Liefde deur ’n lens. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler страница 3

Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler

Скачать книгу

… dankie, nee, hulle is op die agterste sitplek. Hier’s die sleutel.” Sy sit al twee arms om klein Dewald en skuif hom na haar ander heup. Terselfdertyd hou sy die sleutels wat oor haar wysvinger hang, uit na hom. “Dankie.”

      Maar die woord kom oor ’n oneindige afstand na hom toe, want met die skuif van die seuntjie na haar ander heup, het haar rompie vir ’n oomblik hoog opgelig, hoog genoeg sodat hy ’n glimp van die bokant van haar been kry, asook – bleddie hel, hy kry nie asem nie! – van swart kant en satyn.

      Hy trek sy asem hoorbaar in, voel hoe al sy bloed binne ’n millisekonde na benede sy middel val.

      “Wat?” Sy druk die sleutel fronsend en effe geïrriteerd onder sy neus in.

      “Jou … rompie.” Voor sy breinselle kan funksioneer en hom keer, vat sy hande haar rooi kantrompie aan weerskante vas.

      Sy voorneme was regtig net om die dekselse rompie af te trek, maar sy vingers raak aan satynsagte vel en bliksem …

      Hierdie keer kan hy die kreun wat oor sy lippe val, nie keer nie. In plaas daarvan om haar rompie af te trek, vou sy hande oor haar bobene, so asof hulle moet seker maak van die tekstuur, en vir nimmereindigende sekondes gly sy vingers oor haar vel.

      Haar oë rek, sy trek haar asem hoorbaar in. “Francois …”

      “Haai – wat maak julle?” roep Amelie van die bopunt van die gang af. “Ons wil eet, mense!”

      Francois gryp die sleutels en draai vinnig weg. Hy hoor Amelie en Nicola se stemme agter hom, maar daar is so ’n geraas in sy kop, hy kan nie uitmaak wat hulle sê nie.

      Wat de hel? Hy is agt-en-dertig, nie verdomp agtien nie. Dit is ’n absolute belaglike situasie. Hy ken die vroumens nie eens regtig nie. Sy het ongevraag deel van sy lewe geword omdat haar broer met sy suster getroud is. Dis al.

      Magtig, hy het nie hierna gesoek nie. Hy maak die agterste deur van Nicola se motor oop en buk vorentoe om die sak op te tel. Blomme. Sy ruik altyd na blomme, arms vol blomme. Haar motor ruik na haar. Vir ’n oomblik voel hy skoon duiselig.

      “Wat maak jy, swaerie?” vra Neethling reg agter hom.

      Francois ruk sy kop op, vas teen die bokant van die motordeur. Swetsend lig hy die sak presente uit Nicola se motor.

      “Wo-a, stadig.” Neethling klap hom op die skouer. “Gee vir my die geskenke, sluit jy die motordeur. Almal wag.”

      Nicola se hart klop so wild, sy is verstom niemand anders hoor dit nie. Soos gewoonlik het Amelie buite onder die groot boom tafel gedek. Die tafel is feestelik versier, soos net Amelie dit kan doen, en kreun onder pragtige skottels kos – daar is skaapboud, gerookte varkboud, en slaaie te kies en te keur.

      Nicola skuif haar stoel onder die tafel in en maak seker sy rangskik die tafeldoek sodat haar bene toe is. Een ding is seker – hierdie rompie pak sy hierna diep en ver weg.

      Die uitdrukking in Francois se oë. Sy hande op haar bobene. Om meer presies te wees: op die boonste, die heel boonste deel van haar bobene. O, liewe aarde, dis nie iets wat sy gou sal vergeet nie.

      Sy het nie ’n naam vir wat sy in sy oë gesien het nie. Dalk het sy haar net verbeel. Wat sy wel weet, is dat geen man nog ooit so na haar gekyk het nie. En die heerlike warmte wat in haar binneste nesgemaak het, is beslis ook nuut.

      En sy soen … Sjoe! Sy het al mans gesoen, maar het beslis nog nooit so op enige soen gereageer soos netnou nie, nie eens die eerste en enigste keer wat sy saam met ’n man bed toe is nie. Toe hy haar agterna smalend ’n koue vis noem, het sy aanvaar sy is seker maar ’n koue vrou.

      Maar nou weet sy daardie man was totaal verkeerd, dis glad nie waar nie. En nou is haar kop vol beelde van ineengestrengelde ledemate, van satynlakens … O, vrek, waaraan dink sy?

      Ontsteld lig sy haar kamera. Foto’s. Dit kan sy doen. Solank daar ’n kamera tussen haar en wie ook al aan die ander kant is, kan sy enigiets hanteer. Sy mik om Amelie af te neem, maar net toe stap Neethling en Francois op die stoep uit.

      Haar kamera lig vanself: klik-klik-klik. Om haar lag en gesels almal en hardloop die kinders rond, maar haar kamera is op een mens gerig – Francois. Sy kop is vooroor gebuig terwyl hy luister na iets wat Neethling vir hom sê.

      Hy lig sy kop, lag.

      Klik-klik-klik.

      Sy kop swaai in haar rigting. Daar is dit sowaar weer. Dieselfde uitdrukking wat sy vroeër gesien het – sy het haar nie verbeel nie.

      Klik-klik-klik.

      “Nicola.” Haar ma trek aan haar arm. “Ons wil eet, sit nou eers jou verskansing weg.”

      Nicola knip haar oë. Vir ’n paar oomblikke was sy op ’n ander plek. Sy haal die kamera stadig van haar nek af, haar vingers skoon bewerig. Sjoe.

      “Uiteindelik!” roep Amelie vrolik. “Het almal ’n sitplek? Francois, daar is ’n oop stoel langs Nicola. Pa, sal jy asseblief vir ons bid?”

      Langs haar trek Francois die stoel uit. Hy gaan sit en skuif onder die tafel in. En sy word bewus van elke sentimeter van die manslyf hier langs haar.

      Dis skielik warm. Baie warm. Sy gooi haar hare oor haar skouer.

      Asem … hoekom kry sy nie asem nie? Sy skep ’n diep teug en sonder om haar kop te draai, steek sy haar hande na weerskante toe uit, soos wat hulle altyd doen wanneer daar gebid word.

      Haar ma se hand vou om haar regterhand. Haar pa begin bid. Francois se hand tel haar linkerhand op, sy vingers verstrengel met hare. Haar pa bid nog steeds. Nie vandag ’n lang ene nie, asseblief, Pappa. Maar Kersdag se tafelgebed is ook ’n dankgebed en daar is so baie om voor dankie te sê, sy weet dit.

      Francois se duim beweeg oor haar duim. Haar oë vlieg oop. Sy verbeel haar nie, daar doen hy dit weer.

      “… amen,” sê haar pa.

      Blitsvinnig ruk sy haar hand weg.

      Amelie lig haar glas: “Op Nicola se terugkoms,” glimlag sy en almal lig hulle glase.

      “Skep asseblief en stuur die bakke aan,” beveel Amelie toe almal ’n sluk van hulle wyn geneem het. “Ek weet nie van julle nie, maar ek is nou honger.”

      “Dis Kersfees,” sê haar ma. “En al ons kinders is hier. Ek is so bly jy kon betyds ’n vlug kry, Nicola.”

      Nicola gee haar ma ’n drukkie. “Ek ook. Ek sou heelwat vroeër teruggekom het, maar ek was nog nie klaar nie. En ek wou eintlik by Turkye …”

      “O, aarde, nee, my kind. Dinge is darem op die oomblik net te deurmekaar in daardie deel van die wêreld. Ek is baie bly jy het eerder huis toe gekom.”

      “Jy het die hele vlugteling-hartseer ervaar terwyl jy in Italië was?” sê-vra René. “Ek het so aan jou gedink toe ons die foto van die seuntjie in die rooi hempie sien, die enetjie wat verdrink het. Ek dink nie daar’s ’n mens wat nie deur daardie beeld geraak is nie. Ek en Neil was bekommerd oor jou.” Neil knik om sy vrou se woorde te beaam.

      Nicola kyk af na haar bord kos. René se woorde

Скачать книгу