer страница 15

Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer

Скачать книгу

glo haar ma en ’n ander vrou daaroor hoor praat. Ek het my ouers toe daarmee gekonfronteer, en hulle het erken dat dit waar is. Maar hulle wou nooit vir my sê wie my biologiese ouers is nie. Net dat my ma dood is, en my pa weg.”

      Hy frons. “Het jy al probeer navraag doen, ek bedoel, agterna? By Engela of haar ma?”

      “Nee. Engela-hulle het kort daarna verhuis. Ek dink Riversdal toe. So ek het geen bron van inligting nie. Maar kom ons vergeet daarvan. Miskien is dit beter dat ek nie weet wie of watter soort mense hulle was nie.”

      Hy ledig sy koppie in stilte. Eers toe hy opstaan, vra hy uit die bloute: “Hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?”

      “Ek het nie tyd gehad om my aan mans te steur nie,” sê sy vinnig, voordat sy op haar horlosie kyk. “Ek is jammer, maar jy sal moet loop, anders gaan ek nooit klaarkry met my werk nie.”

      Nadat hy die kombuis verlaat het, druk sy die deur ferm toe, asof sy hom daarmee uit haar lewe kan verban. Hoe minder hulle met mekaar te doen kry, hoe beter. Dit sal nie lank neem voordat hy gaan agterkom sy steek vir hom dinge weg nie. Sy het nie De Meer toe gekom om haar in strikvrae vas te loop nie, maar om te vergeet … As so iets ooit moontlik sal wees.

      4

      Die nag kom die drome weer. Die weergalming van die skoot. Johny wat val. Die bloedstraaltjie by sy oor en mevrou Koen, van wie hulle die kamer gehuur het, se gille: “Jy’t hom geskiet! Jy’t hom geskiet!”

      Manne van die gereg wat die kamer binnekom. Iemand wat langs Johny hurk en sê hy leef nog. “Bel ’n dokter en ontbied ’n ambulans.” Mevrou Koen wat sê sy het gehoor hoe maak hulle rusie. Iemand wat haar beveel: “Kom saam.”

      Saam, waarheen? Maar sy vra nie, want haar stem is weg. En haar verstand duisel …

      Toe sy wakker skrik uit die nagmerrie, probeer sy daardie nag en die daaropvolgende dae in meer detail onthou. Maar soos die vorige kere steek haar verstand vas.

      “Wie het die sneller getrek?”

      Sy weet nou nog nie hoeveel keer en wie almal dié vraag aan haar gestel het nie. Haar antwoord was elke keer: “Ek weet nie. Hy’t my hand vasgegryp, toe gaan die skoot af …”

      Binne-in haar was alles dood. Haar kop was swaar. Te swaar vir haar nek. Selfs haar bene was anders. Lank en wankelrig. Dit het gevoel of sy op stellasies loop en enige oomblik gaan val.

      Later het sy geglo alles is ’n nagmerrie. Die weergalming van die skoot, die gebeure in mevrou Koen se kamer, die tronksel met sy klein tralievenstertjie en die sleutel wat met ’n onaardse geluid in die slot knars … Sy sou wakker skrik en die son sou helder skyn.

      Op ’n dag het daar ’n man in ’n netjiese pak klere by die tronk opgedaag en haar ondervra. Sy kan nie onthou hoe lank ná die voorval dit was nie. Die een dag was soos die ander, almal in mistigheid gehul. Hy wou alles weet. Wat tot die rusie tussen haar en Johny aanleiding gegee het; hoe lank hulle mekaar geken het; wie haar naaste familie is; of sy ’n bankrekening het …

      Vraag op vraag, totdat hy uiteindelik geloop het. Sy het nie die vrae as buite verband beskou nie, want sy was nog nooit vantevore met tronk- en regsake deurmekaar nie. Sy het gedink dis inligting wat alle gevangenes móét gee. Eers later sou sy uitvind hy is ’n prokureur.

      ’n Dag of wat daarna het nóg ’n man in ’n netjiese pak klere haar met vrae bestook. Toe sê hy hy is ’n advokaat en hy gaan as haar regsverteenwoordiger optree. Sy het gesê sy’t nie geld om hom te betaal nie, hy moet loop.

      Toe vertel hy haar dat iemand anders hom gaan betaal. ’n Anonieme persoon. En dat dié persoon nie net die regskostes sou betaal nie, maar ook aan die prokureur wat by haar was opdrag gegee het om ’n som geld in haar bankrekening te deponeer. ’n Bedrag geld wat sy as geskenk vir haar mondigwording moet aanvaar, al het sy amper drie weke gelede reeds verjaar.

      Sy het steeds geglo dis ’n droom. Nêrens in die wêreld sou jy tog so ’n goeie mens kry nie. Sy het geen familie nie, geen ryk vriende of vriendinne nie. Dalk net êrens in die wêreld ’n biologiese pa …

      Tydens die hofsaak het Joan na vore gekom en getuig dat sy en Johny vier maande lank minnaars was. Sy is ’n weduwee wat goed nagelaat was deur haar man. Sy het vertel hoe Johny haar oorrompel het met sy sjarme en gladde mond. Dit het aan die lig gekom dat hy haar net so bedrieg het soos vir Nadia deur haar te laat glo hy is ’n welaf sakeman.

      Gedurende die vier maande wat hulle saam was, het hy haar finansieel só geruïneer dat sy weer moes begin werk. Hy het haar feitlik nuwe sportmotor – dieselfde motor waarmee hy destyds in George by Nadia opgedaag het – afgeskryf deur dit in sy dronkenskap om te gooi. Die juweliersware waarmee hy Nadia so beïndruk het, was uit Joan se voorraad gesteel.

      Sy het hom weggejaag toe sy uitvind hy het haar geheime kode vir die kluis opgespoor en enorme bedrae geld uit haar bankrekening onttrek. Eers nadat sy hom weggejaag het, het sy agtergekom haar pistool is ook nie meer in die kluis nie. Sy het dit by die polisiekantoor aangemeld, maar niks weer daaromtrent gehoor nie – tot dit aan die lig gekom het dat dit háár pistool was wat afgegaan het tydens die rusie tussen Nadia en Johny.

      Niemand het na vore gekom om vir Johny te getuig nie. Daar kon nie vasgestel word of hy ooit enige vaste werk gehad het nie, en waar hy aan die dwelms gekom het. Joan kon ook geen inligting oor sy herkoms gee nie. Dit was asof hy sommer net op ’n dag uit die lug geval en sy opwagting eers in Joan se lewe en daarna in Nadia se lewe gemaak het.

      Nadia se harde werk werp vrugte af. Sy is tevrede met wat sy vermag het toe haar eerste werksdag by dokter Louw aanbreek. Die binnemure wat so sleg gelyk het, het sy eiehandig geverf. Sy het die plankvloere blink geskrop en gepolitoer. Vir die buitemure se verf sal sy seker iemand moet aanstel. Sy sien nie kans om self die leer te bestyg nie.

      Die werk in die spreekkamer is totaal nuut vir haar. Gelukkig is Santjie nog daar om haar touwys te maak. Op die tweede dag daag tant Jana op vir medikasie. Nadia onthou haar vaagweg. Sy was een van die vroue vir wie haar ma soms gewas en gestryk het. Dit raak ook gou vir haar duidelik dat die tante se geheue nie meer so goed is nie.

      Maar Nadia skryf haar adres af en druk dit in haar handsak. Dalk sal dit die moeite loon om met haar te gaan gesels. Dit kan net wees dat sy iets onthou, of weet hoe dit gekom het dat Nadia die aangenome kind van Kerneels en Anna Pretorius geword het.

      Toe sy ná werk by die huis kom, wag Dimitri haar by haar voorhekkie in. “Dis so ’n lieflike aand, ons kan dit nie vermors nie. Ek het lekker tjops van George af saamgebring, en die hout is klaar gepak. Gaan trek jou gemaklik aan, dan kom braai jy saam met my.”

      Sy weifel lank voordat sy toegee aan sy uitnodiging. Hoe minder hulle met mekaar te doen kry, hoe beter. Maar as sy weier om sy uitnodiging aan te neem, gaan dit nie net onbeskof klink nie, dit kan hom ook agterdogtig maak.

      “Goed, maar wat kan ek saambring?”

      “Niks. Ek het vir ons ’n lekker vars mieliebroodjie gekoop en klaar ’n mengelslaai aanmekaargeslaan. Hulle sê wat nie doodmaak nie, maak vet. Ek glo darem dit sal nie doodmaak nie.”

      Toe sy ’n rukkie later in sy agterplaas by hom aansluit, steek hy eers die vuur aan voordat hy ook op ’n stoel plaasneem. “Hoe hou jy van jou werk?”

      “Ek sukkel maar nog ’n bietjie, veral om die regte pille

Скачать книгу