Die dinge van ’n kind. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver

Скачать книгу

met skoolseuns sukkel nie.” Sy staan op en slenter terug na die glasdeur toe. “Ek sal hulle maar vir jou en Suna los. Ek gaan iemand roep om vir ons koffie te bring.”

      In hierdie huis doen die wit mense selfs minder as in enige ander huis waar ek al was. ’n Bataljon bediendes in spierwit uniforms beweeg geluidloos soos spoke oor die volvloermatte. Sodra jy een van hulle nodig kry, verskyn sy soos Aladdin se gedienstige gees voor jou. Jy hoef nie eens die moeite te doen om ’n lampie te vryf nie.

      Dis ’n dubbelverdiepinghuis wat my laat voel asof ek in ’n romantiese rolprent speel, iets oor oorlog en slawe in die suide van Amerika. Die balkon waarop ek sit, met nagemaakte Victoriaanse traliewerk wat toegegroei is onder pers bougainvillea, loop reg rondom die huis. In die ingangsportaal, so groot soos ’n skoolsaal se verhoog, is een van daardie breë trappe wat ek nog net in flieks gesien het. Die soort waarop ’n beeldskone aktrise in ’n balrok sal verskyn, ’n oomblik soos ’n soutpilaar sal staan, en dan soos ’n engel ondertoe sal sweef.

      Ek kan sien alles om my het geld gekos, van die koue marmervloer in die badkamer tot die wit langhaarmat wat soos ’n lui ysbeer in een van die gastekamers lê, maar ek moet erken die meeste van die goed is nie vir my móói nie. Ek kan nie help om weer aan my ma en haar weduweeskruik vol gesegdes te dink nie. Die mense met die meeste geld, sê sy graag, het gewoonlik die minste smaak.

      Nie dat my ma juis klasse in goeie smaak kan aanbied nie. Toe ek haar laas jaar ’n artikel in Sarie wys waarin ornamente soos die drie porseleineendjies teen ons gangmuur as ’n laagtepunt in kitsch afgekraak word, het sy net gelag. Maar ’n maand later was die eendjies weg. Net drie donker kolle teen die muur waar hulle jare lank roerloos gevlieg het. My ma probeer darem, al is daar nog baie dinge in ons huis wat Sarie se binnehuisversierder moedeloos sal maak.

      Maar Dalena se ma het óf nog nooit Sarie gelees nie óf sy het genoeg selfvertroue om haar nie te laat voorskryf wat sy in haar eie huis mag hê nie. Die mure is vol prente van kindertjies in verflenterde klere met oë so groot soos borde en traandruppels wat soos deurskynende blare teen hulle wange vassit. Of stormagtige seetonele geskilder deur iemand wat nog nooit die see gesien het nie, met branders soos blou vlamme en skuim wat soos lepels geklitste room op die vlamme geskep is. Ek het eers gedog dis dalk Moderne Kuns, waarvan ek niks weet nie. Maar toe ek weer ’n slag na Dalena se maer ma op ’n gesinsfoto kyk, met so ’n pers skynsel in haar hare en haar mond op so ’n stywe plooi getrek, het ek besluit sy lyk ook nie soos een wat veel van Moderne Kuns sal weet nie.

      Ek trek my skryfblok nader om vir my broer ’n brief te skryf. Ek sou graag vir hom wou vertel wat op die partytjie gebeur het, maar ek is bang hy terg my. Ek sou graag vir iémand wou vertel dat ek toe darem teen die einde van die aand ’n soen gekry het! En nie sommer só ’n soen nie, hoor jy, Dalena.

      Dit was terwyl Nights in White Satin gespeel het. Ons het buite in die donker gesit en … wel, nou nie gesels nie, eintlik maar net gesit. Ben is mos nie juis ’n kletskous nie. Nie die soort ou wat sal spog oor wat hy alles met ’n meisie regkry nie, het ek myself getroos. Dalena sal natuurlik sê dis oor hy nog niks reggekry het nie. As Dalena maar weet!

      Dis seker dié dat hy so min praat, het ek agterna gedink, vir die eerste keer die aand so sprakeloos soos hy. Hy spaar sy tong vir beter gebruike. My mond het gevoel soos wanneer ek te veel taai toffies gekou het. Maar ek kon nie ophou glimlag nie.

      En my kamermaat kan ook nie altyd álles wil weet nie.

      Londen

      8 Augustus I992

      Liewe kind

      Al wat ek jou vandag kan gee, is ’n klein koerantberiggie. Hoe ouer ek word, hoe groter word die gapings in my woordeskat. Ek het gedog die teenoorgestelde sou gebeur: dat ek op die ou end alles sou kon sê wat gesê kan word, as ek net aanhou oefen.

      Ek het gedog om woorde op papier vas te pen sou wees soos om vis te vang. Hoe groter die ervaring, hoe groter die vangs. Nou weet ek dis nie noodwendig waar nie. Dit kan gebeur dat jou visnet deur die jare verslete en vol gate word, dat jy nie meer die moeite doen om dit heel te maak nie omdat jy nie meer omgee as die klein vissies wegkom nie – net die heel grootstes is nog vir jou ’n uitdaging.

      Daar is ’n paar dinge wat ek probeer sê, net ’n paar, maar omdat ek so sukkel om die regte woorde te vang, glip al die ander deesdae deur my vingers. Ek was nog nooit goed met small talk nie, ek was nog altyd ’n fiasko met ’n skemerkelkie in die hand tussen mense wat ek nie behoorlik ken nie, maar deesdae sukkel ek selfs om met my vriende te praat. As ek nog van vriende kan praat.

      Seker dié dat ek ’n groeiende behoefte het aan hierdie briewe, om dinge met jou te deel wat ek met niemand anders kan deel nie, al is dit net een maal ’n maand. (Of is dit net omdat ek oor my tienerjare begin skryf het dat ek nou weer ’n tienderjarige behoefte ontwikkel het om ’n soort dagboek te hê?)

      Heimwee. Dis die woord waarna ek in my vorige brief gesoek het. Heim soos in die Duitse Heimat, wee soos in weemoed. Hier is ’n storietjie, onlangs in ’n Afrikaanse koerant opgespoor, oor heimwee.

      Afrikaans? Ja, noudat dit nie meer nodig is om my kop in skaamte te laat hang oor ek uit daardie vervloekte land kom nie, waag ek dit soms om by South Africa House aan Trafalgar Square in te stap, waar ek deur ou koerante en tydskrifte blaai op soek na – wat? Geloof? Hoop? Liefde? Wat ek vind, gewoonlik, is wantroue, wanhoop en haat.

      Maar soms is daar darem iets wat ek nie in die plaaslike pers raakgesien het nie. Of miskien het ek net so gewoond geraak daaraan om die spasies tussen die reëls in Suid-Afrikaanse koerante te lees dat ek nie meer die reëls self in Britse koerante kan lees nie.

      Londen. – Wat maak ’n mens as jou hart in die verre vreemde met ’n punt na jou geboorteland in Afrika trek? Jy bou vir jou ’n modderhuis in die agterplaas.

      (’n Modderhuis! het ek gedink. En gretig verder gelees.)

      Dis presies wat mev. Desiree Ntolo, oorspronklik van die Kameroen, gedoen het – tot die ergernis van haar bure en die stadsraad van Dagenham, ’n nywerheidsbuurt oos van Londen, wat haar nou aangesê het om die bousel binne sewe dae af te breek. Mev. Ntolo het daardie modderhut eiehandig gebou.

      (Hóé? wou ek weet. Hoe bou ’n mens ’n modderhut?)

      Sy het met ’n pik en graaf grond, klippe en gruis in haar tuin uitgegrawe, water op die grond gegooi en daarna stroke modder met haar voete uitgetrap. Sy gaan gewis nie die hut in die agterplaas van haar meenthuis afbreek nie, sê sy. “Die modderhuis is in niemand se pad nie. Hulle moet my regte ook in ag neem. As ek nie kan teruggaan Kameroen toe nie, wil ek ten minste iets hê wat my daaraan herinner.”

      (Kan jy raai wie se kant kies ék?)

      Liefde

      M.

      Hoe sal ons weet wie se kant om te kies?

      “En nou gaan Suid-Afrika ook uiteindelik TV kry,” grinnik Simon agter die stuurwiel van Pa se nuwe Kombi. “Ons sal ons begin verbeel ons lewe in ’n beskaafde land!”

      “Ja, ek hoor hulle begin volgende maand met toetsuitsendings in Johannesburg.” Ek staar deur die ruit. Ek is moeg daarvan om heeldag net groen te sien. Dis veronderstel om herfs te wees, maar in hierdie streek steur die plante hulle skynbaar nie aan seisoene nie. “Hier in die grammadoelas sal ons dit natuurlik nog nie kan opvang nie.”

      In die Kaap sal die bome nou hulle blare begin verloor, die wingerde oranje word, die

Скачать книгу